Die idee agter dopamien-mode is om klere, kleure, teksture en bykomstighede te kies wat jou gemoed lig, jou selfvertroue ’n hupstoot gee of jou meer soos jouself laat voel. In 2026 is is die fokus van dopamiene mode meer persoonlik; wat laat jou goedvoel eerder as net kleur-en patroonontploffings. Deur Suzanne Kotzé
Dopamiene mode van 2021/2022 versus nou
In 2021 was die mode-wêreld na maande van inperking se pajamadrag en sweetpakke weer lus vir kleur en pret.’n Modieuse ontploffing van helder kleur en kop tot toon patrone, het gevolg.
Die mode pendulum het natuurlik ’n ommeswaai gehad het en ’n paar jaar van minimalistiese styl en quiet luxury het gevolg.
Dopamiene mode nou
En ja vir ’n tyd was dit lekker om meer van ’n kleurbreek te neem, maar nou is ons so reg vir kleur en bykomstighede en mode wat weer pret is.
Kyk jy na die loopplanke is daar alles van kleur tot speelse kombinasies en klere met karakter op die loopplanke.
Die verskil? Dopamiene mode in 2026 beteken nie jy moet noodwendig uitspattig wees nie.
In 2026 is daar steeds plek vir die uitbundige kleur-uitdrukking, maar die benadering is meer persoonlik.
Die fokus het verskuif van aantrek om ’n stelling te maak na aantrek op ’n manier wat jou goed laat voel.
Dit gaan minder oor die hoeveelheid kleur en meer oor hoe jy jou eie styl gebruik om jou bui en selfvertroue ’n hupstoot te gee.

Twee of meer borspelde op jou altyd-selfversekerd-voel neutrale baadjie of ’n helder handsak (wat ’n verskillende skakering is as jou skoene) by gunsteling-jeans wat perfek sit of daardie rok waarin jy altyd op jou beste voel, kan jou weergawe van dopamiene aantrek wees.
Dopamiene loopplank inspirasie
Dries van Noten se speelse en optimistiese Lente 2026 versameling

Dries van Noten het in sy Lente 2026 versameling helder kleur en patroon gebruik om dopamiene stellings op die loopplank te maak. Dink aan pienk en oranje strepe saam met ander patrone. ’n Opvallende halssnoer en kleurvolle skoene wat karakter gee. Onverwagse kombinasies het die versameling ’n speelse, optimistiese gevoel gegee.
Dries van Noten Herfs 2027; gesofisikeerde dopamiene mode

Dit is egter sy nuutse Herfs 2027 versameling wat ons harte gesteel het. Die kleurpalet was sagter, patrone meng was volop en ongewone kombinasies en borsspelde en nog borsspelde en bykomstighede. Die nuutste versameling wys hoe selfuitdrukking en dopamiene mode meer volwasse en gesofistikeerd, maar steeds prettig kan wees. Dit gaan nie net oor helder kleure nie, maar die kuns van aanteek met persoonlikheid. Ontwerper Julian Klausner vier die plesier daarvan om mooi aan te trek, sonder dat daar ’n spesiale geleentheid nodig is. Dit is die tipe dopamiene mode waarvan ons hou; minder kyk na my en meer, hierdie laat my goed voel.
“Om aan te trek vir jouself, voor die spieël te staan en speel, verskillende klere aan te pas en in ’n rol te kom. Om verskillende fasette te ontdek. ’n Rooi lip, ’n sprankelende borsspeld, ’n ingetrekte gordel; so min is nodig om daardie gevoel te ontlok.” Ontwerper Julian Klausner
Dopamiene mode; so trek jy vir jouself aan
Herontdek dat mode pret is
Onthou die dogtertjie wat jy eens was, en hoeveel vreugde dit gebring het om jou ma of ouma se klere en bykomstighede aan te pas. Voordat ons begin bekommerd raak het oor wie wat van ons dink het ons onsself verwonder aan die mooi kleure of spatsels skitter in die sonlig.
Hierdie bly een van ons gunsteling aanhalings van ontslape mode-ikoon Iris Apfel:
“Life is grey and dull, so you might as well have a little fun when you dress.”
Begin klein
Kies ’n kleurvolle handsak, groot oorbelle of helder skoene by ’n uitrusting waarvan jy reeds hou en goed voel. En nee dit hoef nie ’n kleurvolle uitrusting te wees nie.
Gee jou handsak persoonlikheid
Handsak-sierhangers is vreeslik in die mode en ‘n lekker manier om bietjie persoonlikheid en ‘n tikkie maksimalisme te verleen aa jou handsak.
Kleurblok
Onthou jy hoef nie noodwendig helder kleur en kleurblok te gebruik as dit nie jy is nie.

As jy onseker is hoe om te kleurblok, gebruik die kleurwiel as jou riglyn. Kleure wat teenoor mekaar op die kleurwiel lê (komplementêre kleure), skep die grootste kontras; dink aan kobaltblou en oranje, of pers en geel.

Vir ’n sagter aanslag, kies kleure wat langs mekaar lê, soos pienk en rooi of blou en pers. Begin met twee sterk kleure, byvoorbeeld ’n helder baadjie en ’n kontrasterende broek, en voeg ’n derde kleur by met jou bykomstighede.
Meng patrone


Met die terugkeer van maksimalisme is patrone meng beslis deel van die voorkoms en trend, maar patrone meng hoef nie noodwendig uitspattig te wees nie. Jy kan dit so groot of bont doen soos jy wil, dit is belangrik dat jy dit met selfvertroue dra en meng.
Meng patrone soos ’n modekenner
Kies tekstuur


Borduurwerk, brokaat, blinkers, vere, tossels, kunspels, fluweel en ‘teddy’ teksture bring die meer-is-meer maksimalistiese gevoel. In helder, pastelle of selfs neutraal.


Dit is ’n maklike manier of ’n tikkie dopamiene by te voeg of om jou uitrusting nog meer ekstra te laat lyk.
Bykomstighede en nog bykomstighede

Dink ’n paar kettinkies, borsspelde of armbande saam. Bonkige armbande, hangerties en groot oorbelle is weer terug.
Frille, valle en fraaiings
In kleur of neutraal.
Kyk wat jy het voor jy koop
Kyk eers wat reeds in jou kas hang voordat jy iets nuuts koop. En vra jouself soggens een eenvoudige vraag: Voel ek goed in wat ek aanhet? Ons is groot aanhangers van meng en pas wat jy reeds het. Deur te speel met patroonkombinasies, kleure en bykomstighede is dit maklik om nuwe uitrusings te skep.
Dink nuut oor jou bykomstighede



Dra meer as een borsspeld, en nie op jou kraag nie, maar sommer op jou middel of oral oor jou baadjie of jas. (Trek gerus jou kostuumjuwele nader wat jy jare laas gedra het!). Wenk: span ’n oorgroot oorbel in as borsspeld.
Kies volume
Moenie bang wees om spasie op te neem nie. (Letterlik en figuurlik).
Sien aantrek as ‘dra-kunde’
Ons is gaande oor hierdie aanhaling deur Shakaila Forbes-Bell wat in verbruikers en mode sielkunde spesialiseer
“Wearapy’ refers to the act of dressing to honor or alter one’s mood. Dressing according to how one feels can help stay present while dressing for how one wants to feel can shift.”
Dopamiene-kopies



































