Konflikhantering in jou huwelik

Gesonde konflikhantering in jou huwelik lê die hoeksteen vir ’n gesonde huwelik! ‘n Wyse mentor het op ’n slag vir my gesê dat ’n huwelik sonder konflik reeds verby is. Die rede is eenvoudig, het hy uitgebrei: wanneer daar geen konflik in ’n huwelik is nie, is een maat waarskynlik altyd besig om in te gee tot sy/haar nadeel, of een of albei maats het reeds emosioneel uit die huwelik getree. Konflik op die lange duur kan weer veroorsaak dat jou huwelik toksies raak. Deur sielkundige Gerda Kriel

Laat groei jou huwelik deel 2: Konflikhantering in jou huwelik

Om gelukkig getroud te wees is die oogmerk waarmee die meeste paartjies die knoop deurhak. Dikwels hoop ons vir ’n maklike pad saam, en beplan ons om vir jare saam te wees – tot die dood ons skei. Tog, as jy kyk na die egskeidingsyfer, dan is dit duidelik dat huwelike nie altyd ’n sprokiesverhaal is nie. As sielkundige wat ook met paartjies ’n pad stap, het ek oor die jare gesien dat die gelukkigste huwelike die huwelike is waaraan daar dikwels met sorg gewerk word. Soos enigiets, sal jou huwelik verweer as jy nie tyd, moeite en liefde daaraan skenk nie. Konflikhantering in die huwelik is die tweede van drie artikels waar ons fokus daarop om vir jou praktiese wenke te gee oor hoe jy jou huwelik kan laat groei.

Lees Laat groei jou huwelik deel 1: Vyf wenke om kommunikasie in jou huwelik te verbeter hier

Laat groei jou huwelik deel 3: Steek die vlam weer aan

Konflikhantering in jou huwelik; agressiewe konflik versus gesonde konflik

Konflik in jou verhouding is die teken van ’n lewende verhouding, tog is daar ’n kloof tussen agressiewe konflik en gesonde konflik. Om daardie kloof te oorkom kan die reddingsboei wees wat jou huwelik nodig het. Wanneer konflik oor ’n lang duur plaasvind, en een, of selfs beide maats negatief daardeur geraak word, kan die huwelik ’n toksiese plek word waarin huweliksmaats bitter seer kan kry, en selfs diep verwond kan word.

Die impak hiervan word veral beleef wanneer die huweliksmaats reeds kinders het. Om te voorkom dat jou huwelik toksies raak, is daar eenvoudige waarhede oor konflik wat julle kan aanleer om konflik op ’n gesonde wyse te benader.

Vyf eenvoudige waarheide oor konflikhanterig in jou huwelik

1. Die probleem is die probleem

Wanneer maats voor groot konflik te staan kom,is die versoeking daar om van mekaar die probleem te maak. Wanneer julle egter besef dat die probleem die probleem is, en nie mekaar as die probleem beskou nie, kan julle meteens julle posisie verskuif vanaf opponent (ek vs. jy) na geällieerdes (ons vs. die probleem).

Hierdie eenvoudige herposisionering van julle verhouding met die probleem, kan radikale skuiwe tot gevolg hê vir die wyse waarop julle probleme oplos en saam uitdagings te bowe kom.

Tegniek

As julle agterkom julle begin mekaar aanval, neem ’n oomblik en definieer saam die eintlike probleem. Gee dit ’n naam en maak seker julle stem saam oor wat die eintlike kwessie is. Nou kan julle praat oor hoe om die probleem op te los.

2. As jy vanuit jou emosies reageer gaan jy nie logies kan dink nie

Een van die grootste foute wat paartjies maak, is om in die hitte van die oomblik iets te wil oplos.

konflikhantering in jou huwelik

Sodra julle beide emosioneel geaktiveer is, vind daar ‘n ‘kortsluiting’ in die brein plaas, en julle beweeg in veg/vlug sones in.

As daardie sentrum in die brein geaktiveer word, skakel dit die frontale lobbe (wat verantwoordelik is vir hoër orde denke en redenasie) uit, en funksioneer mens vanuit ’n baie primitiewe area in die brein. Dit beteken dat konflik meestal geweldig kan eskaleer, en selfs onmoontlik kan raak om op daardie oomblik te verwerk.

Tegniek

Wanneer een of albei van julle begin voel julle redenasies raak van die punt af of onlogies, en jy voel jy kan nie meer helder dink nie, roep ‘n ‘time-out’. Neem 30 minute (of selfs langer) waarin julle apart iets heeltemal anders gaan doen. Dit sal julle help om uit die veg/vlug posisie te beweeg, en kan julle help om weer rasioneel te dink.

3. Jou fisieke behoeftes kan konflik eskaleer

Lae bloedsuiker, honger of moegheid, is alles fisieke behoeftes wat kan veroorsaak dat konflik eskaleer en dat jy sukkel om dit weer beheerbaar te maak. Soms veroorsaak dit krapperigheid en geïrriteerdheid wat jy sukkel om te identifiseer.

Tegniek

Maak seker jy en jou maat is uitgerus en gevoed voordat julle kwessies bespreek. Dis nooit ’n goeie idee om na 10 in die aand iets met mekaar te bespreek nie omdat dit noodwendig sal lei tot moegheidsmisverstande!

4. Almal wil gehoor word

Die meeste konflik waarmee paartjies sukkel, ontstaan omdat iemand voel hulle word nie gehoor nie. Wanneer ons voel ons word nie gehoor nie, neig ons om ons pogings om gehoor te word te eskaleer – ons praat dalk harder en vinniger, wat vir jou maat nou weer die boodskap stuur dat jy aanvallend is.

Solank iemand aangeval voel, kan hulle nie gehoor voel nie!

Maak seker jy hoor jou maat, en maak seker hy hoor jou!

Tegniek

Om te herhaal wat jou maat gesê het, deur te sê: ek hoor jy het nou dit gesê, het ek jou reg gehoor en verstaan, Moet nooit aanneem jy weet wat jou maat deur iets bedoel nie – vra en maak seker!

5. Jou huwelik moet nie ’n slagveld wees nie

Jy en jou maat is in een span. As julle huwelik meer soos ’n oorlogsone lyk, waar almal gedurig om mekaar katvoet loop, of daar is geweld of brutaliteit wanneer konflik plaasvind, is dit dalk nodig om ’n terapeut te sien, of iemand wat vaardig is daarmee en wat verhoudingsdinamika goed verstaan sodat hulle julle kan lei uit die slagveld, na ’n vredesooreenkoms.

Wenk

Kies ‘n terapeut by wie BEIDE gemaklik  voel. As een of albei van julle reeds in individuele terapie is, moet asseblief nie een van julle terapeute as egpaar gaan sien nie. DIt sal onmoontlik wees vir daardie persoon om objektief te bly, wat uiteindelik tot julle verhouding se nadeel kan wees. Kies iemand wat julle saam sal sien, en by wie julle aanklank vind.

Gesonde konflikhantering lê die hoeksteen vir ’n gesonde huwelik! Jou huwelik kan vir jou ’n plek van groei en geluk wees, maak dus seker die atmosfeer is gunstig vir die groei wat jy vir jou en jou maat begeer!


Gerda Kriel

Gerda Kriel is ’n kliniese sielkundige wat in Somerset-Wes praktiseer. Besoek gerus haar webwerf helderbergpsychology.com

Stylvol

Handige ekstra wenke en raad, spesiale afslag en wenke, slegs vir die binnekring.

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Oor ons

Stylvol sosiale media

Nog Stories
Angstige kinders? Hier is ses redes
error: Content is protected !!