Bloedsuiker en menopouse. Hoe beïnvloed die twee mekaar? Onstabiele hormone, omgewingsfaktore, spanning en jou dieēt het alles ’n invloed. Jy voel moeg en het ’n enorme suikerlus, maar soetgoed kan jou net nog moeër laat voel. ’n Lae koolhidraat dieet is ’n beter oplossing. Deur Vickie de Beer
11/08/2023
My seun, Lucca de Beer, is met tipe 1 Diabetes gediagnoseer toe hy 8 jaar oud was. ’n Paar jaar na die diagnose het ons hele gesin oorgeskakel na ’n lae-koohildraat dieet. Ons het vinnig besef dat Lucca se bloedsuiker baie meer stabiel was en ook dat hierdie manier van eet ook vir my en my man voordele ingehou het.
Bloedsuiker en menopouse
Ek het heelwat navorsing gedoen oor die effek wat bloedsuiker op menopouse het en het besef dat jou hormone al hoe meer onstabiel raak soos wat jy ouer word. Jou hormone word beïnvloed deur omgewingsfaktore (soos die gifstowwe in jou skoonmaakmiddels!), ’n stresvolle leefstyl (kortisol), jou dieet (insulien) en menopouse (estrogeen). ’n Bose kringloop ontstaan in jou liggaam wat tot ernstige gesondheidsgevolge soos hartsiektes en Diabetes 2 kan lei.
Menopouse is ’n proses waardeur elke vrou uiteindelik moet gaan en alhoewel ons nie veel beheer daaroor het nie, het ons wel beheer oor hoe ons liggame daarop reageer.
Menopouse dui die einde van jou menstruasiesiklus aan. Jy is amptelik in menopouse as jy vir ’n jaar lank nie gemenstrueer het nie. Estrogeen- en progesteroonproduksie neem af en kan nare simptome soos warm gloede, nagsweet, hartkloppings, ekstra gewig en emosies wat wipplank ry tot gevolg hê.
Estrogeen speel ’n belangrike rol in jou liggaam:
- Dit beskerm jou teen bloedvat-en hartsiektes en met die afname van die hormone verhoog jou kanse op hoëbloeddruk en hartaanvalle.
- Terselfdertyd word jou sensitiwiteit vir insulien ook verlaag, want estrogeen het jou gehelp met die effektiewe opname daarvan. Dit is hoekom middeljarige vroue dikwels vet om hul middel begin kry. Dié maagvet verhoog om die beurt weer jou insulienweerstandigheid, ‘n bose kringloop wat uiteindelik tot tipe 2 diabetes kan lei.
- Estrogeen dra ook by tot jou breingesondheid deur inflammasie teen te werk en die bloedvloei en boodskappe na jou brein te verbeter. Dit beïnvloed ook jou gemoed en tree op as ’n anti-depressant. Jou fynmotoriese bewegings en geheue word ook deur estrogeen beinvloed.
Middeljarige vroue kla dikwels oor “brain fog” en lompheid en dit kan direk aan die afname van estrogeen in jou liggaam gekoppel word.
7 maniere hoe ’n lae-koolhidraatdieet jou kan help met die simptome van menopouse:
1. Dit kan onstekingsvlakke verminder
Deur verwerkte en verfynde koolhidrate, suikers en gluten uit jou dieet te sny, verlaag jy die algemene ontstekingsvlakke in jou liggaam wat verbind word aan simptome soos warm gloede. Verhoogde, langdurige ontsteking kan ook hartsiektes veroorsaak.
2. Dit help om bloedsuiker en insulienvlakke te stabiliseer
’n Lae-koolhidraatdieet propvol groen, veselryke groente, proteïne en gesonde vette help ook om jou bloedsuiker en insulienvlakke te stabiliseer.
3. Dit help om spiermassa te bou
Vroue is geneig om baie spiermassa te verloor namate hul ouer word en ’n dieet wat hoog is in proteïn en vette help om die spiermassa te behou.
4. Verhoogde konsentrasie
Suiker kan ook “brainfog” veroorsaak, en deur dit uit te sny kan jou brein op goeie vette eerder as glukose staatmaak vir energie. Dit verhoog konsentrasie en laat jou skerper voel. Siektes soos Alzheimers word ook verbind aan verhoogde insulienvlakke wat alreeds verhoogde bloedsuiker impliseer. Om die waarheid te sê, Alzheimers word Diabetes 3 genoem en vroue staan ’n groter kans om daarmee gediagnoseer te word as mans.
5. Minder urienweg-infeksies
Hoë bloedsuiker kan ook urienweg-infeksies veroorsaak, nog ’n rede om jou bloedsuiker so stabiel moontlik te hou.
6. Gewigsverlies
’n Lae-koolhidraatdieet kan ook help met gewigsverlies, veral maagvet wat kan metaboliseer en insulienweerstandigheid kan veroorsaak.
7. Beter slaap
Onstabiele bloedsuikers veroorsaak ook rustelose slaap. Moegheid as gevolg van ’n slapelose nag verhoog weer jou kortisolvlakke wat jou weer op sy beurt insulienweerstandig maak. Slapeloosheid beïnvloed jou gesondheid en jou daaglikse funksionering baie. ’n Lae-koolhidraatdieet dra by tot beter en dieper slaap omdat dit jou bloedsuiker stabiel hou gedurende die nag.
The Type 1 and Type 2 Diabetes Handbook
’n Paar jaar na Lucca se diagnose het ek en Kath McGaw the Low Carb Solution for Diabetics geskryf om ma’s met kinders met Tipe 1 Diabetes te help. Dié boek het 44 000 kopiëe wêreldwyd verkoop en ons het besef dat daar baie meer mense daarbuite is wat baat kan vind by die handleiding. The Type 1 and Type 2 Diabetes Handbook is ’n herdruk van die eerste boek, maar met baie meer inligting oor hoe om jou bloedsuiker stabiel te hou op die lae-koolhidraat manier. Dit is nie net vir tipe 1 en tipe 2 diabete nie maar vir almal wat hul bloedsuiker so normaal moontlik wil hou om ’n gesonder lewe te lei.
Lees ook: