fyn hare
fyn hare

21 beste wenke vir fyn hare

Volg dié wenke vir fyn hare en keer dat jou hare heeldag pap hang of vasgepleister teen jou kop sit. Deur Suzanne Kotzé

Onthou fyn hare is nie gelyk aan dun hare nie. Dit het te doen met hoe dik of dun ’n enkele haarskag is en dit kan reguit of krullerig wees.

Beste wenke vir fyn hare

1. Was jou hare op die regte plek

Fyn reguit hare is geneig om makliker vuil te word. Konsentreer daarop om jou kopvel te was en los jou punte. 

2. Kies sjampoe wat volume gee

“Die regte sjampoe (en opknapper) is jou eerste stap om jou fyn hare voor te berei. Hou by sjampoe wat volume gee,” is Nastassia Viljoen van Tosca Salon se raad. 

3. Moenie te veel skrop nie

Gebruik jou vingerpunte om jou kopvel te was, maar wees versigtig om te veel te skrop, want dit kan jou kopvel oormatig stimuleer om nog meer olie te maak. Fyn hare koek ook makliker, dit is beslis nog ’n rede om eerder sagkens te was.

4. Opknapper net aan die punte

Wend opknapper slegs vanaf die middel van jou hare tot by die punte aan. “En onthou ’n teelepel-grootte professionele opknapper of ’n eetlepelvol winkel- opknapper is genoeg. Te veel opknapper kan jou hare laat pap hang,” sê Shelene Shaer van Tanaz Hair.

5. Spoel jou hare goed af 

Ons is dikwels te haastig met afspoel en oortollige opknapper of sjampoe kan jou hare gouer laat vuil lyk en pap hang. 

As jy dink jy het genoeg gespoel, spoel weer.

6. Moenie te veel borsel nie.

Kam jou hare om koeke uit te kry, maar wees versigtig om jou hare te veel te borsel, want dit kan jou kopvel meer olierig maak. Het jy fyn krulhare, weet jy waarskynlik reeds dat te veel borsel jou hare soos ’n leeu se maanhare kan laat lyk. 

7. Blaas kop-onderstebo droog 

wenke vir fyn hare drooglbaas
Hou jou kop onderstebo en blaas jou hare droog terwyl jy met jou vingers daardeur vroetel

As jy lang hare het, kan jy ’n borsel met ’n plat spaan (paddle) gebruik om jou hare van jou kopvel tot by die punte (steeds kop-vooroor) droog te blaas. “Wanneer jy klaar is, hou jou kop nog sowat tien sekondes lank onderstebo sodat jou hare koud kan word, of blaas dit met jou haardroër op sy kouelugstelling,” is Shelene Shaer van Tanaz se raad. 

8. Los jou hare om jou borsel

Skaf ’n ekstra ronde borsel of twee aan en los die borsels teen jou kopvel nadat jy dit klaar drooggeblaas het. Stel jou haardroër op koud en blaas oor die borsels. 

9. Stilering: minder is meer 

Te veel stileerprodukte maak jou hare swaar en laat hulle plat hang. Begin met minder eerder as meer en gebruik liewer later nog ’n bietjie indien nodig. 

10. Vermy serums met ’n oliebasis

“Serums kan fyn hare olierig laat lyk. Kies eerder ’n sproei soos ghd Final Shine Spray of Redken Frizz Dismiss Anti-Static Oil Mist om opwiphaartjies in toom te hou,” is Nastassia se raad.

Nog ’n goeie wenk vir opwiphaartjies is om haarspoei op jou kam of vingerpunte te spuit en liggies oor die opwiphaartjies te vee.

11. Kies stileerprodukte wat jou wortels lig

“Gebruik mousse of ’n sproei wat die wortels lig op jou wortelarea,” sê Nastassia. 

wenke vir fyn hare mousse

12. Gee tekstuur aan jou hare 

Skep meer tekstuur met produkte soos droë sjampoe, seewater-spuitmiddels of ‘taai’ poeiers.


INOAR Liso com Ondas Leave-In
Mist 200ml (Inoar.co.za en uitgesoekte salonne)
Schwarzkopf Osis Volume Up is spesifiek vir langer hare wat met volume sukkel geskep. Beskikbaar by uitgesoekte salonne.

13. Krul jou onderste laag hare vir ekstra volume 

Krulle is wonderlik vir volume. As jy egter nie die gekrulde voorkoms wil hê nie, lig die boonste deel van jou hare op en krul net die hare daaronder. Gooi dan die boonste hare weer bo-oor die gegolfde dele. 

14. Pluiskam vir ekstra volume

Jy kan jou hare ook effens pluiskam, maar onthou daar is ’n fyn lyn tussen “groot hare” en volheid. . Moet nooit die boonste/buitenste laag van jou hare pluiskam nie. Bind die boonste hare weg en pluiskam die hare net daaronder. Laat sak dan jou boonste hare bo-oor en spuit liggies met haarsproei. 

15. Verander jou paadjie

Verander jou paadjie elke nou en dan. Jou hare leer met die tyd om platter te lê waar jou paadjie is. Deur jou paadjie op ’n ander plek te dra, kan jy meer volume kry. 

16. Blond kan beter wees

Blonde kleursel of bleikmiddel droog jou hare uit, maar verleen ook meer volheid aan fyn hare.

17. Wees versigtig vir te veel lae

Wenke vir fyn hare: wees versigtig vir te veel lae. Kies tekstuur eerder as lae.

In plaas van lae dwarsdeur jou haarsnit, vra jou stilis om eerder net lae of tekstuur aan die boonste laag te gee,” is Nastassia se raad.

18. Kort style is ’n goeie opsie. 

“Afhangend van hoe fyn jou hare is, is dit dalk beter om jou hare kort te hou,” is Danita Pendelbury van Tosca Salon se raad. 

19. ’n Permanente golwing is ook ’n goeie opsie

’n Sagte permanente golwing (of perm soos baie van ons dit ken) kan ’n goeie opsie wees vir volume. Jy hoef nie stywe krulletjies te hê soos in die tagtigs nie, eerder groter sagte krulle. 

20. Hande uit jou hare

Vat so min moontlik aan jou hare. Fyn hare is geneig om olierig te wees en as jy te veel daaraan raak, is dit kort voor lank nog meer olierig. 

21. Oppas vir hitteskade

Fyn hare is meer geneig om te breek en te beskadig omdat dit fyner is. Wees daarom versigtig vir hitteskade. Onthou om altyd hittebeskerming te gebruik. As dit by haardroërs kom, is die Laifen Wave ‘n goeie opsie aangesien lugkrag eerder as hitte gebruik word om hare droog te maak. Die meeste gewone haardroërs bereik dikwels temperature van meer as 100ºC en dit kan jou hare beskadig. Die maksimum temperatuur wat Laifen Swift kan bereik, is 80ºC.  Die hoogstegnologiese haardroër het ook ’n spesiale funksie wat die lugtemperatuur meer as 100 keer per sekonde meet en daarvolgens aanpas. Die haardroër gebruik minder hitte, wat ook jou kopvel en hare help gesond hou.

Die Laifen Swift haardroër is beskikbaar in Pearl White, Matte Black en Silver Blue R4 499 by @home and aanlyn Laifentech.co.za. en Bash.com Dit het ’n twee jaar waarborg. Besoek gerus Laifentech.co.za vir meer inligting.
Stylvol

Handige ekstra wenke en raad, spesiale afslag en wenke, slegs vir die binnekring.

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Oor ons

Stylvol sosiale media

Nog Stories
5 Voordele van tuis-afskilfering
error: Content is protected !!