In Oktobermaand oordink ons hoe ons en ons kinders emosioneel daar uitsien. Welwees is in die kollig en ons vra: Is ek oukei? Is my kind oukei? Sedert die pandemie is meer ouers bewus van terme soos “Positiewe Ouerskap” en “Bewuste Ouerskap”. Konsepte soos meditasie en selfrefleksie is deesdae deel van menige ouer se woordeskat. Maar hoe koester ons gesonde emosionele ontwikkeling in ons kinders, sonder om hulle so krampagtig te beskerm dat ons hulle eiewaarde en onafhanklikheid strem? Deur Milan Murray
13/10/2023
Kinders: Watte of Wipplank
Milan Murray, stigter van die ouerskapsplatform The My Story Tribe, beweer dat ouers sedert die pandemie meer geneig is om hulle kinders in watte toe te draai. “Ons het almal die effek van Covid 19 in ons huisgesinne beleef. Veral Laerskool ouers poog sterk om op te maak vir die agterstand en emosionele uitwerking wat die inperking op hul kinders gehad het. Dis tog die natuurlikste ding om jou kind te wil beskerm. Ons aktiveer die ‘leeuwyfie’ , ‘tier-mamma’ en ‘moederhen’ sommer gelyktydig!”
Mariaan Prins, sielkundige en raadgewer by The My Story Tribe, benadruk egter dat ouers emosionele groei kan belemmer of strem waneer alle uitdagings gerieflik geëlimineer word.
Emosionele groei word juis aangewakker wanneer ouers hul kinders die nodige vaardighede gee om aan te pas as die lewe druk of omstandighede verander.
Die definisie van veerkragtigheid is waneer individue ’n vermoë het om aan te pas en die vaardighede het om uitdagings te hanteer.
Waneer jy as ouer daardie veerkragtigheid kan aanmoedig deur hulle nie te styf en te veilig naby jou te hou nie, skep jy ’n wipplank wat jou kind bemagtig om hoër hoogtes te bereik. Die kuns is om te weet hoe styf moet ek vashou en hoe ver moet ek jou toelaat om te verken.
Uithou of Ophou
“Vasbyt” vorm deel van hierdie ouerskap-strategie. In haar boek “Grit: The power of passion and perseverance” skryf die wetenskaplike Angela Duckworth dat uithouvermoë een van die belangrikste vaardighede is wat ouers hulle kinders kan leer. Die herhaaldelike aksie van uithou en deurdruk en weer probeer, skep ’n sterk gevoel van eiewaarde wat ’n direkte invloed het op ’n kind se geestesgesondeheid.
Die beste leermeester is mislukking. Die vraag is of ons ons kinders genoegsaam toelaat om te misluk.
Die verskil tussen opgee en ophou
Duckworth sê wel dat daar ’n verskil is tussen ‘opgee’ en ‘ophou’. Waneer ’n kind vir ’n gesonde tydperk ’n nuwe vaardigheid probeer aanleer het, bv. klavier speel, en besluit om op te hou omdat daar bv. nie genoegsame belangstelling is nie, is dit nie noodwendig ’n slegte ding nie. Sy verwys na hierdie toetsing van nuwe belangstellings as “sampling”.
Dis wel ‘opgee’ wat ’n slegte gewoonte kan word, sê sy. Waneer ’n kind te gou handdoek ingooi as die proses frustrerend of moeilik is, kweek dit ’n gewoonte van ‘opgee’. Haar goue reël is: “Never quit on a bad day!”
Sterk maak of Skoonskraap
Die moeilike oorweging vir baie ouers is om te weet wanneer om entoesiasties aan te moedig en wanneer om in te tree. Chantel Griesel, arbeidsterapeut en inhoudshoof by The My Story Tribe, maan dat ouers gereeld die ‘pad probeer gelyk maak.’ Sy verduidelik: “ Uit ’n ontwikkelingsoogpunt word individualiteit dikwels voorafgegaan deur fisiese onafhanklikheid.
Van onafhanklike peuters
Ons beleef peuters se wil tot onafhanklikheid alte goed wanneer hulle die ouderdom van 4-6 bereik. Ons leer hulle om self aan te trek, skoene vas te maak, self vuil te maak en self skoon te maak. Ons stoei deur ’n tyd van eie wil en ons laat hulle toe om sterk en hardkoppig te wees.
Na toegeeflike kinders
Hoe kontrasterend is ons optrede dan wanneer hulle skool toe gaan, en ons verkies dat hulle instemmig en toegeeflik moet wees. Ons wil so graag hê hulle moet die regte vriende kies, teleurstelling vryspring, en iemand wees waarvan almal hou. Ons wil so graag hoofseuns en hoofdogters grootmaak. Meestal omdat ons as ouers nie ons kinders emosioneel wil sien swaarkry nie en omdat ons ego’s ook maar soms ry op die rug van ons kinders se prestasies.
