dopamienemode
dopamienemode

Dopamienmode en kleurterapie het my deur chemo gehelp

Mersini Iakovidis het op dopamienmode en kleurterapie staatgemaak om haar deur haar chemomaande en borskkanker-journey te help. Sy deel ’n paar dopamienmodewenke en gesels ook oor haar gunsteling plaaslike ontwerpers. Deur Suzanne Kotzé

15/10/2022

So het dopamienmode en kleurterapie Mersini gehelp

Dopamienmode en kleurterapie het Mersini selfvertroue en krag gegee op dae waar sy getwyfel het aan haarself. “Dit laat my gelukkig en helder voel wanneer ek soms moeg of moedeloos voel; dit gee ’n mens net ’n ekstra hupstoot om jou deur jou dag te kry. 

Fashion is the armor to survive the reality of everyday life.”

Bill Cunningham, straatfotograaf, NEW YORK

Chemovoorbereiding

Voordat Mersini met haar ‘rooi duiwel’ chemo begin het, wou sy so gereed moontlik wees vir die proses en beheer wat sy kon. Sy het haar lang hare kort afgeskeer, haar wenkbroue laat ‘microblade’, vir haar mooi hoede by Crystal Birch gekoop en mooi syserpe by Afraid of Mice, aangesien sy nie wou pruike dra nie.

“En dis hoe ek van toe af chemo toe gegaan het – met ‘n hoed op die kop, serp (of beide!), en elke dag ’n ander paar skoene om die onkologiesusters en van my medepasiënte ook bietjie te laat lag met my “Freaky Fashions”.

“Dit het my net so goed laat voel om daai chemosessies aan te pak in ’n uitrusting wat ek lekker bymekaar kon sit. Iets vroliks, helders en moois wat my dadellik laat beter voel het en dis hoe ek ook besef het hoe belangrik en kragtig klere kan wees.”

Mersini se vyf goedvoel dopamienmode-reëls

1. Moenie omgee wat ander van jou dink nie.

Die beste ding wat met ouderdom (en siekwees) kom, is dat jy GLAD nie omgee wat mense van jou dink nie. So dra alles wat jou laat goed voel en jou hart laat sing, moet jouself nie verklein of probeer inpas deur die ongevraagde opinies van ander nie.

2. Elke dag is ’n geleentheid

Moenie wag vir ’n geleentheid om daai fêncy rok of juwele te dra nie!

Elke dag is ’n geleentheid. Die lewe is kort en ons is nie besig met ’n kleedrepetisie nie! This is it!

Mersini Iakovidis

 “Dra jou balrok en gunsteling skoene op die bank terwyl jy Netflix kyk; gaan Spar toe in ’n sequin broek; live a little.

3. Moenie jou blindstaar teen jou kleregrootte nie

Moet jou nie bekommer oor die grootte van klere nie. Ons kan so maklik in daardie strik val: “ek is’n 32 en MOET in ’n 32 pas al moet ek van die kas afspring om in daai broek te klim en dan loop ek soos John Wayne rond!” Nee!

Dra klere wat jou pas, wat gemaklik en vleiend is en JOU laat goedvoel.

As jy sukkel om iets te kry wat net reg is, gaan na ’n kleremaker om klein veranderinge aan jou klere aan te bring sodat dit jou goed pas. 

4. Straal!

Moenie bang wees vir kleur of om kleure te meng nie. ’n Helder geel trui sal jou dag ’n bietjie opkikker en jou ’n tikkie warmer in jou hart laat voel. Gooi bietjie helder pienk by, in ’n serp, ’n romp of ’n broek en daar gaat jy! As jy nie gewoond is aan helder kleur nie, kan jy altyd eers met pastelle die water toets

5. Speel en geniet dit!

Die groot modereël is: daar is geen reëls nie! Dink terug aan toe jy jonk was en in jou ma of pa se klerekas rondgekrap het; ons het dit nie verniet let’s play dress-up genoem nie. Moet nie gedruk voel om elke dag soos ’n mode influencer aan te trek nie, maar moenie bang wees om effe uit jou gemaksone (teen jou eie pas) te gaan nie. Op die ou einde van die dag is daar nie ’n regte of verkeerde manier om dopamienmode aan te pak nie.

