Selfliefde is allermins selfsugtig, want daarsonder is dit moeilik om ’n gelukkige verhouding te hê. En met verhouding verwys ons na enige verhouding, vanaf romanties tot vriendskaplik of met familie. Min van ons maak of kry tyd om selfliefde te beoefen. ’n Psigiater en kliniese sielkundige verduidelik hoekom selfliefde so belangrik is. Deur Suzanne Kotzé
“Selfliefde is moeilik om te takel wanneer ons grootword in so ’n kompeterende, kritiese wêreld. As ons gelukkig was, het ons grootgeword in ’n versorgende, ondersteunende borrel by die huis. Almal is egter nie so gelukkig nie. Sodra ons die die groot, wye wêreld betree leer ons dat ons nie lank, ryk, slim, vinnig, maer (die lysie is nimmereindigned) genoeg is nie. En eindelik word ons en ons liefde vir onsself heeltemal afgebreek,” verduidelik psigiater dr. Laura Comrie van The Mind Kind, Kenilworth, Kaapstad.
“ Probeer jouself opbou en besef eksterne bevestiging is leeg en sal nooit genoeg wees nie.”
Psigiater Dr. Laurie Comrie
Aanvaarding begin by jou. Jy is uniek en wonderlik net soos wat jy is.”
Maar wat is selfliefde?
Kliniese sielkundige Gerda Kriel van Helderberg Psychology in Somerset-Wes verduidelik.
“Selfliefde is ‘n realistiese en pragmatiese aanvaarding van jouself nes jy is, foute en flaters ingesluit. Jy moet jou sterk punte kan vier, en jou minder sterk punte kan oorsien.
As jy selfliefde aan jouself bewys, betoon jy aan jouself respek en versorging.
Die vermoë om na jouself om te sien, fisies, geestelik en emosioneel, maak jou in staat om meer voluit te leef, sonder dat jy uitbrand.”
Hoekom is selfliefde belangrik?
Gerda verduidelik ook:
- Selfliefde het met meer as jou uiterlike te doen, maar dit reflekteer na buite, en mense is dikwels meer aangetrokke tot iemand wat liefde aan hulleself betoon.
- Selfliefde help jou om grense te stel, doelwitte te bereik en om met stille self-versekering bewus te wees van dit wat jy nodig het om genoegsaam te leef.
- Mense wat selfliefde beoefen, is dikwels meer suksesvol en het meer vervullende verhoudings, as mense wat met selfveragting rondloop
5 maniere om selfliefde toe te pas
Lees jy deur honderde artikels en boeke oor ‘self-love’ is daar ’n magdom maniere om selfliefde toe te pas. Baie daarvan – soos om goed neer te skryf – neem dalk meer tyd in beslag as wat jy kan afknyp. Hier is 5 wat ons probeer en dalk vir jou ook meer doenbaar is.
1. Alleentyd wat tel
Ruim elke dag ’n paar minute tyd vir jouself in en doen introspeksie van hoe jy voel. Al moet jy 5 minute vroeër opstaan en net ’n koppie tee in stilte drink. Maak seker jou alleentyd tel deur byvoorbeeld nie deur Instagram of Facebook te blaai terwyl jy ’n paar kosbare minute vir jouself het nie. Of die skottelgoed weg te pak omdat jy nou in kombuis is nie. Of die krane blink te poets terwyl jy in die bad lê nie. Neem ’n paar minute om te fokus op hoe jy voel sodat jy bewus is van jou emosionele toestand en erkenning gee daaraan.
2. Slaap genoeg
Jou emosionele en fisiese gesondheid ly daaronder as jy nie genoeg slaap nie. Ons het dikwels soveel dinge om te doen dat ons óf nie genoeg slaap nie, óf aan soveel goed dink of so gespanne is dat ons nie kan slaap nie. Min slaap kan ’n mens beslis meer negatief en mismoedig laat voel.
Lees gerus: 15 Beste wenke vir beter slaap
3. Praat mooi met jouself
Hoe ons met onsself praat, bewustelik of onderbewustelik, speel ’n geweldige groot rol in hoe lief ons vir onsself is.
Probeer bewus wees van negatiewe selfspraak en vervang dit met positiewe bevestigings. By Rolene Strauss het ons geleer dat jy nie noodwendig eers aan jou positiewe bevestigings hoef te glo nie, maar om dit uit te spreek help reeds. Van die maklikste maniere om dit toe te pas, is om positiewe selfbevestigins op jou spieël of in jou kas te skryf, waar jy dit gereeld kan sien.
Lees: Rolene Strauss gee raad: gebruik positiewe bevestigings so
4. Oefening
Jy hoef nie 10km te hardloop of ’n ‘gym-bunny’ te wees om oefening te doen nie. Al stap jy net saam met ’n vriendin of jou hond om die blok (en later nog een en nog een) is dit klaar ’n begin. Dit help beslis om saam met iemand te oefen wat jou verantwoordbaar kan hou.
Al is daar baie aktiwiteite in ons daaglikse lewe wat as oefening gesien kan word, (soos om agter kinders aan te hardloop) is dit belangrik om tyd te maak vir oefening. Die goedvoelfaktor (danksy die endorfiene wat afgeskei word) nadat jy jou oefening voltooi het, tel vir baie! Stel jou wekker ’n halfuur vroeër en sit jou oefenklere reg voor jy gaan slaap om dit makliker te maak. En trek jou oefenklere aan, selfs al stap jy net om die blok.
5. Maak tyd vir dit waarvan jy regtig hou.
Probeer om minstens een keer per week ‘my tyd’ te neem en tyd af te staan om iets te doen wat jou lekker laat voel. Dit is dalk om saam met ’n vriendin koffie te drink, ’n boek te lees of jou naels te verf of in die tuin te werk. Dit is so maklik om net dag vir dag aan te hou fokus op alles wat ons móét doen dat tyd daarvoor om iets lekkers te doen vir onsself dikwels nie bestaan nie. Dit help om vir jou ’n vaste tyd in te ruim; bv 9-10 op ’n Saterdagoggend is ‘my-tyd’. As jy in ’n verhouding is, moedig jou maat aan om dieselfde te doen (natuurlik op ’n ander tyd as jy as julle kinders het), so voel jy dalk minder skuldig om die tyd vir jouself te neem.