As ons die struikelblok verwyder, verwyder ons die leergeleentheid.
Wanneer ons dan hulle lewensstories vir hulle skryf, vriendskappe druk wat nie spontaan is nie, of besluite namens hulle neem, neem ons hulle vertroue weg om hulle eie struikelblokke te hanteer. Die beste plek om te leer, veral sosio-emosioneel, is binne die skoolopset. As ons die struikelblok verwyder, verwyder ons die leergeleentheid.
Dit is wel ons rol om ons kinders te dra, stof en trane af te vee, teleurstelling deur te trap, saam planne te beraam en langs hulle die pad te stap. As jy kies om voor jou kind uit te stap, gaan jy nie sien as hy dalk ’n ander pad kies en jou nie meer volg nie. Stap langs jou kind, hou sy hand vas (terwyl hulle ons nog toelaat) en dan, wanneer die tyd reg is, kan jy terugstaan en kyk hoe hy sy eie pad inslaan. Kies om hulle onafhanklik sterk te maak, eerder as om die pad heeltyd skoon te skraap. “
’n Nuwe hoed of ’n ou verskoning
Deel van emsionele groei behels om kreatiewe oplossings te vind. Waneer ons dit dus wel regkry om nie al die klippe uit ons kind se lewenspad weg te rol nie, moet ons hulle bystaan en aanmoedig om self oplossings of alternatiewe roetes te vind.
Edward de Bono se “Six thinking hats” is ’n algemene en gewilde hulpmiddel om kreatiewe denke te stimuleer. Hierdie konsep is aangepas vir kinders en Milan noem dat The My Story Tribe hierdie ‘hoede-aktiwiteit’ veral in kleingroepe baie effektief beleef.
“Ek onthou hoe ons ’n speletjie in drama-opleiding gespeel het waar ons verskillende voorwerpe uit ’n kis haal, en dan lukrake nuwe gebruike daarvoor vind en uitbeeld. Die mees algemene voorbeeld is natuurlik die borsel wat ’n mikrofoon word.
Ek het dieselfde speletjie met my kinders gespeel toe hulle klein was. Ons het dit “Kamma-Kamma” genoem. Om buite die boks te dink en grenslyne te toets, help ’n kind om eendag verrassende, vars oplossings te vind. Dis maklik vir ’n kind om die ou verskoning te gebruik: “Ek kan nie” of “Dis onmoontlik”.
De Bono se Six Thinking Hats is ‘’n praktiese voorstelling en prettige metode om ’n probleem van verskillende kante af te ondersoek en op te los.
Verbind of Versmoor
Dr. Gabor Mate omskryf in sy boek “How to hold onto your kids” die wonderlike geskenk van verbintenis. Hy plaas ’n groot soeklig op die noodsaaklikheid van verhoudings met ons kinders en die impak daarvan op hulle sosio-emosionele welstand, veral die keuses wat hulle maak gegrond in hierdie verbintenis.
Verbintenis as wegspringblokke
Chantel Griesel sluit hierby aan: “As terapeut sien ek verbintenis amper as die wegspringblokke vanwaar ons kinders hulleself die wye wêreld inskiet. Indien hierdie platform nie stabiel, voorspelbaar en konsekwent is nie, is die fondasie wankelrig, wat ‘n direkte impak op ons kinders se veerkragtigheid het. Wanneer hierdie verbintenis onseker, soms eksplosief, dikwels onvoorspelbaar of afwesig is, kies kinders die volgende beste platform om hul veerkragtigheid op te bou : hulle vriende. En ons almal weet hoe voorwaardelik twiener-vriendskappe kan wees!
Ouers moenie kinders se stories skryf nie
Gabor Mate maan dat ons as ouers nie veronderstel is om ons kinders se stories te skryf nie, maar dat ons eerder hulle ware Noord moet wees, die kompas wat die rigting aandui. Ons rol lê nie daarin om ons kinders te beheer, hulle narratief te skryf of ander se opinie rakende ons kinders te bestuur nie. Ons kan ook nie ons kinders se besluite of keuses beheer nie.
Konsekwente verbintenis met ons kinders
Indien ons verbintenis met ons kinders konsekwent is, daar geleenthede is om die verhouding te herstel wanneer daar breuke kom, en ons kinders ’n veilige, onvoorwaardelike ruimte vir die ontwikkeling van hul identiteit beleef, is daar baie potensiaal vir groei en die ontwikkeling van veerkragtigheid en uithouvermoë. Die geheim om ons kinders te behou, lê binne die diepte van ons verbintenis met hulle. Binne daardie diep liefde is dit veilig om foute te maak, gefrustreerd te wees, vas te byt, op te staan en weer te probeer.
En dan bring dit hopelik vir jou as ouer die gerustheid en die versugting hierdie Oktobermaand: “My kind is oukei.”
Aktrise Milan Murray is die stigter van The My Story Tribe. Besoek gerus www.themystorytribe.com