9 Modefoute om te vermy

Vergeet van die “nuwe jaar nuwe jy” toespraak, dink eerder aan hoe jy jou modereis vanjaar kan verbeter deur bewus te wees van die mode-slaggate waarin jy dalk kan trap. Hier is 9 modefoute wat ons vroue gereeld sien maak. deur Justine Kroes

14/01/2023

1. Jy weet nie wat jou stylpersoonlikheid is nie

Die nommer een belangrikste fout wat vroue maak – hulle verstaan nie hul eie stylpersoonlikheid nie. Dit is belangrik om vas te stel wat jou persoonlike styl is; indien jy nie doen nie sit jy dalk met ’n klerekas vol klere wat een nie by die ander pas nie. Jy koop klere omdat dit dalk goed lyk aan iemand anders, maar eenvoudig net nie jou persoonlikheid is as jy dit aanpas nie.

Is jou aantrekstyl gemaklik, romanties, minimalisties of elegant? Leer meer oor stylpersoonlikhede hier:

2. Jy maak impulsiewe kopies

Impulsiewe kopies of klere op uitverkoping kan duur en onnodig raak.  Daardie impulsiewe kopies gebeur wanneer jy nie beplan om iets te koop nie, maar die massiewe rooi woord ‘sale’ verlei jou net te maklik.

Wanneer ek self voor ’n uitverkopingsrak staan, herinner ek myself “daar is ’n rede hoekom hierdie klere op uitverkoping is”. Ek vra dan ook “sou ek volprys vir die item betaal het”. Moet nie geflous word deur die goedkoper pryse nie – is hierdie item iets wat jy werklik nodig het? Of gaan jy dit eenmaal dra en dan gaan dit vir jare in jou kas hang.

3. Jy koop nie volgens jou lyfvorm nie

Het dit ook al met jou gebeur? Jy koop presies dieselfde rok wat goed lyk aan iemand anders, sodra jy dit aanpas, lyk dit die teenoorgestelde – jou heupe mag dalk groter wees en die ander persoon is regaf gebou, of jou skouers is wyer as jou heupe. Dit is goed om jou lyfvorm te ken en te verstaan en dit in gedagte te hou wanneer jy jou klere uitkies.

4. Goedkoop koop is duur koop

Neem die besluit om vanjaar minder goedkoop items te koop, en koop eerder klere-items van beter kwaliteit. Besluit op minder “fast-fashion” kledingstukke en spandeer eerder ekstra geld op kwaliteit materiale en selfs plaaslike vervaardig items. Hierdie kopies sal beter hou en vir jare lank nog ’n stapelitem in jou klerekas wees.

5. Jy koop die verkeerde grootte

Ons koop dikwels klere wat te groot is en dink ons kan iets daarmee wegsteek, en eintlik is al wat dit doen om ons groter te laat lyk. Baie vroue dink ook hulle is groter as wat hulle werklik is.

Laat gaan items wat te klein of te groot is. Dit gaan nie oor die grootte of dat jy altyd net in ’n sekere grootte moet inpas nie. Dit gaan eerder oor kledingstukke wat jou pas en jou liggaamsvorm die beste laat lyk.

6. Jou bykomstighede is outyds

Ja, daardie ou bril en groot pap leerhandsak met al die waterskade is vanjaar ’n mode nee! Verruil jou ou handsak vir iets kleiners en meer modern, jy het nie nodig om al daardie duisende rome, pille en notaboekies oral saam met jou heen te dra nie.

’n Nuwe brilraam kan ’n reuseverskil aan jou voorkoms maak. Sien dit as ’n maklike en eenvoudige manier om jou voorkoms op te kikker.

Loer hier na hoe ons verlede jaar nuwe brilrame gekies het:

7. Jy koop klere sonder ’n plan

Hoewel die meeste van ons baie daarvan hou om klere-inkopies te doen, is dit steeds belangrik om ’n plan te hê wanneer jy klere koop:

Gaan deur jou klerekas en maak ’n lys van die items wat jy nodig het (hier sal jy ook vinnig agterkom waarvan jy te veel koop of reeds het). Byvoorbeeld, jy benodig; “’n denimbaadjie, ’n swart broek, ’n nuwe paar sandale”, hou hierdie items in gedagte wanneer jy klere koop – dit sal die inkopieproses makliker maak en jou twee keer laat dink of jy werklik nog ’n swart bloes nodig het.

Vra jouself ook af by watter 3 ander items in jou kas jy die item wat jy graag wil koop, sal kan dra (hierdie toets die veelsydigheid van die item).

As jy dalk ’n kapsuleklerekas wil volg, loer gerus hier:

8. Jy is ’n slaaf van modetrends

Hier preek ons vir onnself – wanneer daar ’n nuwe trend opduik wil ons dadelik (afhangend van wat … staan opsy Croc hakskoene!) hierdie nuwe mode-item aankoop.

Wag vanjaar voordat jy die nuutste trend aankoop – en loer eers in jou eie kas of daar nie iets soortgelyks is waarvan jy dalk vergeet het nie, jy mag jouself dalk verras!

9. Meer jy, minder vergelyk

“Comparison is the thief of joy” vanjaar is ons wens dat jy minder jouself, voorkoms of jou uitrustings sal vergelyk met die van ander mense rondom jou. Vind geluk en wees selfversekerd in jou eie uitrusting keuses en onthou, as jy goed voel in ’n uitrusting gaan jy goed lyk daarin!

Stylvol

Handige ekstra wenke en raad, spesiale afslag en wenke, slegs vir die binnekring.

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Oor ons

Stylvol sosiale media

Nog Stories
Vyf modegiere van die 80’s en 90’s is nou groot nuus
error: Content is protected !!