Dit is tyd vir slaap en dan hoor jy ‘maar ek is honger!’ Ons het by ’n dieetkundige raad gevra oor gesonde slaaptydversnaperinge (vir kinders en grootmense). Saamgestel deur Suzanne Kotzé

Hetsy jou kinders dalk op medikasie, soos vir AAHS, wat ook dikwels aptyt deur die dag onderdruk, of dalk net groei, en groei en groei en eet, en eet en eet; hier is gesonde slaaptydversnapering wat daardie hol kol kan vul, sodat almal beter kan slaap.
Die formule van gesonde etes sowel as “snacks” (versnaperinge)
Estee van Lingen, ’n geregistreerde dieetkundige en segspersoon vir ADSA gee raad.
Vir gesonde etes sowel as “snacks” (versnaperinge) kyk ons altyd na ’n formule van:
Vesel + proteïene, en/of gesonde vet
Hierdie help om ons langer vol te hou a.g.v die vesel.
Vesel
Vesel help ook om ons verteringstelsel gesond te hou en dien ook as kossies (prebiotika) vir die probiotika (gesonde organismes in ons spysverteringstelsel wat help met vertering).
Proteïene
Proteïene help om ons bloedsuikervlakke te stabiliseer en suiker insinking te vermy en sit ook volume in die ete om ons vinniger vol te maak sodat ons minder eet en ook langer vol bly.
Gesonde vette
Gesonde vette help ook om bloedsuikervlakke te stabiliseer en omdat dit dig is in energie, is dit perfek om by ’n ete te voeg sonder om die porsie te groot te maak.
Idees vir gesonde slaaptydversnaperinge
Hierdie onderstaande opsies sluit of al drie vesel, proteïene en/of gesonde vet of ’n kombinasie daarvan in om te voorkom dat suikervlakke nie deur die nag val en dit hul slaap versteur nie.
Dit help ook dat hulle/jy ’n kleiner porsie kan eet voor bedtyd sonder om te vol en ongemaklik te voel. Dit is ook laer in suiker en hoog in vesel om te voorkom dat dit die AAHS sneller en hul weer sukkel om aan die slaap te raak.
Voorbeelde van gesonde slaaptydversnaperinge:
- Bruin/ volgraan ryskoekie met suikervrye grondboontjiebotter/ laevet maaskaas en komkommer/ tamatie/ advokado
- Gesnyde appel met grondboontjiebotter
- Laevet biltong (30g)
- Wilds/laevet droëwors
- Oorskietvleis bv. hoender met rou groentes (babawortels of – mielies, ertjies, komkommer ens.)
- Rou groentes met laevet maaskaas/ hoemoes/ guacamole as doopsous
- Ongegeurde joghurt met vars vrugte bv. bloubessies/ aarbeie/ appels/ piesang/ mango
- Vars vrug met neute en of sade
- Neute
- Ongegeurde jogurt met rou kakaopoeier, chia sade en een teelepel heuning
- Vrugte gladdejantjie (smoothie) (1 vrug + ongegeurde joghurt en chia/flassaad poeier en opsioneel kakaopoeier)
- Laevetmelk met 1 teelepel Nesquick.
- Gevulde babapannekoeke met hoender/ tuna/ eier en rou groente (tamatie/ gemengde soetrissies/ wortel/ komkommer)
- ½ sny volgraanbrood met suikervrye grondboontjiebotter / kaas





