geraas-sensitiwiteit
geraas-sensitiwiteit
Foto: Unsplash

Hoekom raas dit so? Is jy geraas-sensitief?

Jy is dalk meer geraas-sensitief omdat jy moeg en oorweldig is. Spanning kan vroue wat uitgeput is, oorsensitief maak vir klank. Deesdae is dit die meeste van ons. Plus wenke oor hoe om dit te hanteer. Deur Suzanne Kotzé

Voel jy uitgeput? Spannning kan jou meer geraas-sensitief maak

Selfs die klank van gewone gesprekke, kan ’n pynlike ervaring word vir vroue wat met spanningsverwante uitputting sukkel. 

Hierdie is die bevinding van ’n studie Acute stress induces hyperacusis in women with high levels of emotional exhaustion gedoen deur die Karolinksa Instituut en die Universiteit van Stockholm se Spanning-navorsingsinstituut. 

’n Vroeëre studie wat dui op ’n skakel tussen spanning, emosionele uitputting en gehoorprobleme soos tinnitus, was die beginpunt van die nuwe studie. Die doel van die nuwe studie was egter om ondersoek in te stel oor die effek van akute spanning op hipersensitiwiteit vir klank. Hulle hoofvraag was: Sou mense met chroniese emosionele uitputting meer sensitief wees vir klank nadat hulle aan korttermyn spanning blootgestel is? 

Tydens die studie is mans en vroue met lae, medium en hoë vlakke van emosionele uitputting aan verskeie spanningstoetse blootgestel. Die resultate? Vroue met hoër vlakke van emosionele uitputting was meer sensitief vir klank nadat spanning kunsmatig teweeggebring is. 

Geraas-sensitiwiteit, uitputting en die pandemie

Pandemie-angs, finansiële kommer en kommer oor ons land dra beslis daartoe by dat ons meer angstig en emosioneel uitgeput voel. 

Vroue loop ook meer deur onder ‘Zoom fatigue’ 

Daar is baie voordele maar ook nadele daaraan om van die huis af te werk. Eindelose video-oproepe en die moegheid wat daardeur veroorsaak word, is so algemeen dat die woordfrase ‘Zoom fatigue’ al byna deel geword het van ons spreektaal. Dit is ook vroue wat meer uitgeput voel as hul manlike kollegas na hierdie videokonferensies, volgens ’n studie deur die Universiteit van Stanford. Die studie word genoem Nonverbal Mechanisms Predict Zoom Fatigue and Explain Why Women Experience Higher Levels than Men Nie-verbale tekens, wat angs, hyper gaze en om fisies vasgevang te voel, weergee, is van die kwessies wat meer algemeen is onder vroue en ons meer uitput. 

Tuis-werk, kindersorg en geraas

Verskeie studies dui daarop dat vroue meer verantwoordelikheid en druk ervaar met kinders wat meer as gewoonlik tuis is. Behalwe vir die emosionele uitputting wat veroorsaak word deur te moet werk onderwyl die kinders tuis is, te balanseer, gaan dit ook natuurlik met meer geraas gepaard. Die opsies vir uitstappies en by maats speel,is ook baie minder as gevolg van Covid.

Geraas-senstitiwiteit is op die oomblik vir baie mense ’n kwessie.”

Arbeidsterapeut, Mush Perrins

Dit is veral erger wanneer kinders heeldag tuis is of baie binnenshuis moet wees as gevolg van kouer weer, vertel Kaapse arbeidsterapeut, Mush Perrins, wat ook ’n kundige in sensoriese sensitiwiteit is.

Wenke om geraas-sensitiwiteit te verminder

1. Dra oorfone wat geraas uitskakel

As jy nie sulke oorfone het nie, kan jy ook ’n stukkie wondergom of was oorproppe net by die opening van jou oor indruk. Moet dit nie inforseer of watte gebruik nie, aangesien die watte kan afbreek en moeilik kan wees om te verwyder. Maak seker jy kan steeds hoor sodat jy jouself en jou kinders kan beskerm. 

2. Speel kalmerende musiek

Jy kan dit óf deur jou oorfone speel of dit saggies speel. Dit kan dalk die mense (en kinders) rondom jou ook kalmeer. Kies sagte, melodiese musiek met algemene ritmes soos barokmusiek. 

3. Haal asem

As die geraas te veel word, maak jou oë toe en doen diep asemhalingsoefeninge. Haal vir vier tellings diep deur jou neus asem en asem weer deur jou mond uit vir agt tellings. Herhaal dit nog drie keer. As jou kinders in die rondte is, laat hulle dit gerus ook saam met jou doen. 

Gehoorsteurings

Daar is ook verskeie steurings wat jou meer sensitief vir geraas kan maak. As jy vermoed dat jou geraas-sensitiwiteit deur een van die volgende veroorsaak word, moet jy dit liefs met jou dokter bespreek:

Tinnitus: ’n chroniese gelui in jou ore

Hiperacusis: 10% van mense wat tinnitus het, het ook hyperacusis. Dit is waar jy hiper-sensitief is vir harde geluide soos grassnyers, ambulans-sirenes of harde musiek. Sommige klanke is pynlik hard en baie mense met hierdie steuring druk hulle ore toe of probeer die klanke vermy. 

Misophonia: sekere klanke kan emosionele of fisiologiese reaksies ontlok wat, gegewe die omstandighede, as onredelik gesien kan word. Mense met hierdie steuring beskryf dit dikwels as dat ’n sekere klank hulle ‘mal maak’. Reaksies kan wissel van woede tot irritasie of paniek. Die stoornis word ook soms selektiewe klanksensitiwiteitsindroom genoem. Orale klanke, soos die geluide wat met eet, asemhaling of kou gepaard gaan, of die geluid wat die sleutelbord van ’n rekenaar maak, of die ruitveërs van ’n motor, kan ook net te veel word. Die toestand begin gewoonlik rondom die ouderdom van 9-13 jaar en is meer algemeen onder meisies as seuns. Dokters is nie presies seker wat dit veroorsaak nie, en vermoed dit is deels geestelik en deels fisies. 

Al hoe meer navorsers, oudioloë en neuroloë begin egter die skakel tussen geestestoestande, klanksensitiwiteit en misophonia navors. 

Volgens die International OCD Foundation kom klanksensitiwiteit algemeen voor onder individue met kompulsiewe-ordesindroom (OCD), angs-stoornisse of Tourette-sindroom voor. 

Stylvol

Handige ekstra wenke en raad, spesiale afslag en wenke, slegs vir die binnekring.

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Oor ons

Stylvol sosiale media

Nog Stories
Angstige kinders? Hier is ses redes
error: Content is protected !!