Hier’s 19 van 2025 se grootste modetrends

Voorspel van 2025 se grootste modetrends. Dink aan rokke bo-oor broeke tot strepe by strepe, luiperdmotief en “barrel denims”. ’n Paar stylkenners deel hul gunsteling trends wat hul nie kan wag om te stileer nie. Saamgestel deur Justine Kroes

14/03/2025

1. “Barrel” Denims

Uitstaan denims is eintlik die oorheersende trend maar die mees kontroversiële mode-item van die jaar is die “barrel” denim. Die broek staan ook bekend as “balloon” denims of die “horseshoe” denim. Hierdie denims (wat soos ’n omgekeerde u lyk) “flare” rondom jou bobene en raak al hoe nouer rondom jou enkels. Dit skep ‘n dramatiese silhoeët en is beslis nie vir almal nie.

Ons eerste gevoel was, “nee nooit” maar hierdie denim trend het op ons gegroei. Afhangend van jou stilering daarby het die denim die potensiaal om super trendy te lyk.

2. Dramatiese silhoeëtte

Van een dramatiese (denim) silhoeët na ander. Dink groot pofskouers, volume bo, of volume by jou broek of romp.

Die 80’s is terug met hierdie tendens – nie net blazers en baadjies met skouerkussing nie maar selfs jou hemde, t-hemde en bloese sal met skouerkussings pronk.

3. Maksimalisme

Voorkomskonsultant en stylkenner Lisa Mazaleni @thestyleup_lisa op Instagram voorspel dat Maksimalisme, die “meer is meer” trend veral groot nuus sal wees hierdie jaar. “Ek voorspel dat trends soos “Quiet Luxury” en “Clean Girl Aesthetic” stadig sal begin uitfaseer, en ons sal meer patrone, kleur, tekstuur en lae sien in een uitrusting, sommer altesaam.

Hierdie trend is natuurlik ook gekoppel aan selfuitdrukking waar jy jou persoonlike styl kan uitbeeld hoe ookal dit lyk” verduidelik Lisa.

4. Boheems-sjiek

Lisa sê “die sagte romantiese en ultra vroulike silhoeëtte van die boheems-sjiek modetrend sal moeiteloos lyk maar word intensioneel gestileer” Dink veral aan sweedsleer (suede) baadjies, handsakke en rompe.

Dink aan fraiings op klere-items en selfs fraiings op handsakke. Daardie groot sagte boho-styl handsakke is nog ’n manier om die trend te dra.

5. Polkakolle

Voorkomskonsultant en stylkenner Jeanine Theron @transformed_by_jeanine op Instagram voorspel polkakolle gaan vanjaar groot raak. Polkakolle, maar nie op ’n stywe formele manier gestileer nie, eerder met ’n jonger, prettige gevoel.

Al die kolle hoef nie noodwendig dieselfde grootte of kleur te wees nie.

Dink ook aan polkakolle met deursigtige materiale vir ’n sexy gevoel eerder as tradisioneel vroulik en romanties.

6. Strepe (op strepe) op strepe

Stylkenner Jeanine Theron meen horisontale strepe is veral groot nuus vanjaar. Ons sien self baie kledingstukke met verskillende skakerings  strepe sommer so saam. Daarby ook horisontale en vertikale strepe saam.

Lisa sê die “nautical” seevaart geïnspireerde voorkoms gaan groot wees, dink aan streeptruie, rooi, wit, en vlootblou skakerings sal ook prominent wees.

Wees vanjaar meer maksimalisties met jou strepe en moenie bang wees om meer as een gestreepte item by ’n ander te kombineer nie.

7. Sportdrag-sjiek

Hierdie trend meng sportdrag-items met meer formele/luukse items in jou klerekas om jou voorkoms gemaklik maar ’n tikkie verhef te laat lyk. Jeanine Theron sê “Ek is mal oor die sportdrag-sjiek modetrend, nou dat ek baie dae langs die sportveld deurbring, is dit lekker om gemaklik, sportief en steeds modieus aan te trek”.

Die truuk hier is om te meng en pas, byvoorbeeld jou oefenbroek, tekkies, met ’n oop wit knoophemp of blazer bo oor, ’n hoed daarby sorg vir ’n tikkie ekstra cool.

8. Handsak trends

Om meer te leer oor die nuutste handsak trends klik hier:

9. Gestapelde gordels

Gordels van oorgroot en wyd na dun en fyn. Maar veral ‘n hele klompie verskillende gordels gestapel een bo die ander. Selfs gordels met gespes aan handsakke.

Dra ook jou gordel bo oor jou rokke en winterjasse.

10. Rok bo-oor jou broek

’n Terugblik na die vroeë noughties, toe ons almal rokke en rompe bo oor ons broeke gedra het! Jeanine verduidelik “Ek is gaande oor die trend, dit is ’n lekker aantrekstyl vir koeler dae wat op pad is”. Gesien op talle modeloopplanke van Hermes tot Rokh Spring Summer 2025.

