Die luiperdmotief dra lankal nie meer die negatiewe konnotasie van lang jare gelede nie, vandag is “leopard print” sinoniem met hoogmode en stylvol aantrek. Twee stylkenners deel wenke met ons oor hoe om luiperdmotief as ’n neutraal te sien plus stileerwenke vir huiwerige luiperdpatroon beginners. Hulle voorspel ook hoe luiperdpatroon in 2025 gedra en gestileer gaan word. Alles wat jy oor luiperdmotief moet weet: Saamgestel deur Justine Kroes
10/03/2025
Luiperdmotief as ’n neutraal
Stylkenner Lisa Mazaleni van @thestyleup_lisa sê luiperdmotief word deur baie in die modewêreld as ’n neutraal beskou omdat die patroon aardse skakerings van bruin, swart en ligbruin bevat wat by baie ander kleurpalette pas, hetsy dit koeler of warmer skakerings is.
“In my eie klerekas beskou ek my luiperdmotief-items as ’n “neutral” en dit pas my persoonlike styl goed” vertel Lisa. “Boonop is luipermotief veelsydig, dit kan gemaklik gedra word of meer formeel sjiek lyk, afhangend van hoe jy jou luipermotief stileer”.
Jean-Mari Hellig, voorkomskonsultant en stylkenner, sê “jy kan enige kleur kombineer by jou luiperdmotief items, van helder tot sagte pastelle. Ek dink jy moet jouself toelaat om te speel met die stilering van jou luiperdmotief items en die res van jou klerekas.”
Om dit meer eenvoudig te maak, hanteer dit soos iets wat ’n denim is, jy kan enige kleur daarby aantrek, van neutraal tot kleur. “Have fun with it, life is too short to wear boring clothes!” Ek glo luiperdmotief (nes blinkers) het die krag om jou selfvertroue ‘n onmiddellike hupstoot te gee, vertel Jean-Mari.
Luiperdmotief vir beginners:
Hier is albei stylkenners dit eens, as jy huiwerig is om luiperdmotief te dra, begin klein. Lisa sê dra jou luiperdmotief eers in ’n bykomstigheid soos ’n paar skoene, ’n serp of ’n handsak.
Jean-Mari Hellig, voorkomskonsultant en stylkenner, sê die konnotasie wat luiperdmotief destyds in die modewêreld gehad het, is nou ou nuus – vandag is die luiperdpatroon hoogmode, selfs al dra jy net ’n tikkie daarvan.
“As ek iemand moet oortuig om luiperdmotief te dra, sal ek voorstel dat hulle klein begin met ’n bykomstighed soos ’n luiperdmotief gordel (belt). ’n Gordel is ’n fantastiese manier om met die patroon te eksperimenteer, en dit verhef ook dadelik ’n uitrusting en lyk trendy. Beginners probeer dan hierna ’n luiperdpatroon bloes”, is Jean-Mari se raad.
Lisa se wenk, “wanneer jy nie seker is hoe jy jou luiperdmotief-item moet dra nie, hou die res van jou uitrusting eenvoudig totdat jy byvoorbeeld braaf genoeg is om patrone te meng”.
Alle luiperdmotiewe is nie gelyk nie
Lisa verduidelik dit so, “nie alle luiperdpatrone gaan noodwendig vir jou werk nie. Hou in gedagte kleiner luiperdmotief lyk meer gesofistikeerd terwyl groter patrone effens meer bont en uitdagend mag lyk en voel.”
Jean-Mari sê “die grootte van ’n luiperdmotief maak saak, as jy fisies kleiner is met ’n fyner beenstruktuur, kies atyd ’n klein patroon. En as jy bietjie groter is kies ’n groter dierepatroon om seker te maak dat jy die patroon dra en nie dat die patroon vir jou oorheers nie”.

Jean-Mari sê “hierby is dit belangrik om op te let na jou eie kleurpalet en die van die luiperdpatroon. Party luiperdpatrone is geneig om meer geel te wees. So byvoorbeeld sal iemand met ’n koeler gelaat nie op hul beste lyk met hierdie patroon naby hul gesigte nie. Hou dit sommer in die winkel teenaan jou gesig om seker te maak dit komplementeer jou gesig en gelaat”.

Maksimalistiese (meer is meer) luiperdmotief
Dink aan ’n “meer is meer” aanslag tot mode, maar met luiperdmotief as die hooffokus. Hierdie wenk is beslis vir die meer uitdagende stylpersoonlikhede wat nie huiwer om modekanse te neem nie. Dra kop tot tone luiperdmotief, of as ’n bypassende stel.
Of dra twee verskillende luiperdmotiefpatrone saam, ’n kleiner patroon by ’n groter patroon.
Vir nog ’n maksimalistiese voorkoms kan jy maklik jou luiperdpatroon by ander patrone meng en dra. Dit lyk wonderlik by strepe en selfs blompatrone, is Lisa se raad.
Dra luiperdmotief in 2025 so:
Maksimalisties
Jean-Mari sê “Ek is uit en uit ’n maksimalis as dit by mode kom en ek dra graag my luiperdpatroon by nog ’n luiperdpatroon. Of my luiperdmotief broek by ’n ligblou strepies kraaghemp. Ligblou is een van die seisoen se grootste skakerings en dit is ’n komplementêre skakering by die luiperdmotief kleurpalet. “animal print is my gunsteling kleur”

Luiperdmotief tekkies
“Nog een van die grootste luiperdmotief trends hierdie jaar is natuurlik die Adidas luiperdmotief tekkie – wat sosiale media omtrent aan die gons het” vertel Jean-Mari.
Hierdie skoene verkoop blitsvinnig uit, en moenie bekommer as jy dit nie in die hande kan kry nie, daar is vele ander soortgelyke opsies tans beskikbaar.

Luiperdmotief broek
Die luiperdmotief denim of broek was verlede jaar reeds groot nuus in die modewêreld en dit het vanjaar nog net groter geraak, vertel Jean-Mari. Hierdie broeke is tans oral verkrygbaar, van jou Pep tot Mr Price, Zara en selfs H&M.
Van donkerder tot ligter en selfs meer grys “washed” materiale – daar is beslis iets vir elke kleupalet en stylpersoonlikheid daarbuite.
Dierepatrone bo
Lisa sê “om luiperdmotief reg te dra, maak seker dit pas in met jou persoonlike styl – koop eerstens in jou eie klerekas waarby jy jou luiperdmotief items kan dra. Ek vermoed dierepatrone gaan selfs nog groter raak – van luiperdmotief tot sebra- en selfs slangvelpatrone. Op my wenslysie is ’n paar slangvelstewels en ’n gordel”

Lees ook: Die krag van ’n T-hemp met kenners se styl- en stileertruuks daarby