Dit is wat my borskankerreis my geleer het; vier jaar later

Vier jaar na drievoudige negatiewe borskanker by Mersini Iakovidis gediagnoseer is, kyk sy terug na haar reis, en deel hoe dit nou met haar gaan. Deur Suzanne Kotzé

Ons het Mersini leer ken ’n jaar na haar diagnose tydens ’ n borskanker fotosessie, waar sy en ander vroue met borskanker hulle dapper reis gedeel het.

Lees die artikel hier: Borskanker-inspirasie

Ons was so geïnspireerd deur Mersini se modestyl dat ons ook ’n modestorie met haar gedoen het. Lees dit hier

Mersini se borskankerreis het haar die volgende geleer:

Die jare na borskanker is steeds moeilik

Terwyl ek ontsettend dankbaar en bly is dat ek nou in my vierde jaar post drievoudige negatiewe borskanker journey is en dat daar no evidence of disease is nie, was die afgelope twee jaar was vir my ontsettend moeilik gewees – beide fisies en geestelik. 

Sielkundige hulp is belangrik

Ek was gelukkig, in die sin dat ek al eintlik voor ek formeel met borskanker gediagnoseer is, reeds ’n ongelooflike psigiater begin sien het.

Mersini het kronies moeg gevoel en was oortuig daar is iets fout met haar. “Ek is aangeraai om ’n sielkundige of psigiater te sien, omdat daar bloot eenvoudig ‘niks fisies fout’ met my was nie, en die rede dat ek so moeg was dalk net ‘seisoenale depressie, of uitbranding’ was”. 

So op daardie manier was dit alles eintlik ’n groot seën.

Toe ek wel die nuus en diagnose kry dat ek borskanker het (en nie net moeg of depressief was nie), was ek reeds by iemand wat my geestelik kon help en ondersteun vanuit ’n objektiewe perspektief. 

Steun op mede-kanker ‘warriors

“Ek het in my eie journey, en ook met baie mede-kanker warriors agtergekom dat dit so belangrik is om so iemand te hê. Dit is ’n groot pad om te stap, en jou eggenoot, familie en vriende vind dit veral ontsettend moeilik.

Omdat jy self baie hard positief probeer bly, raak dit soms ook moeiliker om vir jou geliefdes te sê jy voel vandag verskriklik, of bang, of sleg, of gatvol.

Nie omdat jy oneerlik wil wees of nie met hulle wil deel nie, maar omdat jy sien en weet hulle raak hartseer omdat jy hartseer en siek is.

Mersini was deel van ’n  WhatsApp groep met vroue wat in verskillende stadiums van hul borskanker-reis was. (Baie van die vroue was ook deel van ons Borskanker-inspirasie storie). “Dit het baie gehelp dat hierdie vroue ook die pad stap, of reeds gestap het. Vroue wat raad en wenke kon deel en moed en positiwiteit kon inpraat. ’n Veilige plek en gemeenskap wat presies verstaan hoe jy voel en wat jy ervaar.”

‘scANXIETY’

“Elke jaar se scans is maar ‘n moeilke en triggering ervaring. Op ons Whatsapp groepie noem ons dit sommer ‘scANXIETY’. Jy probeer positief en hoopvol bly dat als ok sal wees, maar dan eet die vragie maar altyd so aan jou in jou agterkop “wat as dit weer teruggekom het?”

(Mersini moes juis einde September 2025 weer onder die mes inspring toe haar jaarlikse CT skandering drie gewasse in haar baarmoeder gewys het, wat verwyder moes word. “Gelukkig het al die resultate terugekom as nie-kwaadaardig, so ek voel vreeslik dankbaar en verlig daaroor.”)

Jou liggaam (en gees) gaan ’n oorlewingsfase binne

Baie mense het vir Mersini tydens haar behandeling (chemo, bestraling en operasies) gesê dat hulle dink sy hanteer alles te goed. “Ek het dit eenvoudig afgevee. Dis eers later, en veral die afgelope twee jaar, dat ek besef wat hulle destyds vir my probeer sê het. Elkeen hanteer hierdie ervaring anders, maar of jy bewus is daarvan of nie, is jou liggaam gaan fisies en geestelik in survival mode oor daai tydperk. 

