Soos ons ouer word, word ons pelviese vloer (bekkenbodem) ook ouer. Ons gee aandag aan teenverouderingsvelsorgroetines en probeer fiks bly, maar min van ons onthou van oefening om die belangrike ondersteunende spiere van die pelviese vloer ook stewig en gesond te hou. Deur Suzanne Kotzé.
22/07/2022
Volgens verskeie ‘trend’ voorspellers is pelviese vloer gesondheid ’n groot fokus vir 2022. Met vele estetiese behandelings, kundiges en ‘oefen-apparate’ hiervoor, is dit nie nodig om te knyp as jy nies nie (behalwe as jy dit vir oefening doen).
Die dokter deel
Kaapse estetiese ginekoloog dr. Natalia Novikova deel met ons die volgende inligting
Tekens dat jou pelviese vloer dalk nie meer so ‘gesond’ is nie
“Die hooffunksie van jou pelviese vloer is op jou pelviese organe te ondersteun. Wanneer dit jou organe nie meer genoegsaam ondersteun nie, kan vroue die volgende ondervind:
Urinêre inkontinensie
Uriene lek wanneer jy nies, hoes, hardloop of spring of jy moet gereeld gaan piepie.
Vaginale losheid
En daar is ook minder wrywing gedurende seks as gevolg van ’n swak pelviese vloer.
Pelviese orgaanuitsakking
In uiterste gevalle kan vroue ondervind dat hulle pelviese organe uitsak,” verduidelik dr. Novikova. Volgens womenshealth.gov ondersteun ons pelviese spiere en weefsel ons pelviese organe (blaas, serviks, uterus, vagina en rektum) soos ’n hangmat. ’n Uitsakking vind plaas wanneer jou spiere en weefsel nie meer die organe genoegsaam kan ondersteun nie omdat dit verswak of beskadig is. Tekens daarvan kan urinêre en fekale (ontlasting) inkontinensie wees.
Waarvan verswak jou pelviese vloer gewoonlik?
Dr Novikova sê dit verswak gewoonlik as gevolg van en gedurende
Swangerskap
Die hormonale veranderinge en meer druk as gevolg van die groeiende baba kan jou pelviese vloer verswak.
Vaginale kindergeboorte
Dit rek die spiere van jou pelviese vloer wat kan veroorsaak dat dit verswak.
Menopouse
Lae estrogeenvlakke en ’n afname in kollageen veroorsaak ook verswakking.
Direkte impak/krag
Gewigtoename, hardlywigheid en kroniese hoes kan ook verswakking meebring.
Sommige sportsoorte
Sommige professionele sportvroue, soos hardlopers, kan ook ’n verswakte pelviese vloer hê en as ’n gevolg hiervan inkontinensie.
Genetiese faktore
Of dit in jou familie voorkom speel ook ’n rol.
Hoe hou jy jou pelviese vloer gesond?
1. Jou dieët
’n Gesonde dieët met baie vars groente en vrugte en gereelde stoelgang is baie belangrik.
2. Kegeloefeninge
Kegeloefeninge is noodsaaklik vir ’n gesonde, sterk pelviese vloer, maar baie vroue sukkel om dit gereeld te doen.
3. Jou postuur
’n Sterk, gesonde kern en goeie postuur het ’n positiewe effek.
4. Vaginale laser of radiofrekwensiebehandeling
Dit stimuleer kollageenproduksie en behandel middelike urinêre inkontensie en vaginale losheid.
5. Emsella
Emsella is ’n pelviese vloer-oefenmasjien wat werk deur hoë intensiewe elektromagnetiese energie wat jou pelviese vloersenuwees stimuleer en jou spiere laat saamtrek. Vroue ondervind 11 600 kegels gedurende 28 minute se behandeling. Ses behandelings twee tot drie keer per week word aanbeveel vir die behandeling om ten volle effektief te wees. Jy is teen volle geklee en sit bloot op die Emsella ‘stoel’.
