Om jou gesig met ’n lemmetjie te laat afskraap, klink dalk vreemd; Stylvol toets die Dermaplaning-behandeling; en rapporteer terug of jy nou ’n baard teruggroei en hoe dit voel. Kyk na die video. Deur Suzanne Kotzé
Stylvol toets die Dermaplaning-behandeling; kyk die video
Anet Souris, opvoedings en opleidingsbestuurder van Skinceuticals Suid-Afrika vertel meer en doen Skinceuticals se twee-stap afskilferings- behandeling. Stap 1 is Dermaplaning en Stap 2 ’n chemiese afskilfering. Die behandeling is by dermatoloog dr Suretha Kannenberg se praktyk gedoen.
Wat is Dermaplaning?
Dit is ’n behandeling van SkinCeuticals waar ’n spesiale lemmetjie gebruik word om al die fyn dooie selletjies en fyn haartjies van jou vel af te skraap.
Daarna word ’n chemiese afskilfering gedoen.
Hoe voel dit?
Glad nie seer nie, en nee dit voel nie of jy jou gesig ‘skeer’ nie. Die chemiese afskilfering laat jou vel effens jeuk en brand, maar in vergelyking met die afskilferings wat ek al gehad het, is hierdie een baie sagkens.
Wat is die voordele hiervan?
Behalwe dat dit dooie selletjies verwyder, verwyder dit ook die fyn haartjies. (As jy bo veertig is, is ’n paar van die haartjies ook dalk nie so ‘fyn’ nie). So help dit velsorgprodukte beter penetreer. Jou vel lyk meer glansend en voel gladder.
Die resultate
My gesig het baie glad gevoel en ek was glad nie rooi nie. Toe ek ’n paar uur na die behandeling onderlaag aanwend, kon ek nie verstaan hoekom my onderlaag so dik is nie. Ek het dieselfde hoeveelheid as gewoonlik gebruik, en toe snap ek dat ek natuurlik minder onderlaag nodig het, omdat die helfte daarvan nie meer aan al die haartjies vassit nie.
Hoe groei die haartjies uit?
Ten spyte daarvan dat Anet my verseker het, dat hulle net die boonste haartjies (die velus haartjies) afskraap, was ek tog bang dat die haartjies wat teruggroei hard sou voel. Dit is egter ’n week later en ek kan geen harde haartjies voel nie.
Kan dit jou gewone waks of haarverwydering vervang?
“Nee. Dit werk goed vir fyn haartjies, maar dit trek nie die hare se wortels uit nie, wat ’n mens eintlik nodig het op areas soos jou bolip of ken-area waar die haartjies effens dikker is,” sê Anet.
Koste
Die koste kan wissel. By Dr Suretha se praktyk kos dit R850.
Lees ook: Stylvol toets: Mikronaald-terapie