Nadat prinses Catherine vir die eerste keer in maande weer in die publieke oog was, kon ’n mens nie help om te kyk na haar hare nie. Hoe werk chemo en haarverlies, en sal jou hare noodwendig uitval? Deur Suzanne Kotzé
Die trauma van chemo en haarverlies

In ’n vorige artikel het ons met aktrise Crystal-Donna gepraat oor haarverlies tydens haar borskanker-chemo en sy het die volgende met ons gedeel:
“Om my hare te verloor was meer traumaties as my borste. My borste was ‘siek’ en ek verstaan dit moes weg, maar my hare het niks makeer nie.”
Crystal-Donna Roberts
Hoekom val jou hare uit?
Chemoterapie veroorsaak meestal haarverlies gedurende kankerbehandeling. Dit teiken vinniggroeiende selle, soos die in ’n tumor. Aangesien jou haarvliesies hoogs aktief is met ’n klomp selle wat vinnig verdeel om nuwe groeiende hare te vervaardig, word jou haarvliesies ook geteiken.
Is daar ’n kans dat jou hare nie sal uitval nie?
“Dit hang van jou tipe chemoterapie af; sommig tipes veroorsaak nie haarverlies nie. ’n Mens kan egter ongelukkig meestal nie jou tipe chemoterapie kies nie. Jou dokter kies die chemo om jou tipe kanker te teiken.
Ek sien dikwels dat van my ouer pasiente met yler grys hare, minder of geen haarverlies het as byvoorbeeld jong pasiënte met veral dik, donker hare nie. Dit is gewoonlik die jonger pasiënte met dik, donker hare wat die meeste haarverlies het,” deel hematoloog dr. Danie Kotzé.

