Bella se ‘brisket’

Na ’n lang gesukkel en vele probeerslae het Isabella Niehaus eindelik die ‘brisket’ (op die Bella-manier) bemeester. Sy deel die resep uit haar splinternuwe Bella’s Kitchen resepteboek. Saamgestel deur Suzanne Kotzé.

Isabella Niehaus

Isabella Niehaus (of Bella soos ons haar ken) is ’n geliefde in die tydskrif-kringe. Na jarelange mode-redakteur en later ook dekor, het Bella haar passie vir kosmaak in haar laat 50’s ontdek. Op Sondae het sy ’n langtafel in haar Langebaan-huis gedek, waar gaste kon kom eet en kuier. Haar eerste resepteboek, Duinhuis, het hieruit gevolg en sy het die ‘Best in the World’ toekenning in die ‘Onthaal’ kategorie by die Gourmand World Cookbook Awards in 2021 in Parys gewen.

Gedurende die Covid-tyd het Bella aanhou kook en resepte uitdink en het twee digitiale resepteboeke; Isabella’s Mussel Feast en Isabella’s Pork Feast uitgegee.

Sy het nog Gourmand toekennings gewen vir Daar’s ‘n Vegan op my Verandah in 2023 en Skepselkos in 2025. Om dit te kroon het Daar’s ‘n Vegan op my Verandah in 2025 die Best of the Best Vegan resepteboek by die 30ste Gourmand World Cookbook Awards herdenking in Dubai gewen.

Bella’s Kitchen

Bella’s Kitchen is meer as net ’n resepteboek. Dit word as ’n liefdesbrief aan die mense na aan haar en ook haarself beskryf.

Die boek is opgedeel in verskillende fases van Bella se lewe.

Van haar grootwordjare in die Vrystaat tot haar glansryke dae as moderedakteur. Haar Duinhuis dae (toe sy haar liefde vir kook ontdek het) tot Vreesloos op Sewentig (waar sy haarself as “’n goeie kok, en nie ’n sjef nie”) begin sien het. ’n Blik in die toekoms fokus op haar en haar seun Taro (aan wie die boek opgedra is) en hul liefde vir saamkook. Au Pif wat beteken om kos te maak deur jou te laat lei deur jou neus. En “dit is presies hoe ek ek kook – au pif- deur enige iets te gebruik wat ek in my huis het.” In die laaste hoofstuk En finaal het Isabella vir haar vriende gevra om resepte te deel wat hulle vir haar sal kook.

Dit is ’n pragtige boek, vol stories, staaljies en die mooiste foto’s. Jy leer Bella en al haar liefdes ken terwyl jy kosmaak.

Bella’s Kitchen is pas gepubliseer en is reeds op die kortlys vir Gourmand World Cookbook Awards in die kategorie: Celebrity Chefs-World.

Bella se stadig-geroosterde ‘brisket’ (borsstuk)

Tydens Bella’s Kitchen se bekendstelling in Philadelphia vertel Bella hoe sy gesukkel het om die perfekte brisket te kook. Sy het telkemale terugegaan na die slagter om weer borsstuk te koop en weer te probeer. Soveel so dat hy later vir haar gevra het “wanneer gaan jy nou opbou probeer,” vertel Isabella laggend. Sy het dit reggekry toe sy besluit het om op te hou resepte volg en dit te gebruik wat sy in haar kombuis het en dit op haar manier te kook. Die uitkoms was natuurlik hierdie wenresep.

Genoeg vir 8-10

  • 2 kg ontbeende borsstuk, oortollige vet afgesny
  • ¼ koppie De Rustica Ekstra Suiwer Olyfolie
  • Sout en grof gemaalde swartpeper
  • 4 medium wortels, gesny
  • 1 prei, gesny
  • 2 selderystingels, gesny
  • 1 rooi of wit ui, geskil en in groot stukke gesny
  • 2 knoffelkoppe, heel of horisontaal gesny
  • 2-4 pruimtamaties (afhangende van grootte), ontpit en gekap
  • 6-8 ontpitte dadels, in stukke gesny
  • 1 Granny Smith-appel, ontpit en in klein blokkies gesny
  • ’n Ruim bouquet garni (vars pietersielie, tiemie, salie, origanum, roosmaryn)
  • 1 kaneelstokkie
  • 1 heel vars brandrissie
  • 1 steranys
  • 2 heel naeltjies
  • 2 koppies witwyn, plus ekstra indien nodig
  • 1½L hoender-, lam- of beesvleisaftreksel (ek verkies hoender), plus ekstra indien nodig
  • Vars vrugte van jou keuse (bv. perskes), liggies gekaramelliseer om te garneer (opsioneel)

Verhit die oond tot 250°C.

Vryf die vleis met die olyfolie en geur goed met sout en swartpeper. Sit die groente, appel, bouquet garni en speserye in ’n oondbak. Plaas die vleis bo-op en gooi die wyn en aftreksel rondom die vleis. Bedek dit met ’n deksel of foelie en sit dit in die oond teen 250°C vir 30-40 minute.

Verlaag daarna die hitte tot 150°C en bak dit vir nog 5 ure of tot heeltemal sag.

Kyk na elke uur of daar genoeg vloeistof is. Indien nie, voeg meer aftreksel en ’n bietjie meer wyn by.

Sodra dit klaar is, trek die vleis uitmekaar in die sous, garneer met vrugte, indien gebruik (dit sal die swaarheid van die vleis lig) en geniet dit saam met stampmielies of rys of selfs kapokaartappels.

Oorskiet maak ’n wonderlike pastei en die beste vulsel vir jaffels!

Isabella Niehaus en sjef Zola Nene tydens die bekendstelling van Bella’s Kitchen.
Bella’s Kitchen word uitgegee deur Penguin Random House South Africa en is beskikbaar op Takealot, Exclusive Books, Graffiti Books, Loot, Amazon, Wordsworth Books en Reader’s Warehouse  
Stylvol

Handige ekstra wenke en raad, spesiale afslag en wenke, slegs vir die binnekring.

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Oor ons

Stylvol sosiale media

Nog Stories
10 goed wat jy van dopamien moet weet 
error: Content is protected !!