Dis nie net tieners wat deesdae sukkel nie, maar ‘tweens’ se emosionele welwees en geestesgesondheid loop ook deur. Skooldruk, druk om te presteer en in te pas en ouers wat nie meer so ’n stewige konneksie met hul kinders het nie, beïnvloed ons kinders veel meer as wat ons besef. Aktrise en ma Milan Murray is so passievol oor die onderwerp dat sy haar tweede emosionele welwees-joernaal vir kinders bekendgestel het. Deur Suzanne Kotzé
“Die meeste van ons is obsessief oor ons babas se ontwikkeling tot en met die ouderdom van drie jaar, maar vergeet dat die emosionele ontwikkeling daarna eers begin,” vertel Milan Murray. “Ons laai hulle by die skool af en vra: ‘Het jy huiswerk? Was jy soet? Het jy mooi stil gesit?’, maar vergeet dikwels om meer as dit te vra.”
Nadat Milan op 35 met endogene depressie gediagnoseer is, het sy baie meer sensitief vir ander mense, en ook haar kinders, se emosionele ervarings en reise geword.
“Die aantal selfdoodpogings in ons hoërskole en die omvang van die angs wat by kinders van alle ouerdomme toegeneem het die afgelope vyf jaar is skrikwekkend.
Milan Murray
3 Dinge wat Milan Murry oor ‘tweens’ se emosionele welwees en geestesgesonheid geleer het

1. Beplanning is nodig vir kwaliteit-tyd met ouers
Een van die grootste verskille daartussen om ’n ‘tween’ gedurende die sestigs, sewentigs of tagtigs te gewees het en nou is die feit dat 90% van kinders in ’n huis grootword waar albei ouers werk. Dit is skokkend om te hoor hoe min tyd ouers het om met hulle kinders deur te bring. En dit is nie hulle skuld nie. Dis nie omdat hulle nie wil nie. Maar wanneer ’n ouer moeg by die huis kom of klaar by die huis gewerk het, het die meeste van hulle net twee ure om met hulle kinders deur te bring. Dan moet daar nog kosgemaak word en huiswerk gedoen word.
Daarom is die diskonneksie tussen ouers en kinders gevaarlik hoog.
Die oplossing wat ek van professionele mense geleer het, is om die tyd wat jy wel het, baie mooi te beplan en konneksietyd maak.
2. Skermvrye tyd is terapeuties
Ouers en kinders is meer as ooit aanlyn en op skerms besig. Dit is een van die groot redes waarom ons by My Story Tribe nie ons boeke digitaal beskikbaar wil stel nie. Dit is juis die pen-in-die-hand storieskryf wat terapeuties is. Ouers kan gerus ook gerus hiervan leer. Om die skerms af te sit om nie net met jou gesinslede te connect nie, maar ook met jouself.
3. Dit is nooit te laat om te begin werk aan jou verhoudig nie
Dit is nooit te laat om te begin om ’n verhouding met jou kind te bou nie. Ons as ouers het baie swepe waarmee ons onsself slaan. Iewers moet jy ophou daarmee om jouself te martel en kwalik te neem. Maak vandag die keuse om ’n verhouding met jou kind te bou en meer tyd te maak vir mekaar.
Milan en haar ‘tweens’ se emosionle welwees en geestesgesondheid


“Omdat my kinders self in die ouderdomsgroep van 6-13 geval het, het ek agtergekom dat daar ’n groot behoefte is aan hulpmiddels vir hulle geestesgesondheid, nie net vir ouers en by die huis nie, maar ook in skole.”
Na verskeie toetse is Milan se dogter in graad vier met aandagafleibaarheid (ADD) en disleksie gediagnoseer.
“Hierdie hele proses het haar emosioneel te onstabiel laat voel. Ek wou vir haar ’n veilige ruimte bied om te kan sê hoe sy voel. Ek het begin om storie as meganisme te gebruik vir refleksie. Teen die einde van elke dag het ek vir haar gevra: ‘As jou dag vandag ’n storie was, was dit ’n tragedie of ’n komedie? of ‘Wie was die heroin jou storie?’ So het ek agtergekom dat storie as ’n meganisme baie goed werk omdat kinders so identifiseer met stories. So is die My story saadjie geplant om stories te gebruik om emosionele groei en geestesgesondheid te help fasiliteer.
Die My storie storie
Milan het vir ’n jaar lank navorsing gedoen oor geestesgesondheid en die emosionele welwees van ‘tweens’. Sy het navorsing gedoen en ure in arbeids- en spelterapeute se spreekkamers deurgebring om agter te kom wat die grootste behoeftes is by ‘tweens’ se emosionele welwees en geestesgesondheid.
Sy het haarself omring met ’n span professionele mense sodat skole, onderwysers, sielkundiges, praktyke en ouers vrymoedig kon voel om die materiaal, wat goed nagevors is en ouderdomsgerig opgestel is, aan te wend om kinders se emosionele en neurologiese ontwikkeling in oënskou te neem. Een van haar spanlede is die arbeidsterapeut Chantelle Griessel. “Ons het in die pannekoekry van ’n laerskool-sportdag begin gesels en agtergekom hoe passievol ons altwee oor die onderwerp is. Nou is Chantelle nie net baie betrokke om materiaal vir die joernale te skep nie, maar ook om ekstra inhoud en lesmateriaal vir onderwysers te skep. Sy skep ook ekstra hulpmiddels vir ouers vir tuisgebruik, alles op ons webwerf mystorytribe.co.za beskikbaar.
Die ‘My Storie’ joernale
Daar is reeds twee joernale wat beskikbaar is. ’n Groen joernaal vir ouderom ses tot tien en ons nuwe geel joernaal vir kinders van 10-13. Elke joernaal is in vier dele opgedeel.
- Ek in my storie. Hierdie deel help kinders om na hulle lewe te kyk en te bevestig wie hy of sy is.
- Die karakters in my storie. Met wie omring ek myself en is hulle goed of sleg vir my en hoe lyk my verhoudings
- My storie tot nou. ’n Kykie na my lewe tot nou toe. Wat het ek al bereik. My lewe maak saak.
- My storie van hier af aan. As ek môre se storie self sal kan skryf, wat beplan ek vir my lewe.
Hierdie sistematiese reis help ’n kind met emosionele standvastigheid en om selfliefde te kweek en opgewonde oor sy/haar toekoms te wees.

