gee aanlyn inkopies terug
gee aanlyn inkopies terug

So gee jy jou aanlyn inkopies terug

Jy het dalk effe oorboord gegaan en te veel aanlyn aankope gedoen tydens #BlackFriday of wat jy gekoop het werk nie of pas nie: so gee jy jou aanlyn inkopies terug. Deur Suzanne Kotzé

Tien wenke om aanlyn inkopies terug te gee. 

1. Maak jou pakkies versigtig oop.

Moenie die bokse en papier net oopskeur nie, al is jy hoe opgewonde om jou winskopies te sien.

aanlyn inkopies

2. Bêre die verpakking waar jy dit weer kan kry

Die meeste plekke vra dat jy pakkies in dieselfde verpakking terugstuur. Dit geld nie vir die buitenste kartondoos nie, maar wel vir die verpakking met handelsmerke op van die produk wat jy gekoop het. 

3. Moenie die etikette weggooi nie

Dit klink dalk voor die hand liggend, maar soms trek jy dit dalk af en sit dit iewers neer, en iemand anders gooi dit weg (of jy kan dit nie weer kry nie).

4. Pas klere versigtig aan

As jy sien iets pas nie, moet dit nie aanforseer en dalk skeur nie. Wees ook versigtig dat jou grimering nie afsmeer aan nuwe kopies nie. As die kledingstuk wat jy wil aanpas ‘n nou nek het, hou ’n ligte serpie (of selfs ’n stuk papier) voor jou gesig terwyl jy aantrek. 

Psst: as jy dalk per ongeluk grimering laat afsmeer het, gebruik ’n grimeerverwyderingslappie (make-up wipe) om dit vinnig te probeer afvee. Hierdie is ’n ou truuk van die meeste mode-stiliste. 

aanlyn inkopies pas aan

5. Neem foto’s van skade of foute

Pakkies beskadig soms gedurende die afleweringsproses. As jy sien die buitenste verpakking is beskadig, neem sommer ’n foto voordat jy dit oopmaak. Dit geld ook wanneer jy die pakkie oopmaak. Neem dadelik ’n foto van enige beskadigde items (hetsy dit grimering op klere of ’n stukkende item is). 

6. Moenie beskadigde items self probeer regmaak nie

Die meeste winkels het fynskrif wat beskadigde items terug aanvaar, maar sodra daar enige bewyse is dat dit nie in die oorspronklike toestand is nie, kan hulle dit weier. Ek het onlangs ’n tafel gekoop en die een poot wou nie lekker indraai nie. Daar was ’n klein foutjie met die gaatjie waar die een skroef moes indraai. Ons wou sommer self.die gaatjie net effens groter maak. Gelukkig was my sussie (wat vir ’n groot meubelgroep werk) by om te keer. Haar raad was: “sodra jy daaraan gepeuter het, hoef die winkel dit nie terug te neem nie, want jy kon dit netsowel gebreek het. Wees eerder geduldig en stuur dit terug sodat die winkel dit vir jou kan regmaak of vervang.”

7. Lees die fynskrif

Sommige winkels verkoop uitverkopingsitems voetstoots; wees dus versigtig daarvoor. Lees altyd die voorwaardes voordat jy koop. 

8. Moenie sloer nie

Die meeste van die groot aanlyn-inkopieplatforms het ’n verkorte teruggee-periode vir items wat op uitverkoping was. By Superbalist het jy byvoorbeeld net sewe (in plaas van die gewone dertig) dae om uitverkopingsitems terug te gee. 

9. Sommige items kan nie teruggegee word nie.

Hierdie word ook gewoonlik gelys. Dit sluit gewoonlik items soos onderklere broekies, oorbelle, parfuum of skoonheidsprodukte wat oopgemaak is, in. 

inkopies
Oopgemaakte parfuum kan gewoonlik nie teruggegee word nie.

10. Moenie lui wees nie, gee terug as dit nie werk nie. 

Jy dink ‘ag dalk pas die rok as ek ’n paar kilogramme ligter is,’ of ‘dalk gebruik ek dit nog eendag,’. Nee. As dit nie pas of nou werk nie, is daar ’n kans dat dit net stof gaan vergaar. Gee dit terug; al daardie ‘goedkoop’ goed kan optel tot ’n aardig bedraggie. Gee dit eerder terug en spaar vir iets wat wel sal pas of werk. As die winkel dit nie wil terugneem, probeer dit aan vriende verkoop of uitruil. 

Stylvol

Handige ekstra wenke en raad, spesiale afslag en wenke, slegs vir die binnekring.

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Oor ons

Stylvol sosiale media

Nog Stories
optiphi
Veerkragtige vroue in wetenskap en tegnologie
error: Content is protected !!