Handsakke bly nou maar eenvoudig een van ons gunsteling modebykomstighede: ’n praktiese item wat jou hele uitrusting kan verhef en een wat jy werklik kan geniet. Loer gerus hier na die 11 grootste handsakmodes op die modewêreld se radar. Deur Justine Kroes
21/02/2025
1. Fraiings

Met maksimalisme en daarby ook die boho-sjiek modetrend wat vanjaar terugkeer is fraiings op handsakke meer gewild as ooit.
Gesien op loopplanke by – Spring Summer Ready to Wear 2025; Alexander McQueen; Fendi

2. Die “dokter” handsak
Dink terug aan hoe dokters destyds huisbesoeke gedoen het met hul groot swart mediese tasse. Hierdie handsakstyl lyk soortgelyk, behalwe effens kleiner en meer modern. Beskikbaar in allerhande skakerings en materiale, is dit beslis ’n tydlose handsakstyl wat vir nog lang jare ’n gunsteling in jou klerekas sal bly.

3. Sag, soepel en oorgroot
’n Handsakstyl teenoorgesteld van die dokter handsakstyl met struktuur is die sagte, soepel en oorgroot handsakstyl. Hierdie handsak knyp jy onder die arm vas en is groot en sag.
Dink ’n sak net so groot soos Mary Poppins se sak maar sonder die struktuur. Gewild in alle soorte teksture en skakerings en beslis ’n populêre handsakkeuse op talle modeloopplanke.

4. Bruin bo

Met Pantone se 2025 kleur van die jaar “mocha mousse” is dit duidelik dat bruin (in alle skakerings) ’n reuse modetrend is en nog gaan wees. Bruin handsakke (van donkerbruin tot ligbruin) het byna op elke modeloopplank gepronk. Kies vanjaar ’n moderne bruin handsakstyl om jou gewone ou bruin leer handsak te vervang.
Gesien op modeloopplanke by:
Victoria Beckham, Jil Sander en Stella McCartney Spring Summer ready to wear 2025:

5. Slangvel
Dierepatrone vanaf luiperdmotief en veral slangvel word voorspel om vanjaar opslae te maak in die modewêreld – en ons is hier daarvoor!

Probeer jou dierepatroon vanaf slangvel of selfs luiperdmotief-items te sien as ’n “neutrale” item – deur hierdie te doen gaan dit vir jou makliker wees om jou dieremotief by enige uitrusting te laat werk.

6. Gespes en gordels (belts and buckles)
Hierdie seisoen dra jy nie net jou gordel om jou middel nie – die versiering is vanjaar ook groot nuus op jou handsak (selfs ook op jou skoene). Hou dit eenvoudig met een gespe-detail of kies ’n meer-is-meer ontwerp met ’n klomp verskillende gespes regoor oor jou handsakontwerp.

7. Geweef
Handsakke wat soos ’n geweefde kunswerk lyk word voorspel om vanjaar ’n groot handsaktrend te word. Geweefde leer, tot geweefde raffia en selfs ’n gehekelde geweefde handsakstyl soos gesien op loopplanke by Jacquemus en Bottega Veneta Ready to Wear Fall 2024

8. Sweedsleer (suede)
Sagte sweedsleer (veral voorspel vir die koeler wintermaande) is besig om ’n baie gewilde handsak materiaalkeuse te word. Van baadjies tot broeke, skoene, hoede en natuurlik die allermooiste handsakontwerpe in sagte sweedsleer.
Stella McCartney & Miu Miu Spring Summer Ready to Wear 2025

9. Handsak bykomstighede
Aanknipbykomstighede, of handbag charms soos dit bekendstaan, is ’n reuse handsaktrend. ’n prettige trend wat verlede jaar reeds groot aandag geniethet. Die idee? Sien jou handsak nes jou “charm bracelet” en versamel en versier met handsakbykomstighede na hartelus! Selfs klein miniatuur weergawes van jou handsak vasgebind aan jou groter handsak.

Ek moet bieg, ek dink ek sal lyk soos my graad 1 dogtertjie op pad skool toe met ’n skooltas vol allerhande “versamel” teddies, lipsalf, klein beursies en nog meer vasgeknip aan die ritsluiters van my handsak. Net om te dink aan die geluid van dit alles saam maak my sommer moeg! Hierdie is beslis gepas vir die “meer is meer” dramatiese stylpersoonlikhede.

10. Oos/wes handsak styl
Hierdie minimalistiese sjiek, langwerpige skouerhandsakkie is tans oraloor te sien aan modebekendes se arms en staan bekend as die “East/ West” handsakstyl. ’n Silindertipe ontwerp (dink aan ’n AA battery) handsak met struktuur en ’n retro gevoel.

Die handsakstyl staan ook bekend as die worshondjiehandsak. Dit klink dalk vreemd maar ontwerper Alaia het die proporsies van die reguit, lang en slanke handsakstyl so beskryf omdat dit dieselfde proporsies as ’n daschund of worshondjie het
11. Omhels kleur
Verlede jaar was die “pop of red” handsak ’n gewilde styl-item en vanjaar lyk dit asof handsakke in allerhande skakerings groot nuus is. Rooi bly steeds ’n gunsteling maar daarby ook groen, ligblou, oranje en natuurlik geel.
Kies ’n slag ’n handsakstyl in ’n helder (selfs pastel) skakering. Jy sal verbaas wees by hoeveel uitrustings so ’n handsak sal pas!
