9 wenke vir ’n minder deurmekaar huis die vakansie

Met kuiergaste, kinders by die huis en onthaal sukkel baie van ons dalk met deurmekaar huise gedurende vakansietye. Hier is wenke vir ’n netjieser huis. Deur Suzanne Kotzé

’n Mens se huis word maar net te vinnig chaoties, veral met kinders by die huis. En dan is daar meer gereelde kuiergaste ook nog. Hier is wenke wat vir ons werk. Want wie wil nou heel vakansie aan die kant maak.

1. Skep ’n onstpanne roetine

Jy wil nou nie sersant majoor wees wat fluitjie blaas en gil ‘dit is nou tyd vir skottelgoed of bedopmaak’ nie. Maar skep ’n tipe roetine, bv. na ontbyt is dit tyd vir bedopmaak, Woensdae is badkamerskoonmaak-dag ens. Aanvaklik is daar dalk ’n gesug en gekla, maar dan word dit later net deel van die roetine.

Jy kan selfs ’n skedule uitdruk en op die yskas plak.

2. Maak beurte

Hê een dag waar dit byvoorbeeld een gesinslid se beurt is om kos te maak en die ander s’n om kombuis aan die kant te maak. Hierdie werk veral goed met kinders. ’n Vriendin het vir my die wenk gegee om ’n resepteboek met maklike resepte (sy het Jamie’s 10 minute meals aanbeveel) te kry en dan kies elke kind ’n maaltyd wat hulle self wil maak. Dit leer kindes soveel vaardighede aan. En knyp dan maar oë toe as alles nou nie so perfek uitwerk of jou kombuis dalk ekstra deurmekaar is nie.

3. Losgoed mandjie in leefareas

’n Mens is nie altyd lus vir die heeltyd wegpak nie, ’n losgoedmandjie waar jy alles teen die einde van die dag kan ingooi, help dat veral jou leefareas netjies bly. Kry ’n mooi mandjie wat by jou dekor inpas. (Hierdie is veral handig vir wanneer jy klein kinders het en speelgoed het wat die wêreld vol lê.)

Dit is ’n redder as jy onverwags mense kry en jy gou alles net in een mandjie kan gooi. (Othou net om dit minstens een keer ’n week uit te pak, en span gerus jou gesin in om te help.)

4. Persoonlike ‘trap’-mandjies

Foto: Pinterest

Hoeveel keer word daar nie goed op die trap gesit sodat elkeen sy eie goed kan opneem nie, en dan bly dit lê. Mandjies met elkeen se naam op, laat dit nie net minder deurmekaar lyk nie, maar maak dit ook makliker om ‘n paar goed op een slag op te dra.

5. Wasgoedmandjie/droograk by die swembad vir handdoeke en swembroeke

As jy ’n swembad het, weet jy hoe vinnig nat handdoeke en swembroeke die wêreld kan vol lê. Belê in ’n platvou muurdroograkkie wat jy buite kan opsit, of mooi hake teen jou mure om handdoek-ophang maklik te maak. Of sit net ’n gewone opvou droograkkie buite neer, veral as daar baie kinders is wat kom kuier.

Lees ook:

6. Houer vol noodsaaklikhede

Hou goed soos jou sonskerm, seegoed, piekniekgoed ens. op ’n plek waar jy dit net maklik kan gryp en gaan as julle op pad uit is. Sodat jy nie nog na boetie se grafie, of daai lekker piekniekkombers hoef te soek nie. Ons hang sommer sakke in ons motorhuis op met al hierdie tipe goed.

7. Hou buitegoed georganiseerd

Die meeste van ons spandeer in die somervakansie baie meer tyd buite. Wees georganiseerd en hê houers vir byvoorbeeld braaigoed, balle, swemspeelgoed. Anders is dit te maklik om alles oornag net so te laat lê (veral na kuiergaste) en dan lyk jou buitearea die volgende dag weer deurmekaar en julle is dalk te lui vir wegpak en dan word dit maklik net al hoe erger.

8. Wasgoed uitsorteer

Hierdie scenario speel gereeld in ons huis af. Die nimmereindige wasgoed word gewas en opgehang en dan haal ons dit dalk laataand eers af en gooi dit op die spaarkamer se bed neer vir ‘ag ek sal dit môre wegpak’, en dan word dit teen die einde van die week een groot hoop skoon wasgoed waar almal kom grawe.

Maak wasgoed-opvou of stryk deel van wanneer jy byvoorbeeld jou gunsteling reeks wil kyk, maar skuldig voel om ‘nog’ ’n episode te kyk. Sit almal se klere in hopies en elke persoon is verantwoordelik vir self wegpak in hul kaste. (Jy sal waarskynlik moet seker maak dit word gedoen.)

9. Maats moet help aan die kant maak

As jou kinders gereeld vriende oorkry, maak dit deel van die roetine dat, ’n halfuur voordat hulle waai, almal gou moet help aan die kant maak. Selfs as dit julle kuiergaste se kinders ook is. Dit is maklik om te sê: “ag nee wat, ons sal dit later doen.” Maar dan voel jy (en jou kind) oorweldig deur al die speelgoed wat rondlê. As almal weet by julle huis werk dit so, dat almal gou help, maak dit alles nie net makliker om aan die kant te hou nie, maar ook om weer mense oor te nooi. Anders dink ’n mens ‘ag nee, ek wil nie mense oornooi nie, want ek is nie lus vir die deurmekaar huis nie.’

Doen dieselfde as jy by vriende kuier, help opruim en aan die kant maak en hulle sal dan hopelik dieselfde by jou doen.

Stylvol

Handige ekstra wenke en raad, spesiale afslag en wenke, slegs vir die binnekring.

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Oor ons

Stylvol sosiale media

error: Content is protected !!