Ons kies nou hierdie somerkleure en -klere

Hierdie vrolike somerkleure en -klere gee ons sommer in ’n huppel in die stap en nuwe energie saam met die langer sonskyndae. Dit voel voorwaar soos kleurterapie! Deur Suzanne Kotzé en Justine Kroes

Die somerkleure wat ons nou graag dra

Nadat ons by voorkomskonsultant en eks-Rooi Rose moderedakteur Susra Matthee geleer het watter somerskakerings groot nuus is (Lees gerus somer-/lenteskakerings wat nou groot nuus is) het ons die nuwe vrolike kleure aangepas

Borrelgom pienk

Suzanne se pienk rok (R899, Me & B)

Ek hou van pienk maar die ligter skakerings voel vir my soms te ‘girly’ en ek het nie gedink ek sal sommer ’n rok in die skakerings dra nie. Dit het my egter sommer vrolik laat voel. Ek hou van die rok se snit wat my middel beklemtoon.

Justine se pienk-en-groen patroonrok (R899 Me&B)

Hoeveel pret is die patroon nie? Hierdie rok het my hart gesteel, ek is lief vir groot bont patrone, en hierdie voel soos ’n kunswerk. Vier van hierdie seisoen se grootste skakerings in een rok – ja asseblief! Bonus, die rok het sakke!!!!

Groen

Suzanne se groen rok (R699, Truworths) en helder pienk baadjie (R699, Inwear, Truworths)

Hierdie skakering groen was nog altyd een van my gunsteling kleure om te dra.

Ek kon nie glo hoe mooi die helder pienk en groen saam lyk nie. En ja om te kleurblok is weer ’n trend dié somer!  Die spesifieke skakering helder pienk werk by my gelaat, omdat dit ’n koue ondertoon het. Warmer helder pienk skakerings laat my maklik rooi lyk, maar lyk natuurlik weer wonderlik by Justine omdat sy ’n warm ondertoon het

Justine se broekpak (R899, Me and B)

Ek is partykeer huiwerig vir broekpakke omdat dat baie style se boonste helfte te kort is vir my bolyf. Ek was so verbaas dat hierdie eenstuk perfek gepas het. Toe ons die fotos geneem het, was dit taamlik warm – en al is hierdie ’n eenstuk was dit lieflik koel en sag teen my vel. Die skakerings saam is so mooi!

Pers roos

Suzanne se rok (R229, Mr Price)

Ek kon nie glo dat hierdie rok so goedkoop is nie! Dit is ook in liggeel beskikbaar en ek dink daaraan om dalk die geel ook te koop! Ek sal dit egter nie op baie warm dae dra nie, want die materiaal voel of dit jou maklik sweterig kan laat voel.

Justine se pers en groek rok (R899, Me and B)

Ek het tans ’n “love affair” met die nuwe pers kleurskakerings – soveel so dat ek selfs my naels laat pers verf het op my laaste besoek by die salon. Hierdie fyn amper “gingham” patroon is so mooi – die pers en groen is die presiese skakerings van hierdie jaar se gewildste kleure.

Blou

Suzanne se blou rok (R799, H&M) Haarserp (R225 Poetry)

Hierdie helderblou is nog een van my heel gunsteling kleure om te dra; dit werk saam met my blonde hare. Die V-nek is vleiend. Ek is nie oortuig van die skulpie detail aan die toutjies van die arms nie, en mag dit dalk net afknip.

Justine se blou hemp (R79,95 Mr Price) Broek (R249 H&M) Haarserp (R175 Poetry)

Blou is nou een kleur wat ek nooit dra nie – nie omdat ek nie daarvan hou nie – dit is net nie ’n skakering wat ek van nature sal kies nie. Ek was nogal verbaas oor hoe baie ek die verskillende skakerings van blou saam geniet het. Blou is beslis op my kooplysie vanjaar!

Geel

Suzanne se geel bostuk (R699, Poetry) en perskekleurige rompie (R179,99, Mr Price), serpie in haar hare (R175, Poetry)

Geel is beslis nie een van my gunsteling kleure nie, maar omdat hierdie geel ’n koeler (groener) ondertoon het, werk dit. Die patroon en tekstuur breek ook die geel.

Justine se rok (R899 Poetry)

Ek het verlede seisoen ’n geel en beige rok van Poetry gekoop en dit het een van die gunstelinge in my klerekas geword. Hierdie geel laat my sommer energiek en gelukkig voel. Die rok is lieflik sag en die voering ’n bonus – ek weet dit sal nie deurskyn nie. Maar die gesmokte detail het op die ou einde my hart gesteel.

Rooi (en pienk)

Ja jy kan gerus twee van die seisoen se in kleure saam dra!

Suzanne se broek en hemp (R599 elk, Me & B)

Ek hou vreeslik baie van die pienk en rooi saam, maar ek sal die broek en hemp waarskynlik eerder apart dra. Of met ’n wit hempie onder en die hemp wat oopgeknoop is. Die materiaal is heerlik sag, en voel byna soos pajamas.

Justine se rok (R999, Me & B)

Hierdie is ’n nuwe gunsteling – ek kry altyd komplimente as ek rooi dra, maar voel partykeer soos ’n stopteken so ek vermy dit maar eerder. Hierdie rok se effense rooi afwerkings saam met die pienk en die wit is die perfekte balans. Die strikke op my skouers is prettig en die rooi naby my gesig verhelder my gelaat. Die ginghampatroon (weereens groot nuus dié seisoen) is pragtig en die rok is so gemaklik en koel.

Lees ook: Partytjierok vir ‘n geleentheid

Stylvol

Handige ekstra wenke en raad, spesiale afslag en wenke, slegs vir die binnekring.

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Oor ons

Stylvol sosiale media

Nog Stories
Diego dalla Palma FilLift
Diego dalla Palma FilLift
error: Content is protected !!