Joernaalhou; ’n styl vir elke persoonlikheid

As dit by joernaalhou kom, is daar soveel verskillende style; van puntsgewys vir doeners en droomjoernale vir dromers. Leer meer oor verskillende tipes joernaalhou en wat by watter tipe persoonlikhede pas. Deur Suzanne Kotzé

Die voordele van joernaalhou

Selfinsig

Dit is soos om ’n gesprek met jouself te hê en jouself beter te leer ken. Daar is boonop geen oordeel nie en dit skep ruimte vir selfontdekking. Dit kan daartoe lei dat jy jouself beter verstaan en besef wat jou sterk en swak punte is en wat jou gelukkig maak.

Orden ’n warboel gedages en emosies

Om oor goed te skryf is soos om ’n deurmekaar kas reg te pak en orde in jou kop te skep.

Kreatiewe uitlaatklep

In jou joernaal kan jy kleure, skrif en prente gebruik waarvoor jy lus voel. En hoe min van ons kleur in, teken of skryf selfs. Sonder oordeel. Net die inkleur van mooi woorde is alreeds terapeuties.

Probleemoplossing

Wanneer jy skryf kom probleme en vrese ook na die oppervlak, en net deur bewus te wees en dit te verwoord kan help met oplossings. 

Dit kan ook help dat jy bewus is van wat spanning veroorsaak en hoe jy dit dalk kan hanteer.

Doelwitte bereik

Deur jou doelwitte op papier neer te skryf, kan jy dit meer werklik laat voel en as jy dit sien, inspireer dit jou dalk om daad by woord te voeg.

Verskillende style joernaalhou pas by verskille tipes mense

Vir doelgerigte doeners

Puntsgewyse joernaalhou (bullet journaling)

Met hierdie tegniek maak jy puntsgewyse lysies om tred te hou, en dit kan help om orde in jou brein te skep en dat jy take meer doelgerig afhandel.

Voorbeelde sluit in

  • Wat jy eet
  • Hoeveel water jy gedrink het
  • Watter tipe oefening jy gedoen het en hoe lank/hoe goed jy dit gedoen het
  • Lysies van flieks wat jy wil kyk of restaurante wat jy nog wil besoek.

Loer gerus by Masha Plan vir oulike idees en inspirasie.

Loer gerus op Canva op jou eie joernaalblasye te maak.

Projek joernaalhou

Hierdie tipe joernaalhou handel oor ’n spesifieke projek wat jy beplan of waarmee jy dalk reeds besig het. Dit help jou om tred te hou van jou projek.

Vrae wat jy kan beantwoord in hierdie tipe joernaal is:

  • Wat is die doelwitte van jou projek.
  • Wat is die motivering vir jou projek?
  • Wat het jy nodig om te begin? Wie kan jou help?
  • Wat verhinder jou om te begin?
  • Daaglikse dagboek-inskrywings van jou vordering.
  • Idee-lysies vir jou projek.
  • Wat is jou klein oorwinnings.

Vir kreatiewes en kunssinniges

Kuns-joernaalhou

Daar is geen reëls as dit kom by kunsjoernaalhou nie. Solank jy jouself uitdruk. Of jy nou wil skets, of verf, of inspirerende gedigte of aanhalings inplak. Behalwe dat dit pret is, kan dit ook help dat jy jou denke en gevoelens verwerk en ook om te droom, beplan en te doen.

Visualiseringsbord joernaalhou

Met hierdie tipe joernaalhou maak jy ’n visualiseringsbord voor in jou joernaal. In jou joernaal reflekteer jy oor wat jy op jou bord het, die vordering wat jy maak en om dit te hersien. Jy kan daagliks of weekliks na jou bord kyk en aanpassings maak.

