swemspeelgoed
swemspeelgoed

Bêre swemspeelgoed so

Hierdie tyd van die jaar kan jou swem- of buite-area ’n oogseer wees met opblaasspeelgoed wat die wêreld vol lê en rondwaai. Ons het tuis-organiseerder Nita Newton gevra om te help met bêreplanne. Verwerk deur Suzanne Kotzé

06/01/2023

Tuis-organiseerder Nita Newton van Organise SA se wenke oor swemspeelgoed

“Ontspanning rondom die swembad, met yskoue drankies en swembadspeelgoed wat ronddryf, is ’n groot lekkerte van die somer. Maar net so vinnig kan die swemspeelgoed jou huis soos ’n gemors laat voel. Wanneer die speelgoed op die rand van die swembad gelos word, kan dit ook die aandag van klein kindertjies trek wat uitreik daarna en in die water kan val.

Om hierdie rede moet alle swembadspeelgoed veilig buite sig en bereik van kinders gebêre word en nooit in die swembad gelaat word wanneer dit nie gebruik word nie. Maar moenie te afgeblaas voel nie (sien wat ek daar gedoen het); ek het ’n paar nuttige wenke en truuks oor hoe om swemspeelgoed te stoor wat dit vir jou ‘n bietjie makliker sal maak om die somer te geniet.”

Met hierdie idees om jou swembad speelgoed te organiseer, kan jy minder fokus op die gemors en meer op die swembadsambreel-drankies.

Idees om swemspeelgoed te bêre

1. Gebruik ’n ou wasgoedmandjie

Gee nuwe lewe aan ’n ou wasgoedmandjie deur dit te gebruik om lang, smal speelgoed, soos swembadnoedels, regop te bêre. ’n Ronde plastiekmandjie met gate maak voorsiening vir maklike ventilasie sodat items vinniger droog kan word en langer hou.

 2. Maak seker dit is maklik toeganklik

Indien die opblaasspeelgoed gereeld deur die somer gebruik word, moet hulle op ‘n plek gestoor word wat maklik toeganklik is. Aangesien hulle relatief liggewig is, sal “heavy duty” muurhake die ding doen om opblaas speelgoed hoog van die grond af te hang. Indien moontlik, hang die hake uit direkte sonlig. Die gebruik van vertikale spasie in ’n skaduryke area is die beste manier om hulle in ’n goeie toestand te hou. 

Ons het hierdie oulike gaassakke vir sportballe raakgesien by Mr Price Sport en dink dit sal ook goed werk aan ’n haak om kleiner speelgoed soos watergewere ens. in te hou.

3. Bêre jou opblaasspeelgoed in ’n vragnet.

Foto: Pinterest

As jy ‘n groot, leë muur naby jou swembad het, dan het jy die perfekte plek om ’n vragnet op te sit. Maak ’n paar hake aan die muur vas en haak jou vragnet daaraan vas. Sit dan al jou opblaasspeelgoed daarin. Dit hou alles lekker bymekaar en die water kan sommer ook dreineer. Takealot het ’n verskeidenheid van hierdie nette beskikbaar teen bekostigbare pryse.

Daar is baie oulike idees hieroor op Pinterest.

4. Hou die oorspronklike houer en bêre dit daarin

Die beste en maklikste manier om swembadbykomstighede vir die winter te bêre, is om dit in hulle oorspronklike houers te stoor.

Indien jy nie meer die houers het nie of hulle is beskadig, kan jy hulle in houers met deksels stoor. Deurskynende houertjies is altyd ’n wenner aangesien jy kan sien wat binne is. Jy kan selfs elke houer ‘label’ vir ekstra gerief. Wat ook lekker is, is dat jy hierdie houers opmekaar kan stoor. 

Probeer om volgens kategorie te sorteer en soortgelyke items saam te stoor. 

Maar moenie daaraan dink om daardie waterpistool of opblaas doughnut te stoor sonder om seker te maak dit is nie heeltemal droog nie en gedreineer van enige water voordat jy dit stoor nie. Maak jou opblaasspeelgoed skoon. Spoel alles af met vars water. Nadat alles deeglik afgespoel is, laat dit in die son om lugdroog te word.  

5. PVC pype en ou palette

PVC pype is gebruik om hierdie oulike bêreplek te bou. Foto: Pinterest
’n Palet is gebruik om hierdie te maak. Foto: Pinterest

Natuurlik is daar tonne idees op Google beskikbaar oor hoe om jou eie toerusting te maak van PVC pype en ou palette sodat jy jou opblaas speelgoed maklik kan stoor sonder dat dit jou ’n fortuin gaan kos.

Ons het hierdie oulike idee op Pinterest raakgesien en hier is instruksies hoe jy die kan maak. 3x3custum.com

Of jy nou ’n gesoute duiker is of net hou van op ’n speelding dryf, hoop ek dat hierdie artikel vir jou ‘n paar idees kon gee oor hoe om jou opblaasspeelgoed te organiseer en te stoor. 

Volg Stylvol gerus op Pinterest en kyk na nog idees hier.

Stylvol

Handige ekstra wenke en raad, spesiale afslag en wenke, slegs vir die binnekring.

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Oor ons

Stylvol sosiale media

Nog Stories
8 Kreatiewe uitstappie-idees vir vriendinne
error: Content is protected !!