Van baie ondersteuning en doktersafsprake na ‘stop die lorrie’

Tydens jou behandelingstydperk is daar baie ondersteuning van familie en vriende. “Sodra jy klaar is met jou behandeling en operasies gaan jy skielik van ’n tyd vol ondersteuning en groot of klein afsprake wat jy moet oorleef, na ’n plek waar jou onkoloog vir jou skielik sê: ‘Okay, jy is nou NED (no evidence of disease). En waar jy amper jou dokters daagliks, weekliks om maandeliks gesien het sien jy hom/haar tweekeer ’n jaar.

Dan stop die ‘lorrie’, terwyl jou liggaam en gedagtes nog volstoom hardloop om hierdie ding te probeer oorleef.” 

Jy, jou lewe en jou liggaam het heeltemal verander

“Dan moet jy die volgende in die gesig staar:  jy, jou lewe en jou liggaam het heeltemal verander. Alhoewel jy nie meer kanker het nie, dra jy al die nagevolge en newe-effekte daarvan: vroeë menopouse, artritis, vrugbaarheidsprobleme, pyn in jou gewrigte, chroniese moegheid, dun are, gerekonstrueerde borste en letsels. Maar jy is nie meer “siek” nie, en moet weer terugkeer na jou ou, of ‘normale lewe en self. Dit was verseker vir my – en is soms nogsteeds – ’n tyd van groot eksistensiële krisis.

Jy herevalueer alles; jou prioriteite, jou besluite, dit wat jy bereid is om vorentoe toe te laat, of te verdra.”

Sosiale media breuk 

Mersini vertel dat sy so bietjie van ’n sosiale media breuk geneem het: “om net my ervaring in stilte te probeer verwerk. Een van my gunsteling aanhalings is ‘Comparison is the killer of joy.’

Die versoeking (veral met sosiale media) is soms groot om te begin vergelyk en dan dinge te dink of te vra soos “hoekom voel ek NOU so?” “hoekom hanteer ek dit nie beter (of so goed soos daai een) nie?” “hoekom kan ek dit nie net maklik afskud en agter my sit nie?” “hoekom kan ek nie net weer ‘normaal’ wees nie?”. 

Op die einde van die dag lyk almal se pad, ervaring, tydlyn en hoe ons dit verwerk,  anders.

Sorg ook vir jou geestesgesondheid

Mersini raai aan: “As jy hierdie pad stap of al gestap het, en as jy kan, is dit ontsettend belangrik om seker te maak dat jy jou geestesgesondheid saam met jou liggaamlike gesondheid, prioritiseer, al dink jy jy hanteer dit goed. Dit is 100% oukei om nie oukei te wees nie en te vra vir hulp as jy sukkel. 

Mersini by een van die twee driebeen windhondjies wat hulle aangeneem het.

“Dit was vir my so hartseer toe ek hulle stories lees en sien hoveel beserings hulle opgedoen het toe hulle as jag- en resieshonde gebruik is. Ek het so baie van myself op daardie oomblik in hulle gesien. Dit was vir my so onsettend mooi en inspirerend hoe ongeag als wat met hulle gebeur het – die beserings, operasies, die feit dat hulle elkeen ‘n deel van hul liggaam verloor en moes laat afsny het – het hulle so mooi aangepas.

Hulle is so gelukkig en nuuskierig, hulle gee so baie onvoorwaardelike liefde en hardloop nog vol-uit agter die lewe aan, driebeentjies en al. Hulle is vir my ‘n groot troos en seën en ek leer so baie oor die lewe en oor myself by hulle.” 

Stylvol

Handige ekstra wenke en raad, spesiale afslag en wenke, slegs vir die binnekring.

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Oor ons

Stylvol sosiale media

Nog Stories
vriendskap
8 wenke om dieper vriendskappe te kweek
error: Content is protected !!