9 Redes waarom jy met droë hare sukkel

Voel jou hare dalk die laaste ruk droër as gewoonlik? En wat is nou eintlik die verskil tussen droë en beskadigde hare?

Hier is 9 mees algemene oorsake van droë en beskadigde hare en hoe om dit te versorg. Deur Justine Kroes

Is jou hare droog of beskadig?

Droë en beskadigde hare word maklik met mekaar verwar, maar dit is nie heeltemal dieselfde nie.

Droë hare het ’n tekort aan vog en natuurlike olies. Dit voel dikwels grof, lyk dof en raak maklik deurmekaar.

Beskadigde hare is hare waarvan die beskermende lagie verswak is, gewoonlik weens hitte, kleurbehandelings of te veel borsel. Dit kan maklik breek, kroes en gesplete punte hê.

Die twee kom ook dikwels saam voor. Jou hare kan dus tegelykertyd droog én beskadig wees!

Die goeie nuus? Klein veranderinge aan jou haarversorgingsroetine kan reeds ’n verskil maak. Soms het jou hare nie nóg ’n produk nodig nie, maar eerder ’n bietjie minder hitte, sagter behandeling en die regte sorg.

Hier is 9 redes waarom jy met droë of beskadigde hare kan sukkel:

1. Jy was jou hare elke dag

Om daagliks hare te was, stroop jou hare (en kopvel) van enige natuurlike olies, hierdie olies is noodsaaklik vir ’n gesonde kopvel en so ook bevogtigde hare.

Jou natuurlike olies hou die hare bevogtig, glad en beskerm boonop elke haar.

Indien jy natuurlik met droë hare sukkel, laat ’n paar dae tussen wasse en kies ’n sagte, hidrerende sjampoe.

 2. Jy gebruik te veel hitte

Probeer om nie elke dag ’n warmstileerder soos ’n haardroër, haaryster of krultang te gebruik nie. Die oorgebruik van hierdie warmstileerders beskadig nie net jou hare nie, maar laat jou hare droog en vaal lyk

Dit is baie belangrik om seker te maak jou hare is droog voordat jy met jou krultang of haaryster begin werk, anders sal jy jou arme nat hare verskroei tussen jou haaryster se plaatjies.

Probeer ook alternatiewe haarstileermetodes soos die “heatless curl method” of laat jou hare partykeer natuurlik droog word om dit ’n ruskans te gee.

3. Jy gebruik nie hittebeskerming nie

Die grootste sondebok na te veel hittegebruik is om glad nie hittebeskerming op jou hare te gebruik wanneer jy wel met hitte stileer nie.

Indien jy gereeld ’n haardroër, haaryster of ’n krultang gebruik, is ’n goeie kwaliteit hittebeskerming ’n moet. Onthou om jou hare goed te verdeel en seksie vir seksie aan te spuit, anders spuit jy die produk net op jou haarpunte of bo-op jou hare.

Hier is van ons gunstelinge om te gebruik:

4. Kleurbeskadigde hare

’n Algemene oorsaak van droë hare: die oorgebruik of verkeerde gebruik van haarkleur of chemikalieë op hare beskadig die haarvliesie of eerder die buitenste beskermende lagie van die haar. Hierdie buitenste lagie is noodsaaklik om die vog binne jou hare te hou, maar as die lagie beskadig word is dit moeilik om hare te beskerm en te bevogtig.

Haarkleur kan veroorsaak dat jou hare growwer, droër en meer geneig tot breek raak. Gekleurde hare het dikwels ekstra sorg nodig, so maak seker jy gebruik produkte wat spesiaal daarvoor ontwikkel is.

5. Jou water se pH-vlak kan ook ’n rol speel

Het jy al ooit gewonder of die water waarmee jy jou hare was, dalk ’n invloed op die toestand daarvan het? Die pH-vlak van water kan wel ’n rol speel. Water wat te alkalies is (met ’n hoë pH-vlak), kan veroorsaak dat die buitenste lagie van jou hare effens oopstaan. Dit kan jou hare growwer laat voel, makliker laat kroes en dit moeiliker maak om vog te behou.

Harde water, wat meer minerale soos kalsium en magnesium bevat, kan ook mettertyd op jou hare opbou en dit dof, styf en droog laat voel.

Stylvol-wenk: As jou hare skielik dof, grof of moeilik hanteerbaar voel, kan dit die moeite werd wees om jou watergehalte te ondersoek. ’n Diep reinigende sjampoe (clarifying shampoo) wat help om minerale of enige produk wat opbou op jou hare te verwyder, kan ook help.

Gebruik gerus ’n aanbly-opknapper, met ’n aanbly-opknapper is dit nie nodig vir afspoel nie en jy weet jou hare sal bevogtig bly.

6. Jy beskerm nie teen UV strale en besoedeling nie

Glo dit of nie, maar jou hare (nes jou vel), kan beskadig word weens oormatige sonblootstelling asook blootstelling aan besoedeling.

Dink aan jou hare as soortgelyk aan ’n vlieëvanger wat stof en besoedeling versamel, hierdie het ’n groot impak op ons hare se vogvlakke.

Son, see, swem en sweet kan alles bydra tot droë hare.  Die sout in sweet en seewater kan ’n direkte uitdroogeffek op jou hare hê, en daarby UV en sonbeskadiging ook.

Probeer ’n UV-beskermende haarproduk of los ’n bietjie opknapper in jou hare wanneer jy weet jy heeldag gaan swem.

Hierdie sproeie beskerm teen UV strale, sout en seewater asook besoedeling:

7. Jy knip nie haarpunte nie

Die nommer een wenk wanneer jou hare droog voel, is om gereeld jou punte te knip. Jy hoef nie noodwendig elke 4 tot 8 weke te knip nie, jou haarkapper behoort te sien wanneer dit nodig is vir punte knip.

8. Hormonale veranderinge

Hormone soos estrogeen en progestoroon affekteer jou hare se groeisiklus, jou kopvel, asook die gesondheid van jou haarskag en die natuurlike olies wat hare sag en bevogtig hou.

Daarom kan hormonale verandering soos menopouse byvoorbeeld ’n impak op die vogvlakke van jou hare hê.

9. Jy kies die verkeerde produkte en haarbehandelinge

Nie alle haarprodukte werk vir elke haartipe nie. Sommige stileerprodukte kan jou hare uitdroog, veral as dit baie alkohol bevat. Kies eerder produkte wat help om vog in jou hare te behou.

Vra eerder ’n haarkenner of jou haarstilis om die regte produk vir jou haartipe en haarkondisie aan te beveel.

Stylvol

Handige ekstra wenke en raad, spesiale afslag en wenke, slegs vir die binnekring.

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Oor ons

Stylvol sosiale media

Nog Stories
selfverbruininng
Selfverbruining: 10 foute wat jy maak
error: Content is protected !!