Solank die klere (en kleure) wat jy aantrek jóu gemaklik, gelukkig en vol selfvertroue laat voel, is dit al wat saakmaak. 

Gunsteling plaaslike ontwerpers

Anna Rosholt, Asha Eleven, Coast & Koi, Crystal Birch, Free Range Jewels, Fred Rich, Fuata Good Clothing, Helon Melon, Moyo, Kat van Duinen, Me&B, Merwe Mode, Nomad Jewelry, Raya Rossi, Rethread, Rosey & Vittori,  Studio Coise, The Pop-up Escape en W3ST

Vintage/Preloved

Afraid of Mice, Expedition by Jones, Lehza Vintage, Pickle My Fancy, Uvelapi, Tulle du Jour en Zunette Mulder Jewellery

Mersini se ‘Tieties Huldeblyk’ fotosessie

Toe Mersini in Mei 2021 met fase 3 drievoudige negatiewe (invasive ductal carcinoma) borskanker gediagnoseer is, het sy die besluit geneem dat sy die oomblik wou vasvang en dokumenteer voordat sy vir haar dubbelmastektomie moes gaan.

“Ek wou die beste en mees talentvolle mense wat ek ken en van weet gebruik om hierdie ‘Tieties Huldeblyk’ te realiseer. Dit was veral vir my belangrik oor hulle nooit weer presies SO sou lyk nie en ek wou vir hulle ‘n ordentlike afskeid gee.

Dit was ook ’n manier vir my om hierdie verlies van soorte te prosessee

Fotograaf: Shanna Jones, grimering: Amori Birch, rok: Kat van Duinen, blomme: Elené Groenewald, produksie: Happy Go Lucky, The Stock Studio

Kopstuk: Crystal Birch

Mersini het aanvanklik net die foto’s laat neem vir haarself om op terug te kyk. Na die foto-sessie en die towerkuns van almal wat betrokke was het sy egter gevoel dat “indien ek net EEN persoon kon aanmoedig om te gaan vir ’n mammogram of ’n ondersoek vir iets wat pla, of, as ek iemand wat tans deur dieselfde ervaring gaan, net ’n bietjie lig in ‘n donker tyd kan laat raaksien; ’n bietjie mooi in dit wat dalk lelik is; dan sal ek my fotos en storie graag met ander deel.”

Fotograaf: Antonia Steyn, grimering: Algria Ferreira, klere: Merwe mode, uil: Eagle Encounters produksie: Happy Go Lucky, The Stock Studio

Die inspirasie

“Ek was van kleins af behep met klere, skoene en juwele; ’n bietjie van ‘n weird kraai wat hou van enige iets wat blink. (Al is ek in die Karoo gebore, waar ek grootgeword het.) Ek wou graag hê die fotos moet krag, kwesbaarheid, skoonheid en kreatiwiteit uitbeeld. Ek is mal oor simboliek en mitologie, en wou ook my Griekse afkoms eer.” (Altwee my ouers is Grieks). Athena, is die Griekse godin van wysheid (wat deur die uil verteenwoordig word), handwerk en oorlog. “Dit het alles so met my geresoneer, veral met my siekte, en hoe ek dit probeer benader het.

Soos ’n soldaat wat haar elke dag (mooi) aantrek en regmaak vir die oorlog wat sy binne haar eie liggaam moet voer.

En dit is ook hoe ek dinge daagliks probeer aanpak het nadat ek die nuus gekry het, en slegs ’n week daarna dadelik met chemo moes begin.”

Stylvol

Handige ekstra wenke en raad, spesiale afslag en wenke, slegs vir die binnekring.

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Oor ons

Stylvol sosiale media

Nog Stories
9 Jasse en baadjie style wat in jou klerekas hoort
error: Content is protected !!