Heike Haward werk-lewe balans
Heike Haward werk-lewe balans

10 werk-/lewe balanswenke vir ma’s

Hier is blommekoniging Heike Hayward van Fleur le Cordeur se werk-/lewe balanswenke. As jy jou eie suksesvolle besigheid en vyf kinders het, is ’n gesonde werk-/lewe balans ’n moet. Meeste ma’s sukkel maar om die balans te handhaaf. Deur Suzanne Kotzé

Heike Hayward by ‘n Fleur le Cordeur installasie by Blaauwklippen vir Moedersdag. “Hierdie is nie engelvlerke nie, maar vlere wat sê ‘ek is ‘n super-hero ma wat trots is hoe ek my kinders grootmaak,” sê Heike.

Na ’n besige korporatiewe loopbaan in die IT-sektor het Heike besef dat sy nie so wil werk as sy eers kinders het nie. In 2010 het sy bedank en ’n vriendin wat troues reël begin help, en vandaar het sy en haar vriendin besef dat Heike passievol is oor blomme. Heike het begin blomme doen vir troues en so is haar onderneming Fleur le Cordeur gebore. Vandag doen sy al wat ’n bekende is se blomme en word die land vol gevlieg vir funksies.

11 jaar en vyf kinders later is ’n werk-/lewe balans iets waaraan Heike doelbewus werk.

Heike se kinders: Indya (11), Beau (3), Ariyah (1) Luca (9) en Levi (7)

Heike Hayward van Fleur le Cordeur se 10 werk-/lewe balans wenke

1. Wees oukei daarmee om vir hulp te vra

Vra die oumas, vra jou man, vra ’n vriendin, stel ’n voltydse kinderopasser aan, maar VRA VIR HULP. Vroue was nooit bedoel om kinders alleen groot te maak nie. In die ou dae het gemeenskappe en ‘villages’ kinders grootgemaak. In vandag se lewe laat ons ons skuldig voel as ons vir hulp vra, of nie alles self doen nie en dit is nonsens! Verander jou denkwyse hieroor. Dit is nie net oukei nie, maar dit is ook gesond om jou kinders aan ander pragtige mense in hul lewe bloot te stel; mense wat hulle help grootmaak. So kry jy ook genoeg tyd om op jou loopbaan te fokus.

2. Vergeet van perfeksie, streef eerder daarna om uitmuntend te wees.

Daar is ’n reuse verskil. Perfeksie sluit die perfekte proses in om kinders groot te maak en ’n besigheid aan die gang te hou, en dit bestaan nie. Streef eerder na ’n uitmuntende uitkoms. Mooi, liefhartige kinders en ’n suksesvolle besigheid. Laat toe dat jou pad morsig raak, dit is oukeien selfs pret.

3. Moenie ’n beheervraat wees nie

Gee die stuurwiel vir iemand anders. As jy jou kinders, jou man, jou werknemers en kliënte probeer beheer, gaan jy dit nooit maak nie! Leer om die proses te vertrou. Leer om iets groters as jou eie idees, denke en uitkomste te vertrou.

Soms as jy terugsit en kyk, kan wonderlike magiese dinge gebeur!

As jy die pad dikteer, beperk jy jouself, jou familie en jou besigheid. Moet dit nie doen nie.

4. Wees lekker

Wees ’n lekker, prettige ma. Wees ’n lekker, dog ferm baas. Wees ’n lekker, prettige sexy vrou. Jy kan al drie rolle in een vervul, maar onthou om prettig te wees. Positiewe energie is alles en dit gaan vêr. Jou familie sal jou makliker vergewe vir lang werksdae as jy gelukkig en borrelend tuiskom as wanneer jy buierig en negatief tuiskom.

5. Besef dat jy nooit te oud of ervare is om te leer nie

Wees oop hiervoor. Wees oop om te leer hoe om ’n beter ma te wees en ’n beter vrou te wees. Wees oop om nuwe truuks in jou bedryf te leer. Soos jy leer en groei by die huis en by die werk, help dit jou om nie ’n wrok te koester teenoor enige van die areas in jou lewe nie.

Die verskillende areas (jou familie en werk) is nie veronderstel om in kompetisie met mekaar te wees nie, dit is veronderstel om saam te smelt sodat jy kan groei tot ’n beter mens in die geheel.

As een van die areas besig is om te swaar te trek, moet jy super eerlik wees met jouself. Dink daaroor, reflekteer, verander en beweeg aan.

6. Luister

Luister na jou kinders as hulle jou nodig het. Luister na jou man as hy meer van jou wil hê. Luister na jou kliënte as hulle voel dat jy nie jou beste lewer nie. Dit is ’n belangrike kwaliteit om te hê.

Om met jou hart te luister en werklik al die stemme rondom jou, wat jou nodig het, te hoor.

Jy kan teenwoordig wees en aandag gee hieraan. As jy nie tyd maak om stil te word nie, sal jy nie almal se behoeftes kan hoor nie en dan sal jy minstens een van hierdie areas afskeep. Meditasie, om te bid of tyd in die natuur help baie.

7. Neem jou kinders saam werk toe

Wie sê jy kan nie? Glo my dit is wonderlik. Hulle leer soveel meer as wat jy ooit sou kon dink. Hulle het ook nie altyd jou volle aandag nodig nie, soms is dit net genoeg om by jou te wees. As jy onder druk is en in twee geskeur voel tussen werk en familie, laai jou kinders in jou motor, pak ’n piekniekmandjie en neem hulle saam werk toe.

8. Maak tyd vir NET jouself

Iets betekenisvols wat waarde aan jou lewe toevoeg: As ek besig is, is die laaste ding waaraan ek tyd wil spandeer ’n gesigbehandeling of ’n pedikuur. Ek wil iets doen wat iets positiefs bydra tot die sukses van my lewe. Vir my is dit oefening. Hoe fikser ek is, hoe ’n beter ma is ek, en hoe beter werk ek. Of ek geniet dit ook om ’n boek te lees wat my motiveer en inspireer. Ek het sopas The 5am Club gelees. Wow; hierdie is ’n moet-lees! Kies jou ‘my-tyd’ met wysheid.

9. Eet en leef gesond

Jy kan nie al hierdie elemente in jou lewe hê, in ’n mal, konstante onder druk omgewing, en nie optimaal gesond wees nie. Jou lyf het jou liefde nodig, so gee dit groente, vrugte en baie water. Voed jou vel met olyfolie, sny suiker en verfynde koolhidrate uit. Hou op om geprosesseerde kosse in te neem. Hoe gelukkiger jou liggaam is, hoe gelukkiger sal jou siel wees en jy sal meer kan hanteer en sukses behaal.

10. Jou geestesgesondheid is die heel belangrikste

As jy weet jy sukkel met iets, soek dadelik hulp!Wees meedoënloos en moenie ‘nee’ aanvaar nie. Jou heling is jou reg. Negatiewe gedagtes, ongelukkige emosies, vrees, om onseker te voel en al hierdie ander geestesuitdagings sal jou weerhou daarvan om jou familie en werksbalans te vind. Een van die twee sal dit ontgeld en die kans dat dit jou familie is, is goed, want dit is by hulle wat jy kwesbaar en jouself kan wees. Onthou vry, gelukkige denke is baie werd.

Droom groot, lag baie, glimlag vir almal. Enige iets minder as dit is nie goed genoeg nie, soek jou heling.

Volg gerus vir Heike/Fleur le Cordeur op Instagram vir die mooiste blomme inspirasie!

Verander so van loopbaand: Adene Nieuwoudt gee raad

Lees ook:

Stylvol

Handige ekstra wenke en raad, spesiale afslag en wenke, slegs vir die binnekring.

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Oor ons

Stylvol sosiale media

Nog Stories
Erica Wessels
Erica Wessels, ‘I am all Girls’ en kinderhandel
error: Content is protected !!