dankbaarheid
dankbaarheid
Foto: Pexels Nataliya Vaitkevich

Dankbaarheid: wat dit nié is nie – en 3 maniere om dit vir jou te laat werk

Kan an attitude of gratitude jou regtig help om die lewe in ’n positiewer lig te sien, gelukkiger verhoudings te kweek en al hoe meer van jouself te hou? Dit kan, maar dan moet ons verstaan wat dankbaarheid régtig is. Hier is drie internasionale kenners se insigte en die dankbaarheidspraktyke wat hulle self gebruik. Deur Mariette Snyman

1. Dankbaarheid beteken nié om terug te sit nie

vrou wat lag

“Dankbaarheid kan jou brein verander.” Die man wat so sê, is prof. Andrew Huberman van die Huberman Lab aan die hoogaangeskrewe Stanford Universiteit in die VSA. In die podsendingreeks Whoop sê hierdie briljante (en aantreklike!) neurowetenskaplike hy was jare lank onder die wanindruk dat dankbaarheid beteken om maar tevrede te wees met dinge soos hulle is. Toe besef hy hy verstaan verkeerd:

dankbaarheid is nie ’n manier om terug te sit nie – inteendeel. Dit gaan gepaard met dryfkrag. 

“Ware dankbaarheid gee jou toegang tot die diepste komponente van jou senustelsel. Positron Emission Tomography of PET-studies ondersteun die gedagte dat ‘n daaglikse periode van fisieke stilword vir 5 tot 10 minute, gekombineer met ‘n gevoel van dankbaarheid, ’n neurochemiese ‘handtekening’ skep wat die vrystelling van die goedvoelhormone dopamien, serotonien en oksitosien insluit,” verduidelik hy. “Dis ’n bietjie soos die effek van MDMA of ecstasy, maar natuurlik sonder dat dit ingeneem word. Hierdie kombinasie is werklik kragtig. Jy voel op die plek goed en bekwaam, asof jy tot baie in staat is. Jy word bewus van moontlikhede, en tog is jy gelukkig met jouself.”

Prof. Huberman se navorsing oor individue wat besonder goed presteer én dit regkry om hierdie prestasies 20 tot 30 jaar lank te handhaaf, het dit bevestig. “Die mense met wie ek in die laboratorium werk, sluit SEALS uit die spesiale taakmagte in. Hulle vaar nie net uitstekend in hul werk nie, maar is gebalanseerde mense met funksionele gesinne. Hulle beoefen almal dankbaarheidspraktyke.”

Prof. Huberman se dankbaarheidspraktyk:

“Sodra ek soggens wakker word, skuif ek alle gedagtes opsy en fokus op dankbaarheid vir die feit dat ek leef. Soos alle 40-plussers het ek al mense aan die dood afgestaan. Deur die dag skep ek doelbewus vreugdevolle verhoudingsoomblikke met die mense om my, of ek verkneukel my aan die kontak met my tien jaar-oue bulhond. Ek dink ook dikwels aan die mentors wat my gehelp het om te kom waar ek nou is.  

“Ek is iemand wat vinnig praat en baie en intens werk, maar dankbaarheid sorg dat die dag nie my reserwes tap nie.”

Prof. Andrew Huberman

Meer inligting by hubermanlab.com

2. Dankbaarheid behels nié om bloot lysies te maak nie 

“Ek het jare lank hard probeer om ’n dankbare lewe te lei,” sê die alombekende skrywer en lewensafrigter Martha Beck. “Ek het skuldig gevoel oor die voorregte wat ek geniet en was doodbang ek sou mense beledig deur na te laat om hulle te bedank. Ek het nie besef dis onmoontlik om ware dankbaarheid én negatiewe emosies soos skaamte of vrees op dieselfde tydstip te ervaar nie.

“Ware dankbaarheid beteken jy is ten volle bewus van die oorvloed om jou. Jy geniet dit wat vir jou lekker is met oorgawe, en dit vul jou met verwondering.

Martha Beck

Jy beleef egte dankbaarheid wanneer jy jou volle aandag op ’n koppie koffie of ’n mooi kunswerk toespits en ook – baie belangrik – van die res van die wêreld en die malende gedagtes in jou kop vergeet. 

“Om regtig hierdie gevoel te ervaar moet jy nie bloot ’n lysie maak van alles wat jy het of kan geniet nie: jy moet tot stilstand kom, fokus, en die positiewe belewenis van die ervaring toelaat om van jou besit te neem.” 

Martha Beck se 3:1 dankbaarheidspraktyk

“Ek hou hiervan omdat ek die dinge wat my nié gelukkig maak nie inspan om my aandag te verskuif na dinge wat my wel gelukkig maak. 

