Hoekom kry jy daardie aaklige harde ken-hare en wat kan ’n mens daaraan doen? Dermatoloog, dr Suretha Kanneberg beantwoord ons vrae. Deur Suzanne Kotzé
07/01/2023
’n Vriendin vertel hoe sy onlangs met haar twaalfjarige seun praat oor snorre, baarde en skeer. Hy merk toe ewe op: “Ma, ek dink op dié stadium het jy meer van ’n snor of baard as ek.” En dan is die hare nog so hard ook, dit kan hoe kort wees, maar dis dikwels die tekstuur wat jou tot raserny dryf. Ons vra vir Kaapse dermatoloog dr. Suretha Kannenberg hieroor uit.
Hoekom kry ons harde ken-hare ons ouer word?
“Gewoonlik is die hare op ’n vrou se gesig velus hare – dus die sagte fyn haartjies. As hierdie egter verander in terminale hare, begin hulle baie langer groei en die tekstuur verander.
Indien vroulike terminale hare in manlike haarverspreiding ontwikkel noem ons dit hirsutisme. Die hare wat vroue op kenne ontwikkel is ’n laegraadse vorm van hirsutisme – basies soortgelyk aan ’n man se baard. ’n Paar haartjies hier en daar is ’n normale verskynsel.
Ekstensiewe ontwikkeling van ’n baard, en veral as daar ook tekens is van virilisasie (dus wanneer ’n vrou manlike spierontwikkeling begin kry of wanneer vroulike geslagsdele verander – kliteromegalie) dan moet ’n mens dit verseker verder laat ondersoek. Dan mag daar onderliggend iets fout wees (soos ’n ovariële tumor) wat uitgeklaar moet word.
Die rol van ouderdom, hormone en selfs gewig op harde ken-hare
Ouderdom
“Soos vroue ouer word, hou die ovarië (eierstokke) op werk. Hierdie gebeur gedurende menopouse (gewoonlik enige tyd vanaf 45-54). Hierdie maak dat die estrogeen/androgeen balans en die vrye testosteroonvlakke verander. Verhoogde sensitiwiteit vir testosteroon in sommige areas mag ook bydra tot die ontwikkeling van hare op vroue se kenne.”
Polisistiese ovariële sindroom (POS)
Vroue met polisistiese (wat letterlike baie siste beteken) ovariële sindroom het gewoonlik hoë vlakke van insulien en/of manlike hormone, wat as androgene bekend staan. Behalwe vir ongereelde maandstonde, gewigstoename en moegheid, is hirsutisme (die groei van hare op ongewenste plekke) ook ’n gevolg hiervan.
Areas wat gewoonlik geaffekteer word, is die gesig, arms, rug, bors, duime, tone en maag. Hierdie haargroei is as gevolg van hormonale veranderinge.
Gewig
“Selfs obesiteit mag betrokke wees in die ontwikkeling van hierdie hare. Vet, veral sentrale vet (in die maag-area ) is baie hormonaal aktief en produseer ook androgene. Hierdie op sigself kan bydra tot die ontwikkeling van harde hare op vroue se kenne.”
Gaan sien ’n dokter
- Indien dit meer ekstensief is – dus hare in snor area en ander manlike haar verspreiding ontwikkel
- Vinnige aankoms of vinnig vererger
- Wanneer dit saam met abnormale menstruasie of infertiliteit, acanthosis nigricans (donker verkleuring van vel in voue soos nek, lies en onderarms) en/of kliteromegalie (vergroting van die klitoris).
Medikasie en haargroei
Eksogene testosteroon, soos anaboliese steroiede, sal dit byvoorbeeld vererger. Soms neem vroue testosteroon vir ander mediese redes en het haarverspreiding as gevolg. Danazol is byvoorbeeld ’n medikasie wat vir die behandeling van endometriose gebruik word, wat ook hierdie abnormale haarverspreiding kan veroorsaak.
Hoe raak ’n mens van die harde hare ontslae?
Daar is verskeie maniere om dit aan te spreek.
As daar identifiseerbare oorsaak is – dus as daar medikasie is wat dit veroorsaak of as dit as gevolg van obesiteit is, behoort dit aangespreek te word.
In premenopousale vroue is die gekombineerde orale kontrasepsie – veral die met antiandrogeenaksie (dieselfdes wat algemeen gebruik word vir akneebehandeling) gewoonlik ’n oorsaak, en die eerste stap van behandeling sal wees om van dit af te gaan.
Indien dit nie genoeg werk nie mag jou dokter dalk voorstel om verdere antiandrogeenbehandelings by te voeg – soos spironolaktoon of siproteroonasetaat.
Onthou egter: wat ookal probeer word: dit moet ses maande kans gegee word om regtig te sien of dit werk.
Eflornitien is ’n room (handelsnaam Vaniqa) wat nie formeel beskikbaar is in Suid-Afrika nie. Dit word wel deur sommige apteke aangemaak (onder andere Lycoderm in Pretoria) op doktersvoorskrif. Dit is baie effektief om haargroei te vertraag. Gesels gerus met jou dokter hieroor.
Laser

Laser mag baie effektief wees as die hare gepigmenteer is. Die beste resultate kan verwag word as die hare donker/swart is en die vel lig is. Ligte hare en grys hare reageer ongelukkig nie goed op laser nie (eintlik gad nie).
Elektroliese
As jou hare lig of grys is, is elektroliese eintlik die beste fisiese metode om te probeer. Herhaalde behandelings sal in die algemeen nodig wees.
Pluk

Stylvol wenk: hou maar atlyd ’n haartangetjie byderhand (in jou handsak, in jou kar en oral waar jy gaan), want mens is meer geneig om hierdie hare in natuurlike, harde lig raak te sien. Ons glo vas Tweezerman se haartangetjie werk die beste om kort, harde haartjies vas te gryp. Onthou, nadat jy gestort het, is die beste tyd vir pluk, aangesien jou haarfollikel oop is en die hare makliker uitkom.
Dr. Kannenberg se praktyk is in Durbanville, Kaapstad, maar jy kan ook ‘n aanlyn konsultasie met haar doen. Klik hier: dr.derma.co.za