Jy dink dalk jou kind is net vol nonsens oor kos of ’n kieskeurige eter, maar dit kan dalk sensoriese defensiwiteit wees. Dieetkundige Liezel Engelbrecht vertel meer.
Uittreksel uit Simple Eating: Food and Nutrition for preschoolers and toddlers, saamgestel deur Liezel Engelbrecht, RD(SA)
Inligting vir die artikel verskaf deur Annatjie Smith, RD(SA)
Wat is sensoriese defensiwiteit?
Sensoriese defensiwiteit is die algemene oorreaksie op sekere sensoriese ervarings soos aanraking, orale ervarings, reuke en smake. Taktiele defensiwiteit is ’n vorm van sensoriese defensiwiteit en verwys spesifiek na aanrakingservarings. Kinders met sensoriese of tas-defensiwiteit het onder meer dikwels ’n uiterse afkeer van sekere kossoorte. Dit kan lei tot baie beperkte eetkeuses en kieskeurige eetgewoontes.
Algemene simptome van sensoriese defensiwiteit
Die volgende simptome kan moontlik tekens van sensoriese defensiwiteit wees. Moet egter nie self-diagnoseer nie, en gaan sien ’n kundige in die veld. Spraak- en arbeidsterapeute is opgelei om dié tipe evaluasies te doen:
Hy of sy…
- is ’n kieskeurige eter.
- weier om by ander mense se huise te eet.
- hou nie daarvan as hul kossoorte aan mekaar raak nie.
- het ’n uiterse afkeer van sekere kosse se teksture.

- snuif aan kos voordat sy dit eet.
- knaag of byt dikwels haar wang terwyl sy eet.
- is óf onbewus van óf hipersensitief vir aanraking.
- vermy dit om met klei, vingerverf of gom te speel.
- is oorgevoelig vir etikette op klere.

- hou nie nie van fisieke koestering of drukkies nie.
- knyp, byt of beseer haarself gereeld.
- slaan of klap ander kinders gereeld.
Kos wat vuurwarm of baie koud is, sterk geure het of kos wat visueel onaantreklik is, kan sommige kinders ook daarvan weerhou om dit te probeer. Daar kan ook ’n probleem wees met klonte en stukkies in voedsel soos vrugte in gladde jogurt.
Hoewel sommige van hierdie simptome ook van toepassing sal wees op kinders wat nie sensoriese defensiwiteit het nie, sal net jy, as ouer, na die groter prentjie kan kyk en hulp soek indien nodig.
As jy ’n probleem vermoed, is dit nodig om hulp in te roep. Spraakterapeute sowel as arbeidsterapeute is goed opgelei om te help met dié toestande. As jy sukkel om een om te spoor sal baie dieetkundiges wat met kinders werk jou na een toe kan verwys.
Besoek die Vereeniging vir Dieetkundiges in Suid-Afrika (ADSA) se webwerf by www.adsa.org.za om ’n dieetkundige in jou omgewing te vind wat jou kan help of verwys na ’n spraak- of arbeidsterapeut.
Raad vir kieskeurige eters

Soek jy meer inligting vir jou kieskeurige eter? Koop vandag nog jou digitale PDF kopie van Simple Eating: Food and Nutrition for preschoolers and toddlers vir die spesiale aanbod van slegs R25. Dis dis minder as ‘n wegneemkoffie! Die 36-blad gids sluit artikels in oor kosvoorkeure, porsiegroottes, allergieë, belangrike voedingstowwe vir kinders, aandete idees en nog meer. Besoek www.liezelthedietitian.com om joune vandag nog in jou inboks te kry.
Lees ook: