Of jy nou ’n pruik nodig het as gevolg van chemo, haarverlies of Alopecia of sommer net vir die die pret, hier is kundige raad. Deur Suzanne Kotze
Ons gesels met Angelique de Wet, eienaar van Tosca-salon groep
Maar eers haarverlies
Die grootste redes vir haarverlies is
- Spanning – sekerlik een van die grootste redes vir haarverlies
- Medikasie (loer gerus hier vir ’n lysie van medikasie wat moontlike haarverlies kan veroorsaak
- Chemoterapie
- Alopecia Areata (’n outo-imuunsiekte wat al jou hare, van jou wenkbroue tot jou kop- en lyfhare laat uitval). Dit is iets waarmee vreeslik baie mense sukkel.
- Die pandemie; een van die nagevolge van Covid is dat dit haarverlies veroorsaak.
Wenke om die regte pruik vir jou gesig te kies
1. Moet dit nie net sommerso kies nie
Die kleur, snit, lengte en gewig speel alles ’n rol.
2. Verstelling is belangrik
’n Pruik moet verstel word volgens jou kop. As jy dit nie verstel nie, kan dit afwaai of ongemaklik voel. Verstelling is belangrik sodat jy gemaklik voel en natuurlik lyk.
3. Pas aan voordat jy koop
Jou gesig moet pas by die kleur en styl, daarom stel ons altyd voor dat jy pruike aanpas voordat jy koop. Neem’n vriendin saam en maak ’n uitstappie daarvan. Dit is lekker om die emosionele ondersteuning te hê en dalk kan julle saam lag ook.
4. Neem foto’s
Neem foto’s terwyl jy die pruik aanpas sodat jy weer na alles kan kyk as jy onseker voel.
5. Moenie bang wees om te waag nie
Dit is nou jou geleentheid om iets heeltemal anders te probeer as wat jy nog altyd gedra het. Moenie bang wees om ’n ander kleur of styl te kies nie. Dit is dalk net wat jy nodig het om weer nuut te voel.
6. Jou ou styl kan jou veilig laat voel
Soms het jy weer nodig om net soos jou ‘ou self’ te voel en dieselfde kleur en styl laat mense ook veilig voel, so dit is heeltemal ’n persoonlike keuse.
Bêre jou pruik so
Gewoonlik kry jy ’n pruikstaander as jy ’n pruik koop. Tosca verskaf dit saam met hulle pruike. Dit is die beste manier om jou pruik te bêre wanneer jy dit nie dra nie.
Sorg vir jou pruik
Ons leer ook ons kliënte hoe om vir die pruik te sorg met die regte sjampoe, opknapper en behandeling. Dit is baie belangrik sodat jou pruik mooi bly en om sy leeftyd te verleng.
Wat doen jy met jou pruik as jy dit nie meer nodig het nie?
Jy kan Cansa Care-eenhede kontak en hulle sal vir jou aanbevelings kan gee. Hoe wonderlik is dit nie dat jy iemand wat dit nodig het met ’n pruik kan seën nie.
Tosca se gratis pruik-aanpasdiens
By Tosca Salon in Table Bay Mall, Blouberg, bied hulle ’n gratis konsultasiediens met ’n privaat kamer. “So kan ons in detail gesels en jy kan veilig voel en jou nie bekommer oor wie jou mag hoor of sien nie. Die diens is gratis vir enige persoon wat raad nodig het oor hulle haarverlies. Daar is verskeie opsies; van pruike tot haarstukke (toppers) en produkte wat moontlik kan help.
Die pruike word gepas en gekies sodat jy 100% kry wat jou gemaklik laat voel. Die diens is gratis – “no catch”. Die rede daaragter is om mense te help om die regte keuse te maak wanneer hulle gereed is. Om raad te gee kos niks, ons deel dit graag en gee op hierdie manier terug,” vertel Angelique.
Lees ook:
Borskanker, pienk hare, geen hare, die rooi duiwel en woedegloede