Lees meer oor die Emsella stoel hier.
6. Kegelballe
Kegelballe saam met kegeloefeninge is ook populêr vir tuisgebruik. Fisioterapeute wat in vrouegesondheid en pelviese vloer spesialiseer sal jou hiermee kan help.
Lees ook: 6 Gewildste estetiese ginekologie behandelings
Die Fisioterapeut deel met ons
Annegret Wilsdorf, ’n fisioterapeut met ’n spesiale belangstelling in pelviese – en vrouegesondheid van Aucamp & Wilsdorf Physiotherapist, Kaapstad deel die volgende:
1. Haal reg asem
Om jou pelviese vloer te versterk is dit belangrik om te weet wat jy moet doen en waar die beweging moet plaasvind. Die pelviese vloerspiergroep bestaan uit twee verskillende spiervesels wat ’n stabiliseringsfunksie het, sowel as ’n vinnige kragtige kontraksie.
Die spiere is deel van die core spiere. Hierdie groep core spiere sluit die maag-, dieprug- en pelviese vloerspiere in. Hierdie spiere saam met die diafragma beheer die druk wat in die abdominale holte gegenereer word.
Deur korrek asem te haal, aktiveer ’n mens dus reeds die pelviese vloer!
2. Knyp
Om ’n willekeurige knypaksie van die pelviese vloer te kan uitvoer, moet daar ’n opwaartse en diagonale beweging in die rigting van die pubisbeen plaasvind. Dit kry jy reg deur die anus in jou lyf in te trek en in die rigting van die pubis aan die voorkant van die pelvis.
Probeer jou indink om ’n wind in te hou, of midstroom die urienestroom te stop. Wees aandagtig om nie kulbewegings te doen soos om jou asem op te hou, of jou boude of jou bene te knyp nie. Die knypaksie moet binne in die liggaam gebeur.
3. Funksionaliteit is belangriker eerder as hoe sterk jou pelviese vloer is
Dit gaan nie altyd oor hoe sterk jou pelviese vloerspiere is nie, maar eerder hoe funksioneel dit is. Die spiere moet kan stabiliseer, kragbewegings doen en soepel wees – soos enige ander spier in jou liggaam.
As ’n spier effektief moet kan saamtrek moet dit genoeg ruskans ook kry. My raad is om eerder ’n fisioterapeut wat hierin spesialiseer te besoek indien jy enige ongewensde simptome het soos:
- urienêre of fekale glipse/lek,
- prolaps simptome,
- pyn met gemeenskap,
- hardlywigheid,
- aanhoudend voel of jy moet gaan piepie,
- pelviese vloertrauma soos na geboorte of operasie,
- pelviese vloer veranderinge tydens menopouse of chroniese perineale pyn.
Wenke om jou pelviese vloer gesond te hou
Dit is nooit te laat om met rehabilitasie te begin nie! Dit moet deel raak van jou daaglikse aktiwiteite en funksies, anders vergeet ’n mens daarvan.
- Span jou pelviese vloer in wanneer jy voel dat jy gaan hoes of nies.
- Probeer ’n knypaksie behou en asemhaal terwyl jy by ’n bekende stel trappe opklim (bv. by die huis of werk).
- Behou ’n ferm knypaksie wanneer jy iets optel of skuif wanneer jy huis skoonmaak.
- Doen knyp- of ontspanningstegnieke terwyl jy wag vir die ketel om te kook of jou tande borsel.
- Beperk hardlywigheid so veel as moontlik.
- Daar is kegelballe, yoni eggs en ander toerusting beskikbaar by groot apteke soos Clicks of Dischem asook aanlyn by mysexualhealth.co.za aen matildas.co.za Ek sou wel voorstel dat jy eers ’n pelviese vloer fisioterapeut of ginekoloog besoek en raad kry voordat jy iets aanskaf.
Besoek gerus awphysio.co.za vir nog besonderhede. Loer gerus ook hier vir nog inligting oor fisioterapeute in die veld.