Dit werk só: 

  • Elke keer as iets skeefloop, skryf ek drie dinge neer wat reg loop. Ek verbind my om op hierdie drie dinge te fokus totdat ek opregte dankbaarheid ervaar. 
  • As iemand my sleg behandel, hou ek my oë oop vir die volgende drie mense wat my goed behandel. Ek verbind my om hulle opreg vir hul vriendelikheid te bedank, al ken ek hulle van g’n kant af nie en dink hulle ek is een van my varkies kwyt.
  • As iets in my huis breek, soek en vind ek drie dinge wat werk. Ek verbind my om by hulle stil te staan en hulle aan te prys. 
  • As ’n deel van my liggaam nie behoorlik funksioneer nie, dink ek aan drie dele wat werk en maak tyd om elkeen persoonlik te bedank. “Dankie, milt! Julle vaar briljant, toonnaels! Elmboë, julle is die beste!” 

Meer inligting by https://marthabeck.com/

3. Dankbaarheid vra niks van ander nie

In sy boek Count your blessings: the healing power of gratitude and love (Hay House, 1997) verduidelik die gedragspesialis, skrywer en sakekonsultant dr. John Demartini dat ware dankbaarheid ’n toestand is wat ’n wydoop hart verg: ’n hart gevul met onvoorwaardelike liefde. 

“Onvoorwaardelike liefde is die sterkste krag wat bestaan. Dit ken geen grense, beperkinge of weerstand nie. Dit omhels alles en almal in gelyke mate.”

Baie mense verwar onvoorwaardelike liefde met die intens emosionele toestand wat ons verliefdheid noem, maar infatuation beteken ons plaas iemand op ’n troontjie en koester heimlik groot verwagtinge van hulle. Sodra hulle ons teleurstel, ervaar ons die teenoorgestelde van dankbaarheid. Egte dankbaarheid is nie ’n positiewe gevoel nie, maar ’n toestand: een van innerlike vrede en volkome balans waartydens ons níks van ander nodig het nie. 

“Hoe dankbaarder jy voel, hoe wyer gaan jou hart oop.

“Hierdie oomblikke hoef egter nie seldsaam te wees nie. Hoe meer ons ons seëninge raaksien, hoe meer seëninge sal ons hê om raak te sien. Dankbaarheid is ’n magneet wat nóg dankbaarheid aantrek.”

Alles goed en wel, maar hoe kom ons uit by hierdie toestand van egte dankbaarheid wat niks vra nie omdat dit selfgenoegsaam is? Om mense na hierdie toestand te lei het dr.Demartini sy werkswinkel The Breakthrough Experience™ ontwerp, wat ook aanlyn aangebied word.

Dr. Demartini se dankbaarheidsoefening gerig op onvoorwaardelike liefde:

Hierdie oefening bied ons die geleentheid om oorvloedige dankbaarheid en onvoorwaardelike liefde vir ’n spesifieke mens te beleef. 

  • Skryf die voorletters neer van iemand vir wie jy graag meer liefde wil ervaar. 
  • Maak ’n lysie van wat alles wat jy as die persoon se negatiewe karaktereienskappe beskou en ’n lysie van sy of haar positiewe karaktereienskappe – alles waaraan jy kan dink. Sodra jy presies ewe veel negatiewe en positiewe eienskappe neergeskryf het, gaan jy oor na die volgende stap.
  • Vir élke negatiewe of positiewe eienskap wat jy gelys het, moet jy minstens een voorbeeld uit jou eie lewe neerskryf van ’n keer toe jy iets soortgelyks gedoen het of dieselfde eienskap getoon het. 
  • Skryf ’n dankbaarheidsbrief aan die persoon. Hou aan skryf totdat jy voel hoe jou hart oopgaan en jy bewoë raak. Trane van inspirasie is ’n seker teken van onvoorwaardelike liefde.

Meer inligting by https://drdemartini.com/

Meer oor Mariette Snyman

Mariette Snyman, ’n joernalis wat vas glo ons kan gelukkiger leef, stel gratis artikels en potgooie uit haar reeks Calm, Clear & Helpful beskikbaar op www.mariettesnyman.co.za

Hierdie inligting is bedoel vir lesers en luisteraars wat betekenisvoller liefdesverhoudings wil hê, ouerskap gladder wil laat loop, hul emosionele gesondheid wil optimaliseer of die lewe se uitdagings met die nodige steun wil aanpak. Die webwerf is ook ’n plek waar mense met bekommernisse toegang kry tot ’n wye verskeidenheid kundiges wat raad of praktiese hulp kan verskaf. 

Volg Mariette op Facebook by Mariette Snyman Journalist 

of teken in op haar maandelikse nuusbrief. Klik hier:  

Lees ook: Lea Viviers en Nicole Fortuin; emosionele welwees ‘warriors’

Oor ons

Stylvol sosiale media

Nog Stories
13 tekens dat jy dalk volwasse AAHS het
error: Content is protected !!