Carmen Niehaus
Carmen Niehaus

Carmen Niehaus se gesonder ontbytresepte uit Lekker & Goed

Of jy nou gaste kry, net jou gesin wil bederf of op die ontbytskof is as jy weggaan saam met vriende, hier is twee heerlike en gesonder ontbytresepte uit Carmen Niehaus se boek, Lekker & Goed.

10/03/2023

Met die langnaweke op hande en kuiermense op pad het ons maklike, maar ook gesonder ontbytresepte as spek en eiers gesoek. Ons het twee van ons gunsteling-resepte uit Carmen Niehaus se resepteboek Lekker & Goed gekies vir ons Stylvol-vriendinne.

CHIA-JOGURT-EN-VRUGTE-GLASIES

‘My dogterjies is so mal oor hierdie ontbyt, dat ek dit behoorlik moet wegsteek in die yskas. Dit werk selfs vir voorskool ook, omdat dit nie veel moeite verg gedurende meestal dol oggende nie,” deel Justine met ons.

Dit smaak nes poeding met die chiasaadjies wat so lekker dik raak in die jogurt. Heerlik saam met die vars vrugte en ideaal vir ontbyt, veral omdat jy die meeste werk die vorige aand doen. Dit is net so lekker vir ’n inpakete.

Maak 4 glasies   |   Bereiding: 15 min   |   Staan: oornag

JOGURT

500 ml (2 k) dik natuurlike volroomjogurt

5 ml (1 t) vanieljegeursel en 2 ml (½ t) fyn kaneel

45 ml (3 e) bruinsuiker

60 ml (¼ k) chiasaad

VRUGTE

7 geel lospit nektariens, in skyfies en blokkies gesny

45 ml (3 e) bruinsuiker of na smaak

60 ml (¼ k) suurlemoensap

Varsgemaalde swartpeper

AFRONDING

Mentblare, goed afgespoel

JOGURT Meng die jogurt, vanieljegeursel, kaneel en bruinsuiker saam.

Roer die chiasaad by en laat 30 minute staan, roer weer goed en skep 125 ml (½ k) in elke glasie. Maak toe met kleefplastiek en laat staan oornag (kan tot 3 dae in die yskas hou; dit word net ’n bietjie dikker).

VRUGTE Besprinkel die vrugte met suiker en suurlemoensap. Geur ruimskoots met swartpeper en meng goed deur. Maak toe en laat 2 uur staan sodat geure goed kan intrek en ’n effense stropie vorm.

Skep die vrugte bo-op die jogurtglase net voor jy dit voorsit.

AFRONDING Plaas ’n paar takkies mentblare bo-op elke hopie vrugte.

Varieer die vrugte volgens wat jy beskikbaar het: ’n verskeidenheid bessies; pynappel en piesang met ’n bietjie grenadella; verskeie vrugte of selfs gestoofde droëvrugte.

SJAKSJOEKA

“Sjaksjoeka is die onbyt waarmee ek myself bederf op Vrydae nadat ek en my vriendin, Laura, ons vroegoggend seeswem doen. Waar ons ookal ontbyt gaan eet na die tyd, bestel ek dit (die koue water wakker beslis my eetlus aan!) en ek sien heelweek uit na die lekker ontbyt. Ek het nog altyd gedink dit is te veel moeite om self te maak, en danksy Carmen kan ek nou myself en my huismense ook met die heerlike onbyt bederf.” Suzanne

Saggebakte eier op ’n geurige tamatiesmoor sorg vir ’n heerlike ontbyt. Dié eiergereg uit Noord-Afrika is deurtrek met die lekkerste geure; tog is dit verspot maklik om te maak en ’n heerlike alternatief vir ’n ontbyt van spek en eiers.

Genoeg vir 4   |   Bereiding: 15 min   |   Gaarmaak: 30 min

SJAKSJOEKA

45 ml (3 e) olyfolie

1 groot ui, gehalveer en in dun skyfies gesny

1 groot rooi of geel soetrissie, ontpit en in dun repies gesny

3 knoffelhuisies, in dun repies gesny

5 ml (1 t) elk komyn en paprika

1,25–2,5 ml (¼–½ t) harissa (sien wenk)

Knippie rooipeper

1 (400 g) blik pruimtamaties, grofgekap

4 ml (¾ t) elk growwe sout en swartpeper

250 ml (1 k) gekrummelde fetakaas

6 groot eiers

VOORSIT

Vars basilieblare en ’n tamatietakkie

Ekstra fetakaas

1 oondverhitte pitabrood per persoon (sien resep vir panpitas op bl. 64)

  1. Verhit die oond tot 180 °C.
  2. SJAKSJOEKA Verhit die olyfolie in ’n groot, oondvaste pan.
  3. Voeg die ui en soetrissie by en roerbraai tot baie sag, sowat 10 minute.
  4. Voeg die knoffel, komyn, paprika, harissa en rooipeper by. Verhit sowat 2 minute tot die geure goed gemeng het.
  5. Voeg die pruimtamaties by en geur met die helfte van die sout en peper. Verhit tot die tamatiemengsel verdik.
  6. Strooi die feta oor en meng dit in.
  7. Maak klein holtes hier en daar in die smoor en breek die eiers baie versigtig daarin. Sit die deksel op en laat sowat 5 minute prut.
  8. Plaas sonder die deksel in die oond tot die eiers net gestol het, sowat 10 minute.
  9. VOORSIT Sprinkel die vars basilieblare, tamatietakkie, ekstra fetakaas, sout en peper oor en sit voor saam met die pitabrood.

Wenk: Harissa is ’n sterk soetrissie-en-brandrissiesous. Jy kan dit ook vervang met sambal oelek, ras el hanout of andersins sriracha-sous.

Carmen Niehaus oor Lekker & Goed

Lekker en Goed is beskikbaar by uitgesoekte boekwinkels

Lekker & Goed is my tong-in-die-kies-naam vir ’n resepteboek gelaai met lekker resepte wat ook gesonder is. Die meeste mense is mos mal oor lekkergoed en soetgoed, so waarom dan nie ook lief wees vir geregte wat lekker en goed is vir jou nie? Dis egter in geen opsig ’n dieetboek nie. Dis die een resepteboek wat ek nog altyd graag wou uitgee en waarvoor ek al jare lank resepte bymekaarmaak, ontwikkel en uittoets. Nog altyd was dit my grootste uitdaging om deursnee-Suid-Afrikaners touwys te maak oor hoe lekker dit kan wees om gesonder te kook. Want menige dag, selfs in my dae as kosredakteur, is daar neusoptrek gekyk as ek aan ’n storie oor gesonder resepte gewerk het. Dit was egter net tot hulle die kos geproe het. Ek wil eens en vir altyd die juk afgooi wat gesonder kos nou al so lank dra as sou dit geurloos, nie lekker nie of selfs duur wees.

Die resepte in dié boek is ’n konglomerasie nostalgiese resepte waarmee ek grootgeword het en waarna ek terughunker, nou net gesonder, en ander meer moderne maniere van kook met inspirasie uit letterlik die honderde resepteboeke wat my hele huis vol staan.

Stylvol

Handige ekstra wenke en raad, spesiale afslag en wenke, slegs vir die binnekring.

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Oor ons

Stylvol sosiale media

Nog Stories
Oorkom jou skermverslawing
Oorkom jou skermverslawing so
error: Content is protected !!