Uleen Fourie se wenke vir ’n gesonder jy!

Uleen Fourie, bekend vir haar fiksheids- en gesondheidsvoedings-advies op Instagram se fokus is om vroue te help balans vind in hul reis na beter gesondheid. Uleen deel met ons foute wat sy vroue gereeld sien maak asook 7 van haar beste wenke vir ’n gesonder jy! Deur Justine Kroes

Wie is Uleen Fourie?

Jy mag dalk dink Uleen is intimiderend mooi en perfek, maar sy is uiters plat op die aarde en sy gebruik haar platform (volg haar hier) om eerlike raad en ondersteuning vir vroue (net soos ek en jy) te bied, om ‘n gesonder, fikser weergawe van onsself te word.

“Oefen is en was nog altyd deel van my daaglikse roetine, maar vandat ek kan onthou het ek ’n slegte verhouding met kos gehad. Ek het van jongs af kitsdiëte gevolg wat korttermyn resultate gelewer het. Ek het elke Maandag as ek oorbegin, geweet dat hierdie nie die oplossing is nie, maar tog het ek aangehou. Die rede was dat ek van niks beter geweet nie, want dis tog dit wat ons lees, hoor en sien oral op die internet. Nou hoe dan anders?”

Uleen Fourie

Daar en dan het Uleen haar korporatiewe agtergrond agtergelaat en ingeskryf vir ’n diploma as voedingkundige en so meer begin leer oor die “hoe, hoekom en waarom” van kos. “Ek leer steeds elke dag, en ek wil dit so graag deel met jong vroue sodat hulle nie dieselfde foute as ek maak nie!”

Uleen het al e-boeke oor voedingsgesondheid geskryf en skryf tans ook oefenprogramme vir Burnt Fit Studio.

“Om te kan sien ek maak werklik ’n verskil vir vroue vanaf jonk tot oud is my grootste motivering! Ek het van die begin af gesê as ek net ’n handjievol vroue se verhouding met hulself, kos en fiksheid kan verander is ek gelukkig! Ek het nooit gedink ek sou toeganklik wees vir so ’n groot groep vroue op sosiale media nie!”

Uleen Fourie

Uleen se 7 wenke vir ’n gesonder, beter jy!

1. Fokus op ’n leefstylverandering en nie ’n “quick fix” nie. Uleen sê “Ek het self jare se ondervinding, eksperimentasie met elke kitsdieët op die mark! Alles werk aanvanklik, maar dit kan eenvoudig nie volgehou word nie. Dit is die probleem, dit is makliker om gewig af te skud as om dit af te hou!” 

2. Hou op om kits diëte te doen en te volg– leer oor jou liggaam en leer meer oor kos en voedsame opsies vir ’n gesonder jy. Jy moet ’n eetplan volg wat gebalanseerd is, nie kossoorte uitsny of taboe bestanddele bevat nie. Die beste eetplan is die een wat in jou leefstyl inpas en wat jy kan volhou, geen mens kan vir die res van hul lewe op ’n dieët wees nie!

3. Vrouens dink steeds oefeninge is die belangrikste, maar eintlik is jou koskeuses die belangrikste en dis waar dit begin.

4. Begin by die begin en leer om oefeninge reg te doen. Om fancy oefeninge te doen baat jou niks as jy nie die basics kan reg doen nie. (klik hier en hier vir videos van gratis tuis oefeninge en die regte manier om dit te doen)

5. Gesondheid is nie net gewig en hoe jy lyk nie, maar ook hoe jy met jouself praat, jou emosionele welstand, jou slaappatrone en jou sekslewe.

6. Mense sukkel om beginsels oor metodes te verstaan. Die beginsel bly vas, as jy minder eet as wat jy verbrand, verloor jy gewig. Ongeag watter metode jy volg om dit te bereik. Metodes soos intermittent fasting, byvoorbeeld, is nie die hoofrede vir resultate nie. Dit plaas jou inname onder beperking en laat jou toe om gewig te verloor

7. Ons onderskat stap en slaap! Ons is van nature baie lui wesens, so om meer aktief te wees verwys nie net na harde fisiese oefening nie.

Vermy hierdie gesondheidsfoute sê Uleen:

Bly konsekwent

Vroue volg steeds blindelings 30 day challenges, quick fixes, pille en poeiers maar kan dit dan nie volhou nie. As jy iets nie kan volhou nie, sal jy nooit suksesvol wees in jou plan nie! Konsekwentheid en volhoubaarheid is die sleutels na sukses.

Uleen se e-boeke fokus daarop om die basiese beginsels van kos te leer, sodat waneer jy gewig verloor het, jy dit kan volhou. Klik hier om meer te leer.

Hou op vergelyk

Jy is nie alleen nie! Die lewe gaan oor soveel meer as hoe jy lyk en hoe sexy jy in n bikini kan lyk! Om jou identiteit en geluk te meet aan jou gewig is ongesond.

Skuif jou fokus na ander doelwitte wat jy wel kan bereik en jou gewig sal vanself val. Fokus op ’n leefstyl-verandering, sodra jy die proses begin geniet, voel jy klaar soveel beter as om jouself te straf om aan onhaalbare skoonheidsstandaarde te probeer voldoen.

Bly gebalanseerd

“Ek is gebalanseerd, ek oefen hard maar rus ook baie. Ek geniet gesonde resepte, maar beperk myself geensins met kossoorte nie.”

“Ek geniet ’n glas wyn sonder om skuldig te voel en ek het werklik balans gevind. Dit is my hoop dat elke vrou van kitsdiëte en -programme sal afklim en werklik begin leer hoe jou liggaam werk en om jou in te lig oor kos!”

Lees ook: ‘Anzél in die Boland’ gesels oor haar liefde vir restaurante.

Stylvol

Handige ekstra wenke en raad, spesiale afslag en wenke, slegs vir die binnekring.

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Oor ons

Stylvol sosiale media

Nog Stories
Vyf afskakelwenke om intensioneel vakansie te hou
error: Content is protected !!