Kan jy keer dat jou hare uitval?
Ongelukkig is hierdie iets wat buite jou beheer is, dit het met genetika en die tipe chemo en medikasie te doen. Daar is tegnieke soos cold cap en sjampoes wat bemark word, maar daar is geen wetenskaplike bewyse hiervoor nie.
In ons artikel van ‘n paar jaar Crystal-Donna Roberts oor post-chemo hare deel Crystal-Donna dat sy baie hard probeer om haar hare te behou gedurende chemo en het die cold cap tegniek probeer. Gedurende die tegniek dra jy ’n tipe pet (soos ’n skrumpet) met droë ys van tussen -30 en -40 grade Celsius gedurende chemo. Dit was so koud en seer dat Crystal pynpille moes drink hiervoor en die ys moes selfs gedurende haar chemo-behandeling geruil word sodat dit koud genoeg kon bly. Hier is meer inligting oor die tegniek:breastcancer.org
“Ek het so hard probeer om my hare te red met cold cap, en dit was vir my geweldig traumaties toe my hare uitgeval het. Ek wens ek het myself nie daardeur gesit nie.
As jy nie baie sterk voel daaroor om jou hare te probeer red nie en jou hare begin eers uitval, raak ontslae van jou hare, knip dit. Dit bly egter ’n baie persoonlike keuse, maar as ek kon oor kies, sou ek net van die begin af my hare afgeknip het,” deel Crystal-Donna.
Wanneer begin jou hare uitval?
Trikoloog Trevenen Bam gee raad: “As jou behandeling haarverlies veroorsaak, sal jou hare én lyfhare so twee tot vier weke na jou behandeling begin uitval. Dit kan vinnig of geleidelik gebeur. Jou kopvel kan ook teer voel.”
Gewoonlik begin jou kophare eerste uitval, en dan hare van ander dele van jou lyf. Onthou egter elkeen reageer anders. Jy kan niks daaraan doen nie, maar jy kan voorberei, en frustrasie en angs daaroor minimaliseer.
Voorbereiding vir haarverlies
Voor jy met terapie begin:
Behandel jou hare sagkens
Moenie jou hare permanent golf, kleur of bleik nie; dit beskadig jou hare. Laat jou hare self droog word en vermy warm haarstileertoestelle soos haarysters, krultange en warm rollers.
Oorweeg dit om jou hare te knip. Kort hare lyk voller as lang hare, en haarverlies wys dus minder. Dit maak oor die oorgang na geen hare minder drasties. As jou hare begin uitval, sal dit minder sigbaar wees as jou hare kort is.
Beplan hoe jy jou kop gaan bedek
Dit is een ding waaroor jy beheer het. Besluit of jy ’n pruik gaan dra, ’n serp gaan ombind of niks gaan doen nie.
Lees meer hier: Kies so jou pruik
Tydens terapie
- Werk saggies met jou oorblywende hare
- Gebruik ’n sagte borsel
- Was jou hare slegs soos nodig.
- Gebruik sagte sjampoe sonder kleur, parfuum of sulfate. Baie mense verkies babasjampoe.
- Oorweeg dit om jou hare te skeer as jou kopvel geïrriteerd of seer is. Dit kan jou minder verleë laat voel oor haarverlies.
As jy geen hare oor het nie
Beskerm jou kopvel
Uitermatige hitte of koue kan jou sensitiewe kopvel irriteer, en met min of geen hare sal jy gouer koud kry. Daarby kan jou kopvel sonbrand, selfs gedurende die winter, so wend sonroom aan.
Haal jou pruik gereeld af
As jy ’n pruik dra, haal dit snags, en selfs deur die dag af, sodat jou kopvel kan asemhaal.
Slaap op sy
’n Sykussingsloop is baie sag en gemaklik as jou kopvel teer is.
Skep ’n nuwe ‘haarwasroeinte’
As jy jou haarwasroetine mis, probeer die, sê Charmain van Schalkwyk, nasionale werkswinkel koördineerder van die Look Good Feel Better (LGBF) organisasie.
“Masseer jou kop met natuurlike olies; dit sal nie net jou kopvel beter laat voel nie, maak kan ook help om ’n gesonde omgewing te skep vir nuwe hare om te groei.
Was jou kopvel met ’n sagte gesigwas. Vermy egter produkte vir aknee want hulle is te skerp vir ‘n teer kopvel.”
Hoe lank sal dit neem vir jou hare om terug te groei?
Wees geduldig. Jou nuwe hare sal waarskynlik stadig teruggroei. Hulle kan anders as van te vore lyk; dalk krullerig of grys, maar soos jou haarselle herstel kan dit weer terug verander.
Jou eerste nuwe hare sal baie maklik breek. Vermy vir eers stileerprodukte, hittetoestelle en kleur- en bleikmiddel, tot jou hare behoorlik en sterk uitgegroei het.
Gewoonlik begin hare so ses tot agt weke nadat jy klaar is met jou behandeling, teruggroei. Vermy chemikalieë (soos Minoxodil) terwyl jy besig is om te herstel.
Gesels met jou dokter oor aanvullings soos Biotin. Moet geen medikasie neem tensy jy dit met jou dokter bespreek nie. En moet ook nie alles glo wat jy lees oor aanvullings nie, aangesien baie daarvan bemarking is.
Lizelle Klopper; ‘embrace’ die haarverliesproses

Lizelle Klopper, wat borskanker het en tans midde-in chemoterapie is, sien haar haarverlies as deel van die proses. My hare het so 10 dae nadat ek met die ‘red devil’ chemoterapie begin het, begin uitval. Net voordat dit gebeur het, het ek egter besluit om my hare af te skeer. Ons het dit deel van ’n tipe ‘seremonie’ op die strand gemaak en foto’s geneem saam met my familie

“Dit was vir my goed om ‘voor’ die situasie te kom, en dit te ‘embrace’. Hopelik kan ek ander vroue ook hierdeur help en bemoedig.
Lizelle Klopper
’n Paar dae daarna het my hare begin uitval. Op die foto’s het ek nog wenkbroue, maar dit het ook nou liggies begin uitval.

Ek is positief oor die hele proses, en probeer om nie veel te tob oor dit wat ek nie kan beheer nie. Natuurlik kry ’n mens ook jou af dae, maar ek probeer fokus op die mooi.
Kyk gerus die video oor Lizelle se haarafskeer seremonie hier