mom guilt ma en baba
mom guilt ma en baba
Foto: Pexels Anastasia Shuraeva

Oorkom jou ‘mom guilt’; top nege wenke van die Naguilklub

Jy doen nooit genoeg nie of dit wat jy doen is nie goed genoeg nie; oorkom jou mom guilt met Die Naguilklub se wenke en hou op skuldig voel. 

Maar eers wat is mom guilt?

Psigiater dr Laura Comrie van The Mind Kind Doctor, Kenilworth, Kaapstad verduidelik. 

Daar is groot verwagtinge van die samelewing, die media, familie en vriende oor hoe ma’s ‘veronderstel is om te wees’ en wat ma’s ‘moet doen.’’ Sodra daar verskille is tussen jou eintlike en ideale self laat dit jou skuldig en skaam voel. Kulturele verwagtinge en die ‘moederskapmites’ vererger hierdie skuldgevoelens by ma’s.

Sosiale media en google vergroot hierdie skuldgevoelens. Daar is gedurige kompetisie met dinge wat nie eens outentiek of werklik is nie.

Die raad wat ek gereeld vir pasiënte gee en ook self toepas is: fokus daarop om ’n ‘goed-genoeg’ ma te wees.

Dr Laura Comrie

Op ’n slegte dag gaan jy egter steeds sleg voel. Dit is egter geruststellend om te weet dat ma’s altyd gaan sleg voel oor iets, maak nie maak wat jy doen as ma nie. 

Wie is die Naguilklub?

Die Naguilklub is ‘n Afrikaanse digitale ouerskapsplatform gestig deur Lente Swift, Juanli Theron en Suzanne Smit. Drrie gewone, Afrikaanse ma’s wat besluit het om hulle hartservarings van moederskap te deel – die belaglike, snaakse oomblikke, die soet en ook die swaarkry – sodat ander ma’s kan sê ‘ek ook. Jy kan saamgesels op Facebook, Instagram en op hulle nuwe webtuiste

Suzanne, Lente en Juanli van Die Naguilklub

Oorkom jou mom guilt so 

Die Naguilklub se top nege wenke

Lente Swift

1. Laat vaar enige idees van perfeksie

 Jy is nie perfek nie. Jou kinders is nie perfek nie. Niemand is perfek nie. Jy gaan beslis, iewers langs die pad, regtig sleg vaar met hierdie ouerskapsding. Ons almal, en dit is oukei. 

2. Besef daar is ’n groter vangnet as net jy.

Die Maker van jou kind is liewer vir hierdie mensie as jy. Jou arms gáán te kort wees om orals en altyd te vang. Gelukkig is daar ’n groter vangnet as net jy, met ’n groter plan; ook vir jou. My vertroue en my vrede lê daarin.  

3. Maak tyd vir daaglikse kwaliteit-tyd

Ek probeer elke dag tyd maak vir kwaliteit-alleentyd saam met elkeen van my kinders. Hoe vroeër in die dag hoe beter. Wanneer hulle tenkies vol is, is hulle gedrag minder uitdagend. Hulle voel veilig en tevrede en help sodoende dat hulle minder kreatiewe idees probeer uitdink om so ten minste my negatiewe aandag te kry. Vir my verseker dit minder skuldgevoel en meer werksproduktiwiteit vir die res van die dag. Dis ’n wen-wen, en almal is gelukkig! 

Kwaliteit tyd met kinders
Maak tyd vir kwaliteit-tyd met elkeen van jou kinders.
Foto: Pexels

Suzanne Smit

4. Verlaag jou verwagtinge van jouself. 

Jou grootste geskenk vir jou kinders is om 100% “jy” te wees en in die oomblik te leef. As jy dus ’n tuisblymamma is, own it! As jy werk, mag jy jou werk geniet en steeds voluit ‘Mamma’ ook wees. Maak die kopskuif dat jy is waar jy moet wees en presies dít is wat jou kinders nodig het. 

5. Besef wat jou meer teenwoordig laat voel.

Doen wat jy moet doen om uit jou eie kop te kom en meer teenwoordig te wees. Hetsy dit oefen, verf of lees is, die lys is eindeloos. Ek het nodig om te oefen. Ek is meer gefokus as ek oefen en goed voel oor myself. ’n Gesonde liggaam huisves immers ’n gesonde gees. 

Mom guilt oefening help
Oefening kan help om jou meer teenwoordig te laat voel.

6. Moenie jouself vergelyk met ander ma’s nie

Wat goed is vir haar, is nie noodwendig goed vir my nie.

Moenie jouself met ander mammas vergelyk nie – comparison is the thief of joy.

Juanli theron, die naguilklub

Wees genadig met jouself en neem jouself ’n bietjie minder ernstig op. Jy doen goed!

Juanli Theron

7. Eerlike mededeelsaamheid help as jy met ander ma’s kommunikeer

So gevaarlik as wat vergelyking met ander ouers kan wees, so gesond kan ’n goeie gesprek (oor gedeelde frustrasies en bekommernisse) vir jou gemoed wees. Daar is niks soos ’n ander ma se “war stories” om jou beter oor jou eie klein oorlogsone te laat voel nie. Eerlike mededeelsaamheid is hier die sleutel. Praat met vriendinne, volg inspirerende ouers op sosiale media, en maak seker jy word blootgestel aan realistiese prentjies van ouerskap.

8. Verlaag jou standaarde. 

Ons vooropgestelde idees van hoe ouerskap ‘veronderstel’ is om te lyk volgens die prentjies in ons koppe, is baie keer die grootste bron van skuldgevoel. Hoekom kry ek dit dan nie reg nie? Die realiteit is egter dat almal se prentjie soms minder rooskleurig lyk as wat ons dink.

Onthou altyd: It’s just a bad moment, not a bad life. Netnou probeer ons weer.

Suzanne smit, die naguilklub

Mom guilt moedeloos
Foto: Pexels Onthou altyd: It’s just a bad moment, not a bad life.

9. Wees 100% in die oomblik wanneer jy tyd maak vir jou kinders. 

Om al ons balle in die lug te hou, vat soms meer kophou en kapasiteit as wat ons het, en aandag vir ons kinders raak dikwels eerste agterweë. Dit help wel om 100% in die oomblik te wees met ons kinders wanneer ons wel tyd daarvoor prioritiseer. Dit help sodat almal gemakliker op iets anders kan fokus as werk, kosmaak of huistake wat jou druk besig hou. Maak ’n tyd sonder skerms en wees net by mekaar – sodoende is almal se tenkies later voller, en voel jy minder skuldig.

Lees ook Rolene Strauss se top vyf wenke vir meer selfvertroue en Die pH van baba se vel, het jy geweet dit is belangrik

Stylvol

Handige ekstra wenke en raad, spesiale afslag en wenke, slegs vir die binnekring.

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Oor ons

Stylvol sosiale media

Nog Stories
9 Kossoorte om voor versigtig te wees as jy hoë bloeddruk het
error: Content is protected !!