Hoe kry jy jou kind aan die gesels? Jy is die ene glimlaggies en moederlike deernis wanneer jou kind die kardeur oopmaak en vra opgewek: Hoe was jou dag? ‘okay’ of ‘ek kan nie onthou nie’ of bloot ’n grom. Hier is wenke om jou kind aan die gesels te kry. Deur sielkundige Gerda Kriel
04/03/2022
Ons almal ken die scenario: jy sluit so vinnig as moontlik jou koffieafspraak/vergadering/ zoom-konsultasie af met ’n swaar gevoel in jou maag. Die horlosie staan nie stil nie en jy is amper laat om jou kind by die skool op te laai.
“Mom-guilt” kruip uit die grot van jou gedagtes en kla jou aan van ’n duisend misdade teen jou arme bloedjie. Terwyl jy soos ’n renjaer om die draai jaag om saam met die lui van die klok voor die skool stil te hou, neem jy jou voor om vandag met arme bloedjie te “bond”. Dit is juis tyd dat jy weer hoor wat in sy/haar lewe gebeur.
Net om begroet te word met (as jy gelukkig is) ’n grom. Diep agter uit die keel.
Die moeder-instinkte kwyn, en jy wil sommer dadelik vir jou kind ’n preek afsteek oor goeie maniere, maar dan onthou jy: julle gaan mos vandag “bond”. Terwyl jy oor die wiskunde toets uitvra staar bloedjie reeds by die venster uit, glad nie lus vir ma se gesels nie. Jou goeie intensies is by die venster uit, en jou irritasie skiet die hoogte in. Jou kind weier bloot om jou vrae te beantwoord!
Kry jou kind aan die gesels met hierdie agt wenke
Interaksie soos hierdie laat ouers daagliks gefrustreerd in hulle pogings om met hulle kinders ’n band te vorm. As dit vir jou dikwels voel asof jy eintlik met ’n muur gesels, is hier agt wenke waarmee jy jou kind met jou aan die gesels kan kry.
1. Benader hulle stadiger
Die eerste fout wat ouers maak, is om soveel as moontik inligting so vinnig as moontlik uit hulle kind te probeer kry. As jy vir jou kind reeds drie vrae gevra het teen die tyd wat die skoolgebou in jou truspieëltjie verdwyn, vra jy waarskynlik te vinnig te veel vrae. Jou kind kan dan oorweldig voel, en heeltemal toeklap. Gee hulle tyd voordat jy begin vrae vra oor hulle dag, al brand jy van nuuskierigheid.
2. Reflekteer voordat jy vra
As jy nie seker is watter vrae om jou kind te vra nie, reflekteer eers net iets wat jy observeer. Jy kan byvoorbeeld sê jy sien hulle lyk baie vrolik vandag. Of jy het opgemerk dat hulle lekker met die vriende gesels het by die hek. Wanneer jou kind nie dadelik antwoord nie, hoef jy jou nie te bekommer nie, wees net teenwoordig, en luister vir enige inligting, as jou kind enige iets sê in reaksie op jou refleksie, kan jy altyd geïnteresserd verder gesels.
3. Vra buitengewone vrae
Om jou gewone rits vrae af te rammel, voel dalk vir jou of jy belangstel, maar kinders beleef dit soms as inmengerig. Vra bietjie vrae soos: “Watter kind het die snaaksste haarstyl by die dans gehad?” of: “Wat het vandag in jou klas gebeur wat jou laat lag het?” Vrae soos hierdie prikkel jou kind se verbeelding, en as dit eers gebeur, is hulle gewoonlik lus om meer te gesels.
4. Luister. Luister regtig.
Om vrae soos ’n rympie af te rammel, en dan self afgetrokke te antwoord, terwyl jou gedagtes eintlik elders is, is een van die vinnigste maniere om jou kind te laat belangstelling verloor in julle gesprek. Kinders, ongeag hulle ouderdom, weet wanneer iemand opreg na hulle luister, en wanneer ons net die regte geluide maak. As jy jou kind aan die gesels wil hou, maak oogkontak, knik jou kop, en vra toepaslike opvolgvrae geskoei op dit wat jou kind gesê het.
5. Ken jou kind se wêreld
Stel belang in jou kind se belangstellings. Of dt nou behels dat jy moet weet wanneer die volgende Peppa Pig partytjie is, die nuutste superheldfliek loods, of hoe die nuutste Minecraft grafika lyk, as jy jou kind se wêreld ken, sal jy makliker met hulle gesprekke kan aanknoop en volhou.
6. Moenie te vinnig dissiplineer nie
Dit gaan van tyd tot tyd gebeur dat jou kind woorde gebruik of iets sê waarmee jou morele waardes nie saamstem nie. Weerhou jou daarvan om dadelik daarop kommentaar te lewer, en jou kind te korrigeer. Dit laat kinders dikwels mismoedig voel, of selfs voel dat sekere dinge nie voor jou gesê kan word nie. Luister altyd eers met ’n oop gemoed, voordat jy hulle regshelp. Luister en reageer eers met opregte belangstelling na dit wat hulle wil deel. Jy kan altyd later vir hulle herinner dat sekere woorde of frases nie goeie maniere is nie, en hulle dan korrigeer, sonder om hulle skaam te laat voel.
7. Beantwoord jou kind se vrae
Ons is so geneig om ons kinders se vrae op afgetrokke maniere af te maak, of as snaaks of kinderlik te sien, maar wanneer ons ons kinders se vrae met eerlikheid beantwoord, skep ons die geleentheid vir hulle om te voel dat hulle aktiewe deelnemers aan ’n gesprek is, eerder as die passiewe ontvanger van vrae. Beantwoord die vrae, en demonstreer op so ’n manier ook dat jy bereid is om weerloos te wees en met hulle te wil tyd deurbring.
8. Wees teenwoordig
Ons kinders is meestal nie gereed om te gesels wanneer ons hulle gaan oplaai by die skool, of wanneer ons gejaagd is na werk nie. Wanneer ons pogings dan plat val, is dit so maklik vir ons om mismoedig te voel en te onttrek van hulle. Maar as ons net teenwoordig is, iewers rondom ons kinders terwyl hulle lees, speel of huiswerk doen, sal die geleentheid vir gesels vanself te voorskyn kom. ’n Ontspanne atmosfeer skep die perfekte omgewing vir gesels om te floreer! Wees dus daar vir jou kind, juis wanneer hulle lekker asem geskep het.
Kommunikasie met ons kinders behoort dieselfde gravitas te dra as kommunikasie met enige ander volwassene. En dit is moontlik sodra ons ons kinders sien as volwaardige persone, wat interessant, uniek en intelligent is. Op so ’n manier sal ons ons luister ook aanpas sodat dit gesels by hulle aanmoedig.
Die belangrikste wenk is om nooit op te gee op jou kind nie. Elke verhouding gaan deur seisoene van goeie kommunikasie en swakker kommunikasie, dit maak nie van jou ’n mislukking as ouer wanneer jy en jou kind deur ’n moeilike seisoen beweeg nie. Bly teenwoordig, bly geïnteresseerd, en bo alles: bly lief. In die moeilikste seisoene het ons dit juis die meeste nodig.
Gerda Kriel is ’n kliniese sielkundige wat in Somerset-Wes praktiseer. Besoek gerus haar webwerf helderbergpsychology.com
Lees ook: