Nuut op die Stylvolspieëltafel

Ons het die afgelope ruk te heerlik aan nuew produkte getoets; van lekkerruik hare tot post-eiland velredders, Japanese velsorg en selfs herbruikbare watte. Deur Suzanne Kotzé en Justine Kroes

Justine se nuwe gunstelinge

Dermaceutic D Scrub & Repair Ceutic: My nuwe velsorggunstelinge

D Scrub Refining Exfoliant: Totsiens, droë velletjies!

Ek is gewoonlik eerder ’n aanhanger van chemiese of ensiemafskilfering, maar Dermaceutic se D Scrub het my aangenaam verras. Hierdie fisiese afskilferaar is vinnig besig om een van my nuwe gunstelinge te word!

Wat dit besonders maak, is die kombinasie van verskillende afskilferdeeltjies. Die formule bevat jojoba-esterkorreltjies in verskillende groottes, asook bamboesekstrak, wat help om dooie velselle te verwyder. Jojoba-olie help terselfdertyd om die vel sag en soepel te hou.

Na elke gebruik voel my vel gladder en sagter. Dit was veral ’n wenner na die lang winter, toe ek daardie lastige droë velletjies, veral rondom my lippe kon afskilfer.

Die formule spoel ook maklik af sonder om ’n vetterige lagie agter te laat.

Gebruik dit so: Masseer sagkens oor ’n klam gesig en spoel deeglik af. Jy hoef nie hard te skrop om die werk gedoen te kry nie. Gebruik dit een tot twee keer per week, afhangend van jou vel se behoeftes.

Dermaceutic Repair Ceutic Soothing Recovery Mask: My reddingsboei vir droë vel

Ná afskilfering volg ek graag met Dermaceutic se Repair Ceutic Soothing Recovery Mask. Die masker is ontwerp om die vel te streel, intens te hidreer en die vel se sperfunksie te ondersteun, presies wat my vel nodig het na ’n goeie afskilferingsessie.

Die aanwysings beveel aan dat jy die masker vir vyf tot tien minute aanlos, ek verkies egter om ’n dun lagie saans aan te wend en daarmee te slaap. Die volgende oggend voel my vel vars, gehidreer en heerlik sag.

Maar hierdie masker het eintlik sy plek in my skoonheidsroetine verdien tydens ’n onlangse eilandvakansie. Na ’n bietjie te veel son het dit tot my en my dogter se redding gekom. Ek het dit saans op ons warm, bloedrooi wangetjies aangewend, en die volgende oggend het ons vel kalmer en beter gehidreerd gevoel.

Dit is nou amptelik een van die produkte wat vir altyd in my vakansie smuktassie sal saamreis.

Kérastase Gloss Absolu Glaze Drops: Glans sonder die vetterigheid

Ek is soms huiwerig om haarolie te gebruik. Hoewel ek baie hare het, is my hare fyn en kan dit maklik olierig lyk. Maar hierdie olie is anders! Kérastase se Glaze Drops is lig en help om kroes te tem sonder om jou hare swaar of vetterig te laat voel.

Ek wend ’n paar druppels aan my klam hare aan voordat ek dit blaas en stileer. Die resultaat? Sygladde hare met ’n pragtige glans! Ek woon in Melkbosstrand, waar die Weskus mis party oggende tot tienuur in die lug hang. Die vog is nie juis my hare se beste vriend nie en kan gewoonlik ’n klein wolkie kroes bo-op my kop veroorsaak. Maar met die gebruik van die olie bly my hare glad, selfs op mistige oggende.

Kérastase Gloss Absolu Le Parfum: Ja, parfuum vir jou hare!

Hareparfuum? Ja, beslis! Ek spuit dit liggies oor my droë hare nadat ek dit geblaas het, en elke keer as ek my kop draai, word ek gegroet deur die heerlikste geur. Dit is ’n klein luuksheid wat my oggendroetine net lekkerder maak!

Dink aan vars sitrus en suurlemoennote, ’n blommeruiker van jasmyn, iris en roos. Die geur is vars, vroulik en luuks sonder om oorweldigend te wees.

Die formule is spesiaal vir hare ontwikkel en bevat onder meer arganolie. Anders as gewone parfuum, wat nie noodwendig vir hare geformuleer is nie, is dié produk ontwerp om jou lokke geurig en sag te laat voel. Kérastase beveel twee tot drie spuitjies op droë hare aan.

Ek moet die botteltjie deesdae vir my dogters wegsteek! Hulle is net so gaande oor die sagte geur en vind dit supercool dat hare ook hul eie parfuum kan hê.

Suzanne se gunstelinge

Shiseido: Japanese velsorgkunde

Na ’n besoek aan Japan twee jaar gelede, waar ek eerstehands kon sien hoe ernstig die Japannese hul velsorg opneem, was ek baie nuuskierig om Shiseido se produkte te probeer.

Shisheido Ultimune Power Infusing Serum Oil (R1270, Arc Store) en Power Infusing Serum (vanaf R1510 vir 30ml, Arc Store)

Die Ultimune Power Infusing Serum is my gunsteling van die reeks velsorgprodukte. Dit is geïnspireer deur meer as 30 jaar se navorsing oor die vel se natuurlike verdedigingsmeganismes en bevat Shiseido se Power Fermented Camellia+-tegnologie. Wat ek veral opgemerk het, is ’n verbetering in my vel se algehele voorkoms: dit lyk fermer, my veltekstuur lyk fyner en my gelaatskleur meer egalig. Dit trek ook heerlik vinnig in sonder om swaar te voel.

Die nuwe Ultimune Power Infusing Oil is nog ’n lekker toevoeging. Dit kan op die gesig, lyf en hare gebruik word en bied ’n lekker dosis vog sonder die taai gevoel wat ’n mens soms met olies assosieer. Ek het dit veral op my bors-area, agterkant van my hande en elmboë ook gebruik.

