’n Mooi tafeldoek kan ’n gewone tafel en spasie binne sekondes opkikker en meer intensioneel laat voel. Maar wag gou voordat jy net die mooiste een in jou mandjie gooi, hier is’n paar slim wenke om in gedagte te hou wanneer jy koop, gebruik en bêre.
19 van ons gunsteling tafeldoeke tans op ons dekor-radar plus handige wenke en truuks wat ons self met ’n vriendin sou deel. Deur Justine Kroes
Meet voordat jy koop
Moenie op die oog af skat nie. Meet jou tafel en besluit hoeveel “drop” jy aan die kante wil hê. Vir alledaagse gebruik werk ongeveer ’n “drop” van 20 tot 30 cm goed; vir ’n meer formele tafel kan jou tafeldoek gerus langer laat hang.
Die regte materiaal maak saak
Linne en katoen tafeldoeke sorg vir ’n aardse en natuurlike gevoel, maar kreukel ook makliker.

Poliëster en ander materiale is partykeer meer prakties en makiker om te onderhou.
Dink juis hierom realisties oor hoeveel strykwerk jy bereid is om te doen!
Kreukels is nie altyd ’n slegte ding nie. Ons dink, veral met linne kan ’n effens gekreukelde tafeldoek, ’n ontspanne voorkoms skep.
Jy hoef nie elke tafeldoek perfek glad te stryk nie.
Die spuitbottel-truuk
Al gehoor van die “spuitbottel truuk”? Vir vinnige kreukelverwydering, spuit die tafeldoek liggies met water en stryk dit met jou hande glad terwyl dit reeds op die tafel lê. Laat dit natuurlik droog word en siedaar, kreukels verdwyn!
Behandel vlekke dadelik
Hoe langer ’n vlek op die materiaal sit, hoe moeiliker is dit om te verwyder. Hanteer enige vlek dadelik, (veral wyn of vet) en wees versigtig om nie te veel te vryf nie. Druk eerder saggies op die vlek met jou lappie.
Stoorwenke

Was voor jy bere
Was altyd jou tafeldoek voordat jy dit wegbere, selfs al lyk dit vir jou op die oog af skoon. Net die kleinste druppel drank kan ongewenste reuke ontwikkel in die stoor proses.
Maak seker dit is heeltemal droog
Dit is ’n belangrike een. Selfs effense klam linne of katoen kan muf of ongewenste reuke ontwikkel wanneer dit lank gestoor word.

Verander jou voue
Het jy geweet as jy tafeldoeke altyd presies dieselfde vou, kan diep, permanente voulyne vorm. Verander die manier/metode waarop jy vou van tyd tot tyd.
Rol jou spesiale tafeldoeke
Vir delikate, geborduurde of tekstuurryke tafeldoeke word daar aanbeveel dat jy eerder jou tafeldoeke oprol eerder as om te vou. Die “rol” proses help om diep kreukels te vermy en skade aan borduurwerk te voorkom.
Moet nie tafeldoeke te styf stapel nie
In die stoorproses, gee gerus jou tafeldoeke ’n bietjie asemruimte in jou laai of linnekas. Dit kan dieper kreukels voorkom.
Vir baie spesiale of delikate erfstuk-tafellinne, gebruik suurvrye “tissue paper” tussen voue of tussen tafeldoeke vir ekstra beskerming.

Neem ’n foto!
Hierdie mag dalk vreemd klink, maar as jy ’n hele versameling het, kan hierdie jou dek- en beplanproses vergemaklik. Neem ’n foto van elke tafeldoek op jou tafel. Wanneer jy ’n ete beplan, kan jy vinnig sien watter een by jou borde, blomme en dekor sal pas.
En die belangrikste wenk …
Koop ’n tafeldoek vir jou werklike lewe. Die mooiste (of duurste) tafeldoek is nie noodwendig die beste een as jy te heilig is daarop om dit te gebruik nie.
’n Tafeldoek is daar om jou tafel mooier te maak en natuurlik om geniet en gebruik te word!





















