Wie ken hierdie gevoel? Jy loer vinnig op die uitnodiging na die kleredragkode van ’n spesiale geleentheid, net om meer onseker en ideeloos te wees oor wat jy moet aantrek. Hier’s hulp, ’n handige gids tot geleentheidsdrag – leer wat beteken informeel, smart casual, semi-formeel en formeel. Met ’n paar uitrustingidees daarby. Deur Justine Kroes
01/11/2024
Informeel
Informeel word beskryf as ’n oop kleredragkode wat beteken jy kan enige informele en gemaklike uitrusting dra. Dit beteken nie noodwendig jy moet slonserig en onversorgd lyk nie, (nee geen pajamadrag nie!). Die doel hier is om gemaklik te lyk maar steeds netjies en stylvol.
Stylvol sê: Trek jou gunsteling paar denims uit jou kas uit en kombineer met ’n vroulike bloes, as jy nie graag denims dra nie, kies ’n gemaklike somersrok. Selfs ’n romp en T-hemp kombinasie sal hier werk.
Wenk: Vir geleethede wat buite plaasvind, kies dalk ’n paar sneakers of mooi sandale – ’n hakskoen gaan dalk in die sagte grond in verdwyn.
Business casual/ sake-informeel
Sake-informeel verwys na die tipe kleredrag wat jy tipies kantoor toe sou dra.
Stylvol sê: Die truuk hier is om netjies en mooi afgerond te lyk. Dink aan ’n mooi werksbroek met ’n modieuse top. ’n Meer gemaklike romp en hemp met ’n kraag is nog ’n opsie.
Wenk: Jy kan pret hê met stilering en hakskoene, juwele en bykomstighede. Moet dit liefs nie oordoen met gedoende hare, grimering en te veel parfuum nie. In jou werksplek dit toelaat kan jy selfs tekkies en ‘n t-hemp by jou pak dra.
Smart casual/Netjies informeel
Smart casual is eintlik ’n kombinasie van die informeel en sake-informeel/kleredragkodes. Smart casual is ’n professionele voorkoms wat trendy kledingstukke kombineer by meer netjiese kledingstukke met struktuur. Dink miskien aan broekpakke met ’n mooi bloes of donker denims met ’n blazer baadjie.
Stylvol sê: Met hierdie kleredragkode is dit belangrik om netjies en stylvol te lyk, maar tog eie te bly aan jou persoonlike aantrekstyl. ’n Professionele, trendy voorkoms met die buigsaamheid om steeds jou eie persoonlike styl te beklemtoon met behulp van patrone, kleure en bykomstighede.
Semi-formeel
Semi-formeel is een trappie op van die sake-informele en netjies-informele kleredragkodes. Met die semi-formele aantrekstyl kan jy steeds jou persoonlike styl helder laat skyn sonder die styfheid van formele drag.
Stylvol sê: die semi-formele kleredragkode is algemeen vir troues en aandgeleenthede. Die kleredragkode vra vir gepoleerde uitrustings ’n trappie hoër as jou alledaagse uitrustings, maar nie so formeel soos formele aandgeleenthede nie. Dink aan pakke (met hakke), cocktail rokke of rokke met pragtige detail, hetsy dit patrone of ’n reuse strik is.
Wenk: Hê pret hiermee – mini, midi en maksi-lengtes almal welkom, kies ’n lengte en rokstyl waarin jy goedvoel.
Pssst, jou materiaalkeuse kan hier ’n reuse rol speel, party materiale lyk op die oog af meer duursaam as ander. Kies ’n materiaal wat nie aan jou lyf sal vasklou nie en boonop nie elke rolletjie sal wys nie. Die regte materiaalkeuse sal jou ook nie oormatig laat sweet soos wat die meeste sintetiese materiale doen nie.
Formeel/Black tie
Die formele kleredragkode gaan alles oor glans en ’n ultra gesofistikeerde voorkoms. Gewoonlik vir aandgeleenthede
Stylvol sê: Hier’s dit nou die geleentheid om daardie vloerlengte rok en jou gunsteling blink juwele te dra. Rokke in gesofistikeerde silhoeëtte en luukse materiale soos fluweel, satyn en sy.
Laat waai die idee van net swart aantrek (dit is ’n ou reël en almal trek dit bloot aan omdat hulle nie wil uitstaan nie!) probeer gerus ’n helder skakering of ’n rok in ’n skakering wat jy weet JOU kleur is. Behalwe natuurlik as die uitnoding vra vir slegs swart uitrustings.
Wenk: Hoewel dit nie ’n reël is dat jy vloerlengte móét dra nie, word stylvolle cocktail rokke in midi en knielengtes ook aanvaar vir hierdie kleredragkode. Hou jou bykomstighede stylvol en klassiek – ’n mooi palmtas, netjies hakskoene en jou beste blink juwele.