tieners se geestesgesondheid
tieners se geestesgesondheid
Foto Pexels, Kehn Hermano

Tieners se geestesgesondheid: vier dinge om te weet

Ons tieners se geestesgesondheid is nie oukei nie. Sielkundiges is besiger as ooit met veral tieners. Hier is vier dinge wat elke ouer oor sy tiener se geestesgesondheid moet weet. Deur sielkundige Gerda Kriel

Een kyk na die nuusberigte se hoofopskrifte wys vir ons die onrusbarende getal tieners wat hulle lewens die afgelope jaar geneem het.

My praktyk, sowel as die van my kollegas, loop oor van bekommerde ouers wat tieners aflaai in die hoop dat ons iets sal genees, en, as jy fyn oplet, sien jy oral tieners hulle moue bietjie langer aftrek, om die snymerke op hulle arms weg te steek.

Sielkundige, Gerda Kriel

Dit is amper heeltemal te maklik om ons oë weg te draai, en als te normaliseer, maar hoe gemaak as dit jou kind is? Ek deel hier vier dinge wat elke ouer oor sy tiener se geestesgesondheid moet weet.

Vier dinge om te weet oor tieners se geestesgesondheid

1. Depressie by tieners is NIE normaal NIE.

Die stereotipe van die tiener wat sy deur toeslaan en in die donker kamer na harde musiek luister is ietwat holrug gery. As jou kind vir langer as 10 dae bedruk is, of hulself isoleer van alle vriende of familie, moet jy begin aandag gee. Die tienerjare is nie sonder uitdagings nie, en dit is ’n tyd waarin ’n tiener veronderstel is om hulle eie identiteit te soek en te vorm. Dit gaan dikwels met ’n intense belewenis van emosies gepaard, maar hierdie emosies moet nooit primêr bedruktheid wees nie. Inteendeel, die tienerjare gaan eerder gepaard met energie en lewenslus! 

RAAD: As jy bekommerd is oor jou kind se geestesgesondheid: soek professionele hulp.

2. As jou kind met jou wil praat: luister!

Een van die grootste klagtes wat ek by tieners hoor, is dat hulle ouers nie tyd maak om na hulle te luister nie. Die meeste tieners wend minstens ’n poging aan om met hulle ouers te praat as dit nie met hulle goed gaan nie. Om dit te hóór moet ons eers werklik gaan stil word saam met hulle. Jy kan nie ’n hartsgesprek voer in die oggend voor skool terwyl almal jaag om betyds te wees nie.  

RAAD: Stop waarmee jy besig is en luister na jou kind: selfs na dit wat vir jou onbelangrik klink! Dikwels toets tieners die water om te kyk of jy hulle regtig sal hoor deur eers iets ligsinnigs te deel. Wees beskikbaar. Wees ontvanklik. Luister sonder oordeel

3. Sosiale media kan jou kind se grootste vriend óf grootste vyand wees.

Tydens die afgelope jaar het sosiale media baie tieners staande gehou. Die konneksie met vriende, die virtuele “markplein”, en die venster op die buitewêreld het baie tieners gehelp om met die druk van sosiale isolering saam te leef. Terselfdertyd kan sosiale media tieners verwoes. Kuber-boelies is volop. Ongesonde groepe (soos pro-anoreksie of selfsny groepe) vier hoogty en normaliseer gedagte- en gedragspatrone wat vernietigend kan wees. Om nie te praat van die manier waarop tieners hulself gedurig met ander vergelyk nie. Deesdae weeg elke tiener haarself, en vind haarself te lig. Niemand is goed genoeg as dit kom by die onrealistiese beeld wat op sosiale media geskep word nie.

RAAD: Dit is belangriker as ooit dat ouers ’n proaktiewe rol speel in hulle kind se sosiale-mediagebruik: stel grense, skep tegnologievrye tye, en voer gesprek oor die gevare daarvan om sosiale media te sien as ’n maatstaf waarteen hulleself moet meet. 

4. Selfdoodpogings is nie aandagtrek nie.

Foto: Unsplash Dimitry Zub

Hierdie argaïstiese clichè is afgewater en onwaar. Vir die meeste mense is selfdood ’n poging om probleme te laat verdwyn. Tieners wat selfdoodpogings oorleef het, sal erken dat hulle nie noodwendig wou sterf nie, maar dat hulle probleme so oorweldigend was, dat hulle geen ander uitkoms gesien het nie. Onthou: tieners het nie die lewenservaring wat ons het om te weet dat probleme meestal van verbygaande aard is nie. 

RAAD: Neem elke dreigement oor selfdood ernstig op. Let op jou kind se gedrag, en moedig oop kommunikasie aan. Maar weet ook dat indien jou kind ’n selfdoodpoging aanwend, dit nie is as gevolg van foute wat jy gemaak het nie. 

Dis meer uitdagend as ooit tevore om kinders met ’n gesonde geesteswelstand groot te maak.

Daarom daag ek elke ouer uit om nie bang te wees vir die moeilike gesprekke met jou tiener nie. Groei in jou eie kapasiteit vir ongerief.

Ongemaklike gesprekke lei tot verhoudings en ons weet uit ervaring dat gesonde ouer-kind verhoudings een van die grootste beskermingsfaktore vir ’n kind se emosionele welstand is. 

Gerda Kriel is ’n kliniese sielkundige wat in Somerset-Wes praktiseer. Besoek gerus haar webwerf helderbergpsychology.com

Lees ook: ‘Tweens’ se emosionele welwees en geestesgesondheid

10 wenke om jou angs te beheer

Stylvol

Handige ekstra wenke en raad, spesiale afslag en wenke, slegs vir die binnekring.

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Oor ons

Stylvol sosiale media

Nog Stories
rek en strek
9 redes om meer te rek en strek
error: Content is protected !!