Sielkundige Gerda Kriel deel redes hoekom sy dink die Barbie-fliek belangrik is om te kyk nadat sy die afgelope naweek haar pienkste pienk aangetrek het en dit saam met ’n klomp vriendinne gaan kyk het. Deur Gerda Kriel
26/07/2023
Ek het, heeltemal buite karakter, myself die afgelope naweek in my pienkste pienk aangetrek om saam met ’n klomp vriendinne die Barbie-fliek te gaan kyk. En hoekom dan nou nie? As kind het ek ure verwyl met my gunsteling Barbies, ek en my vriendinne het ons ons pienkste drome van grootword uitgeleef via ons blonde blou-oog poppe.
Intussen het ek geleer dat hoëhakskoene nie so gemaklik is soos wat Barbie dit laat lyk het nie, dat ware vroue kurwes het, en dat blou oogskadu net mooi lyk aan Barbie. Nietemin was ek opgewonde om die fliek te sien, nie net omdat ek nostalgies oor die pienkste pop van hulle almal is nie, maar ook omdat die regisseur, Greta Gerwig, bekend is daarvoor om temas rondom feminiteit met slim teks en uitstekende films aan te spreek.
Hier volg die redes hoekom ek dink die Barbie fliek belangrik is om te gaan kyk, vanuit my perspektief as sielkundige:
1. Die Barbie-fliek is ’n sosio-politiese satire
Barbie steek die draak met die samelewing se onmoontlike hoë verwagtinge van … wel, almal. Die film beeld uit hoe ons samelewing se verwagting van beide mans en vroue eintlik tot wanbalanse kan lei. Dit ondersoek temas van partriargie, feminisme en geslagsrolle, en vra die belangrike vraag: Doen ons wat ons doen omdat ons so geprogrammeer is, of omdat ons werklik glo in dit wat ons doen?
2. Die waarheid van selfwaarde
Die film neem die posisie in dat jou waarde lê in wie jy is, nie in wat jy doen, wat jou titel is, of met wie jy in ’n verhouding is nie. So dikwels meet ons ons eiewaarde aan ander, maar die tema van die fliek is duidelik: jy is genoeg! Of, in Engels: “You are (K)enough”.
3. Geslagsrolle word omgegooi

Ja, die fliek gaan oor Barbie. En die fliek gaan oor Ken. En die fliek gaan oor jou. En die fliek gaan oor my. Dit wys die gevare daarvan om in stereotipiese rolle geplaas te word en om onsself sonder om te dink in daardie rolle te hou, ondanks of dit ons persoonlike sterktes is of nie! Dit wys ook hoe versmorend nou denke oor geslagsrolle kan wees. Ek het saam met Barbie ’n sug van verligting geslaak toe sy haar platforms vir Birkenstocks verruil.
4. Weerloosheid word as ’n krag uitgebeeld
(Let wel: Spoiler alert hier!)
Aan die einde van die film, wanneer Barbie die geleentheid kry om terug te keer na Barbie-land, en haarself weer in pienk en plastiek te vind, kies sy om eerder as mens aarde toe te keer – met al die weerloosheid, emosies en pyn wat daarmee gepaard gaan. Geen film het my al ooit so bly gemaak dat ek in hierdie regte-egte wêreld mag leef nie. Dit vra ook die vraag of ons samelewing nie deesdae juis te veel, dit wat vals is, aanhang nie (hello sosiale media).
5. Dit kan wonderlike gesprekke tussen jou en jou (tiener)dogter voortbring
Let wel, Barbie is NIE geskik vir kinders nie. Die onderwerpe is te swaar, die humor tong in die kies, en die storielyn te volwasse. Maar dit beeld komplekse sosiale dekonstruksie uit op ’n verteerbare wyse en kan die bron van ryk gesprekke met jou tiener wees.
6. Dis ook net regtig pret
Buiten die feit dat hierdie film slim te werk gaan met sensitiewe onderwerpe, dat dit die draak steek met almal en nog wat (Barbie inkluis), is daar oomblikke van pure pret waarmee die meeste vroue sterk sal kan assosieer. (Hello Weird Barbie – ek bedoel, wie van ons het nie so ’n Barbie gehad nie?) Ek het kliphard gelag, saggies gehuil, my trane afgegee en weer gelag en toe uitgestap met die voorneme dat ek my voete hier, op Moeder Aarde, veilig wil hou in die realiteit.
As jy ’n sagte borrelgom fliek verwag het, gaan “Barbie” jou teleurstel. Maar as jy reg is vir ’n taai toffie waaraan jy nog lank met smaak kan smul – gaan geniet dit! Ek weet ek het!