Vars idees vir jou fotogalerymuur

Fotogalerymure is die perfekte manier om ’n tikkie warmte en persoonlikheid by jou spasie te voeg, en nee, ons glo nie jou fotomuur moet eksie perfeksie met swart en wit fotos wees nie.

Maak dit interessant en voeg ’n bietjie van jou gesin se persoonlikheid daarby.

Hier is ’n paar vars idees vir jou eie fotogalerymuur, loer gerus hier vir bietjie dekor inspirasie: Deur Justine Kroes

Verander die agtergrond

Die “mount” of agtergrondgedeelte van jou fotoraam hoef nie noodwendig wit te wees nie. Probeer gerus ’n paar helder skakerings saam. Gebruik dieselfde skakering op al die agtergronde, of eksperimenteer met verskillende agtergronde.

Jy kan gebruik maak van papier met patrone of selfs lap om die “mount” of agtergrond gedeelte oor te trek.

Wenk: Kies ’n skakering wat reeds in jou vertrek verskyn. Byvoorbeeld ’n helder skakering wat reeds op ’n kussing of mat daar is, hierdie laat die fotogalerymuur deel van die spasie voel en anker dit goed.

Lig op die onderwerp

As jy jou fotogalerymuur soos ’n kunsuitstalling wil laat voel, hang gerus ligte bo jou galerymuur. ’n “Picture light” reg bokant jou fotogalerymuur skep dadelik ’n gevoel van warmte en ’n uitnodigende atmosfeer.

Jy het nie noodwendig ’n lig vir elke liewe foto nodig nie, een of twee ligte wat strategies afskyn en jou galerymuur verhelder sal die truuk doen.

Daar is talle verskillende tipes ligte en groottes, loer hier na ’n paar idees vir inspirasie.

Foto’s en kuns gemeng

Jou galerymuur hoef nie alleen net foto’s of net kuns uit te stal nie. Kombineer gerus die twee.

Dink daaraan om jou kinders se tekeninge mooi te raam en by jou galerymuur te voeg, klein spieëls, ’n gunsteling aanhaling of klein stukkie kunswerk tussendeur die foto’s maak jou galerymuur meer persoonlik.

Gekleurde rame

Moet nie bang wees om verskillende kleure rame op een fotogalerymuur te hang nie. Maak gebruik van onverwagse helder skakerings of gebruik skakerings wat tans in die spasie is.

Hierdie is ’n sakpas manier om ’n groot verandering in jou spasie aan te bring deur eenvoudig rame verskillende skakerings te verf.

Wenk: herhaal ’n skakering minstens twee keer op jou bont fotomuur, dit laat die muur meer intensioneel lyk.

Probeer ’n fotorak

Of picture ledge soos wat dit bekend staan. Hierdie is veral ’n goeie idee as jy daarvan hou om gereeld jou fotomuur op te dateer en nie noodwendig ’n hele klomp spykers in jou mure wil inkap nie.

Ruil rame en foto’s uit soos nodig, vervang ou foto’s met nuwe foto’s en skuif gerus jou rame rond.

Wenk: Speel met verskillende groottes, vorms en hoogtes van jou rame om jou fotorakkie interessant te hou en diepte en dimensie te skep tussen die afsonderlike fotorame.

Praktiese fotogalerymuur wenke

Slim papiertruuk

Voordat jy ’n enkele spyker by jou muur inslaan, gebruik hierdie slim papiertruuk.

Trek die presiese groottes van die buitekante van al die rame wat jy wil ophang op ’n stuk bruinpapier of koerantpapier af.

Sny die “raamvorms” uit en plak dit teen die muur met wondergom.

Skuif rond soos nodig totdat jy tevrede is met jou uitleg of komposisie van jou galerymuur.

Merk dan die posisie van elke prent se haak op die papier, hierdie truuk maak die hangproses soveel makliker.

Wenk: Hou spasies tussen die rame dieselfde. Dit beteken nie jou rame hoef almal netjies in ’n ry te hang nie, maar dieselfde spasie (gaps) tussen geraamde foto’s lyk netjies en intensioneel.

Stylvol

Handige ekstra wenke en raad, spesiale afslag en wenke, slegs vir die binnekring.

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Oor ons

Stylvol sosiale media

Nog Stories
dust pink postrukt
Lentekleure vir jou huis
error: Content is protected !!