Shisheido Vital Perfection Intensive WrinkleSpot Treatment A+ retinol (R2630, Arc Store)

Vir meer doelgerigte versorging gebruik is daar die Vital Perfection Intensive WrinkleSpot Treatment A+ retinol om die voorkoms van dieper plooie en donker kolle te verbeter. Dit is nie verniet as ’n towerstaf vir probeemareas bekend nie.

Shiseido Vital Perfection Uplifting and Firming Advanced Cream (R2820, Edgars) is hervulbaar.
Shiseido Vital Perfection Uplifting and Firming Advanced Eye Cream (R1730, Edgars)

Die Uplifting and Firming Advanced Cream fokus op fermheid, glans en ’n egaliger velkleur.

Die bypassende Eye Cream help om pofferigheid, donker kringe en fyn lyntjies aan te spreek. Ek is mal oor die luukse potjies.

Shiseido Expert Sun Protector Clear Stick (R1100, Arc Store)

Die Expert Sun Protector Clear Stick SPF50+ ’n handige handsak-moet-hê om deur die dag vinnig weer sonbeskerming aan te wend. Dit is deursigtig en klein en het my al uit verskeie potensiële sonbrandsituasies gered. (Veral langs die waterpolo swembad, of ’n koue dag wat eensklaps verander na helder sonskyn). Die beste is dat jy dit ook bo-oor jou grimering kan aawend.

Loslappies; herbruikbare ‘watte’

Los lappies facerounds (R190 vir ‘n stel van 10 en die sakkie, loslappies.co.za)

Ek voel altyd so ’n bietjie skuldig wanneer ek watte gebruik, en na een gebruik weggooi. Daarom is ek mal oor hierdie slim alternatief. Loslappies is herbruikbare ‘watte’  wat sag, velvriendelik en prakties is.

Wanneer dit droog is, voel dit amper soos papier, maar sodra dit nat word, verander dit in ’n sagte, sponsagtige lappie. Ideaal om grimering te verwyder of toner aan te wend. Dit spoel maklik skoon, droog vinnig en kan eenvoudig in die wasmasjien gegooi word wanneer jy al tien gebruik het. Nog beter, dit word van plantvesels en herwinde katoen gemaak en kan aan die einde van hul leeftyd tuis gekomposteer word. ’n Klein verandering aan jou skoonheidsroetine wat op meer as een manier goed voel!

Hoe om dit te gebruik en te versorg:

  1. Maak ’n ronde lappie nat en druk die oortollige water uit.
  2. Wend jou reiniger, misellêre water, toner of grimeringverwyderaar aan.
  3. Vee jou gesig daarmee af en spoel die lappie daarna deeglik uit.
  4. Plaas dit terug in die katoengaas-wassakkie om tussen gebruike droog te word.

Sodra jy al tien gebruik het, kan jy die hele sakkie sommer in die wasmasjien gooi (verkieslik saam met jou wit wasgoed). Gebruik ’n sagte wasmiddel, vermy versagmiddel en laat dit natuurlik droog word.

Drunk Elephant Protini Polypeptide Cream; slimverpakte room

Drunk Elephant se Protini Polypeptide Cream (R1660, Arc Store)

Ek is sommer van die begin af mal oor Drunk Elephant se Protini Polypeptide Cream se verpakking. Die lugdigte pompsisteem is maklik om te gebruik enbeskerm ook die aktiewe bestanddele teen blootstelling aan lug en vingers.

Wat die room self betref, is dit ideaal vir warm somersweer, want voel heerlik lig. Ek hou van hoe dit my vel laat voel: goed gehidreer, gladder en sommer ’n bietjie voller. Dit bevat ’n kompleks van nege seinpeptiede wat help om die vel se fermheid en elastisiteit te verbeter, asook hialuroonsuur vir ekstra vog. ’n Heerlike alledaagse, vinnig en maklik om te gebruik bevogtiger.

Kérastase Elixir Ultime L’Huile Originale en Nutrive 8H Magic Night Serum; sorg vir my somer (swem)hare

Kérastase Nutrive 8H Magic Night Serum (R1700, vir 90ml, Superbalist)
Kérastase Elixir Ultime L’Huile Originale (R1400, Superbalist)

Ek is altyd ’n bietjie versigtig vir haarolies, want hoewel ek baie hare het, is dit fyn en ek hou glad nie daarvan as produkte my hare swaar of pap laat voel nie. Maar aangesien ek ’n ware Pisces is en baie tyd in die swembad en see gedurende somer deurbring en ook onlangs ’n paar ligstrepies gekry het, het my hare beslis ’n bietjie ekstra liefde en vog nodig.

Kérastase Elixir Ultime L’Huile Originale het ’n lekker nuwe toevoeging tot my roetine geword. Ek gebruik net ’n klein bietjie om glans te gee, kroeserigheid te tem en my hare sagter te laat voel sonder om volume in te boet. Dit beskerm ook my hare teen hittestilering.

Die 8H Magic Night Serum het ook ’n gunsteling geword. Ek het nou sommer ’n Vrydagaand-ritueel: ná my Vrydagoggend se seeswem, wend ek die serum aan voor ek gaan slaap en laat dit oornag sy towerkrag verrig. Dit help om my hare te voed en sagter te laat voel, veral ná my Vrydag see-swem en sauna ritueel.

Stylvol

Handige ekstra wenke en raad, spesiale afslag en wenke, slegs vir die binnekring.

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Oor ons

Stylvol sosiale media

Nog Stories
natuurlike lipkleure
Elkedagse natuurlike lipkleure
error: Content is protected !!