Alles wat jy moet weet oor twienervelsorg. Daai eerste puisie of merkie skok ’n mens gewoonlik tot ’n besef dat ‘my kind besig is om groot te word’. Ons het die kenners en kundiges gevra vir raad, van hoe en wanneer om met ’n velsorgroetine te begin tot watter bestanddele om te vermy. Deur Suzanne Kotzé
Twienervelsorg: Wanneer moet my twiener met ’n velsorgroetine begin?
“Begin met die aanvang van puberteit. Dit wissel van 10-14 vir meisies en 12-16 vir seuns. Die eerste tekens van puberteit is gewoonlik ‘n meer olierige vel met swart- en witkoppies,” sê Kaapse dermatoloog en eienaar van dermastore.co.za, dr. Ian Webster.
3 redes om jou twienervelsorgroetine so eenvoudig moontlik te hou
Kaapse dermatoloog dr. Suretha Kannenberg deel haar mening
1. Gereelde velsorg is ’n nuwe ding
Die belangrikste in hierdie ouderdomsgroep is om die velsorg so eenvoudig as moontlik te hou. Hier en daar mag daar van hulle wees wat hou van klomp klein botteltjies en snaakse rome, maar vir die meeste van hulle is gereelde velsorg ‘n nuwe ding.
2. Twieners is haastig
Hulle is gewoonlik haastig om eerder ander goed te doen, so gekompliseerde velroetines gaan nie werk nie. ’n Mens moet dit so doenbaar as moontlik hou.
3. Ryk rome kan fyn rooi puisies veroorsaak
Die ander rede om dit eenvoudig en nie te uitspattig te hou nie, is dat veral hulle velletjies geneig is om periorale dermatitis (fyn rooi puisies rondom hulle monde) te ontwikkel met baie ryk rome.
Hoe moet ’n twienervelsorgroetine lyk?
“Op 10 begin ons so hier en daar swartkoppies sien, maar die hormone het by die meeste van hulle nog nie ingeskop nie,” vertel dr. Suretha Kannenberg.
1. Gesigwasmiddels wat sagkens werk
’n Mens kan begin met gesigwasmiddels wat sagkens reinig vir ’n normale vel. Een keer per dag is voldoende. Soos wat daar hier en daar swartkoppies begin verskyn, kan ’n mens begin beweeg na gesigwasmiddels wat meer vir aknee-geneigde (acne-prone) velle ontwerp is.
2. Eenvoudige vogroom
Hou vogrome ook eenvoudig. Aanvanklik meer vir normale vel en later soos dit meer olierig word, kan ’n mens oorbeweeg na die vir meer olierige velle.
3. Sonskerm
Sonskerm is soos altyd baie belangrik. Maak seker dat dit daarop aandui dat dit ‘non-comedogenic’ is – dit sal dus nie aanleiding gee tot swartkoppies nie.
Vermy hierdie bestanddele
Dr. Suretha sê: “In die algemeen is dit belangrik om weg te bly van salisiel- en glikoliese sure in hierdie ouderdomsgroep. Hulle staan nog op die vooraand van die gebruik van gesigprodukte, gewoonlik met velkwaliteite baie nader aan die kinderjare as aan tienerjare. Hulle is baie geneig daartoe om irritasies met sulke sterk produkte te ontwikkel.?
5 Moet-doen leefstylwenke vir elke twiener
Charize Neill van Eau Thermale Avène deel:
1. Hou jou foon skoon.
Vee jou foon met ‘n antibakteriële lappie af sodat die kieme en vuilheid daarop nie op jou gesig beland nie.
2. Skoon handdoeke, waslappe en grimeertoerusing is belangrik.
As jou twiener grimering gebruik, maak seker dat grimeerborseltjies en sponsies gereeld gewas word.
3. Hou jou hande weg van jou gesig.
“Moenie aan jou gesig vat of ken-in-die-hande sit nie. Dit kan bakterieë versprei, en jy kan vel wat reeds ontsteek is, verder irriteer.
4. Wees versigtig watter haarprodukte jy gebruik.
Vermy haarprodukte met te veel parfuum, olie of jel. As dit op jou gesig beland, kan dit jou porieë verstop.
5. Was jou hare gereeld.
Olierige hare kan bydra tot meer olie op jou vel, en kan bydrae tot aknee om die haarlyn.
Grimering en gesigwas gaan hand aan hand
“As jy jou dogtertjie leer hoe om grimering aan te sit of haar toelaat om daarmee te speel, leer haar ook hoe om grimering reg te verwyder. Al is sy hoe klein. Hierdie twee moet van jongs af hand aan hand gaan.”
Het jou twiener ekseem? Lees gerus hier
Het jou twiener aknee? Lees gerus hier
Dr. Kannenberg se praktyk is in Durbanville, Kaapstad, maar jy kan ook ‘n aanlyn konsultasie met haar doen. Klik hier: dr.derma.co.za
Die artikel is geborg deur Eau Thermale Avène. Besoek gerus hulle webwerf: www.eau-thermale-avene.co.za
PFZA/202202010