Hoewel die trend dalk intimiderend mag voel vir baie is dit eintlik ’n maklike manier om aan te trek en gesofistikeerde te lyk, selfs ’n wyepyp broek onder ’n mooi streeprok lyk elegant en interessant. Om te vermy dat jy jy “noughties” vroeë 2000 voorkoms herleef, probeer om dit meer elegant te hou eerder as gemaklik, meng monokroom palette en netjieser rokke bo-oor broeke.

11. Nagemaakte “Faux”-pels

Voorkomskonsultant en stylkenner Lizanne Anderson @hellobeautiful_imageandstyle op Instagram sê “As ek nou ‘n gunsteling trend hierdie jaar moet kies sal dit die “faux fur” trend wees, ek sal dit sommer dra by ‘n ekstra wyepyp denim en ’n paar sneakers daarby”. Lizanne verduidelik “As jy dink die “faux fur” trend is nie vir jou nie, probeer dit, jy mag dalk net verbaas wees hoe baie jy daarvan hou!”

Ons stem, nie net is hierdie ’n snoesige item wat jou lieflik warm gaan hou tydens wintermaande nie, dit verander en verhef dadelik jou voorkoms met die aantrekslag, min moeite nes ons daarvan hou. Die winkels is propvol allerhande ontwerpe, cropped style of langer jasstyle, verskillende skakerings of selfs dierepatrone. Kies ’n nagemaakte pelsbaadjie of jas wat by die meeste in jou huidige klerekas gaan werk.

12. Luiperdmotief

Klik hier vir alles wat jy hoort te weet oor luiperdmotief in 2025:

13. Ooptoon skoene (Peep toe shoes)

Ons kon byna nie glo dat hierdie skoenstyl teruggekeer het nie – net nog ’n herinnering dat mode ’n siklus het – en dat jy nie altyd van alles ontslae moet raak nie. Die skoenstyl voel nostalgies maar word vandag ultra modern gestileer, dra by jou denims en t-hemp of by ’n vroulike rok. Aan die praktiese kant is dit fantasties dat ons tone sal kan asemhaal op warmer dae!

14. Kantoordrag-sjiek

Die pak, kraaghemp en das kombinasie is nou baie gewild – vroue sê totsiens vir hul strikke en hallo vir dasse wat regaf hang. Hierdie meer manlike silhoeët en aantrekstyl is tans oraloor te sien – die uitrustings en straat-styl voorkomste by internasionale modeweke maak dit duidelik. Ons hou veral daarvaan hoe mode-Instagrambekende Olivia Palermo hierdie aantrekstyl stileer.

Foto: Olivia Palermo op Instagram
Foto: Olivia Palermo op Instagram

Hierdie skakerings is groot nuus

15. Mokka bruin

Na aanleiding van die kleur van die jaar, Pantone se Mocha Mousse is bruin natuurlik ’n moet vir beide somer en winter seisoene. Donkerder mokka bruin skakerings is veral volop. Stileer die kleur met verskillende bruin skakerings bymekaar of een donkerbruin skakering van kop tot tone.

16. Ligblou

Ligblou of ysblou is ’n gewilde skakering. Veral ’n ligblou kraaghemp, dra dit by enigiets – self jou luiperdmotief denims.

17. Wynrooi/Burgundy

Tans in modekringe word die volgende gesê “burgundy is the new neutral”. Gewoonlik is wynrooi alleenlik ’n winterskakering, maar nie vanjaar nie nie – van somer regdeur tot winter is die stylopsies en kledingstukke beskikbaar eindeloos. Dra tikkies “burgundy” soos ’n skoen of ’n handsak as jy onseker is oor die wynrooi skakering.

Dit is selfs tans hoogmode om wynrooi en ligblou te kombineer in ’n uitrusting, die kleurkombinasies saam maak dalk eers nie sin nie, totdat jy die saam sien, beslis ’n gunsteling. Ons kan nie wag om ’n wynrooi en ligblou uitrusting bymekaar te sit nie – super-sjiek!

18. Geel

Bottergeel het verlede jaar die modewêreld as ’n nuwe gunsteling skakering betree – en die skakering is vanjaar hier om te bly. Dink sagte bottergeel, tot meer helder geel skakerings. Indien jy nog nie het nie, is nou dalk ’n goeie tyd om iets in geel aan te skaf.

19. Rooi

Lizanne sê “ek glo enigiets rooi gaan vanjaar groot nuus wees, as jy dit intimiderend vind om rooi aan te trek, trek jou gewone ‘go-to-style’ of uitrusting aan en stileer ’n rooi mode-item daarby, hetsy dit ’n paar rooi sneakers is, ’n rooi handsak of ’n rooi blazer, jy sal verbaas wees hoe cool dit lyk”.

Stylvol

Handige ekstra wenke en raad, spesiale afslag en wenke, slegs vir die binnekring.

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Oor ons

Stylvol sosiale media

Nog Stories
Ons beste jaskoop-wenke
error: Content is protected !!