Lees meer hier: ’n Visualiseringsbord; so maak jy dit

Plakboek joernaalhou

Met hierdie tipe joernaalhou gebruik jy ’n mengsel van skryf, kuns en plakboek. Dit kan prentjies, foto’s, plakkers en aanhalings inhê. Enige iets wat jy wil. Ideaal vir die van ons wat dalk kreatief is maar huiwerig is om self te teken. Maak seker jy maak mooi fotos, aanhalings en prentjies bymekaar en hou dit in jou dagboek. ’n Tipe dagboek met ’n koevert/plek waar jy prentjies kan bêre is ideaal.

Gemors-joernaalhou

Hierdie is amper soos plakboekjoernaalhou. Jy gebruik enigiets, meestal goed wat ander mense dalk sou weggooi. Van konsertkaartjies, strokies, inkopielysies, ou nota’s of papiere uit ou boeke. Jy gebruik dit as kreatiewe uitlaatklep en om uitdrukking aan emosies te gee.

Vir skrywers

Dagboekhou

Hierdie daaglikse dagboekhou-styl is ideaal vir skrywers. En hier kan jy enige iets skryf van wat gebeur het, of jou gevoelens of wat jou geïnspireer het. Aanhalings van skrywers of woorde is ook goeie opsies.

Emosioneel in pas

As jy die tipe persoon is wat daarvan hou om emosionele in pas te wees en emosioneel te groei is die volgende tipe joernhaalhou style vir jou.

Dankbaarheidsjoernaal

Met hierdie tipe joernaalhou skryf jy dinge neer waarvoor jy dankbaar is. Dit kan enige klein dingetjie wees wat gedurende die dag gebeur het (van ’n nuwe tandeborsel tot ’n lekker bord kos of ’n mooi sonsopkoms). Deur ’n gewoonte te maak hiervan kan jy jou brein leer om meer op die positiewe dinge in jou lewe te fokus.

Hierdie is ook ’n wonderlike idee om met kinders te doen. Dit help nie net om kinders te help fokus op klein dingetjies waarvoor hulle dankbaar is nie, maar dit help jou ook om meer te leer oor wat aangaan in jou kind se lewe. Ek en my oudste seun het dit so ’n paar jaar gelede saam gedoen en dit was wonderlik. (En dit help natuurlik dat hulle skryf, en handskrif en spelling ook oefen.)

Lees ook: Dankbaarheid: wat dit nié is nie – en 3 maniere om dit vir jou te laat werk

Emosionele argivering

Jy skryf jou daaglikse emosies neer. Dit help om insig te kry in jou emosionele gesondheid en ook met persoonlike groei.

So doen jy dit

  1. Identifiseer jou emosies en skryf dit neer
  2. Verken jou emosies en hoekom sekere gebeure jou op ’n seker manier laat voel het.
  3. Probeer om patrone raak te sien, wanneer en wat jou laat goed en sleg voel.

Kyk gerus by pagesofpositivity.com vir idees

Gelowiges

Gebedsjoernaal

Hou tred met gebede vir jouself en vriende/familie. Stukkies uit die Woord wat jou inspireer en ook waarvoor jy dankbaar is. Maak jou joernaal mooi en skryf verse wat jou inspireer neer. Nog idees wat jy kan neerskryf

  1. Gebede
  2. Gebede wat beantwoord is
  3. Goeie dinge wat gebeur het
  4. Waarvoor jy dankbaar is
  5. Drome wat jy gehad het/hoe die Heilige Gees met jou gepraat het.
  6. Hoe God met jou gepraat het.
  7. Prys en dien

Dromers

Droomjoernaalhou

Ons drome kan help om ons (dikwels verborge) drome, wens en vrese te verstaan. So dikwels vergeet ’n mens binne minute wat jy gedroom het, terwyl ander drome jou weer heeldag bybly. Sodra jy wakker word, skryf neer wat jy gedroom het en hoe dit jou laat voel het. Hou ’n boekie en potlood of pen op jou bedkassie of jy kan selfs ’n stemopname op jou foon maak.

Stylvol

Handige ekstra wenke en raad, spesiale afslag en wenke, slegs vir die binnekring.

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Oor ons

Stylvol sosiale media

Nog Stories
oggendsonlig
7 Redes waarom oggendsonlig goed is vir jou
error: Content is protected !!