Gee jou huis ’n lentehupstoot met hierdie wenke vir ’n lentehuis. Trek oop jou gordyne, laat die lentelig inskyn en die swaar gevoel van winter verdwyn. Deur Suzanne Kotzé
6/09/2024
Vir baie van ons het die winter besonder lank gevoel en Kapenaars het ook die effek van die rekordgetal reënval gevoel. Selfs vir die van ons wat gewoonlik lief is vir winter se hygge gevoel, is ons net so keelvol vir die nat, donker, skimmel en lek soos winter se gehoes en geproes. Ons is reg om ons huise nuwe energie te gee en hoop hierdie wenke help jou.
Wenke vir ’n lentehuis
1. Trek oop jou gordyne
En laat die sonlig inskyn. Die sonlig help nie net om ons beter le laat voel nie, maar help ook om huisstofmiet dood te maak.
2. Raak ontslae van skimmel
Met die hoë reënval en langer as gewoonlike winterweer het daar dalk skimmel begin groei waar jy nie eers gedink het daar skimmel kan groei nie. Gebruik ’n bietjie witasyn in ’n sproeibottel om op die skimmel te spuit en skrop dan. As die skimmel hardnekkig is, sal jy dalk ’n paar keer moet skrop of ’n spesiale skimmel-skoonmaker moet koop (verskeie soorte beskikbaar by supermarkte). Onthou om die area soveel as moontlik lug en lig te gee.
3. Pak weg jou winterkombersies
Al daai lekker snoesige bersies vir TV-kyk en banklê-aande is waarskynlik nie nou nodig nie. Hulle gaan bloot stof opgaar. Bêre dit in ’n krat wat goed seël vir volgende winter en skaf somer ‘throws’ of ligte moeselienkombersies aan.


4. Ruil jou strooikussings uit
Die lieflike wintersteksture soos fluweel of fluweelkoord kan gerus gebêre word vir volgende winter (so voel jou wintershuis dan ook meer hygge). Dit is die ideale manier om ’n tikkie pret of patroon by jou dekor te voeg. Onthou as jy patrone meng, hou by een deurlopende kleur in jou patrone.

5. Hergroepeer dekorelemente
Kyk wat jy in jou kaste het en dink nuut oor hoe jy dit saam kan groepeer. Vervang byvoorbeeld jou koperskinkbord en swaar kerse met glas, marmer of hout of bring ’n tikkie kleur in met blompotte of kerse en mooi goed. Verander dit soos die luim jou tref.


Wenk: Gebruik gerus ‘n groot bord of plat opdienbord as skinbord om mooit goetjies saam te groepeer.



6. Blomme, o lieflike blomme!
Is dit nie heerlik om weer meer bekostigbare blomme te kan koop nie! Maak vars blomme insit deel van jou weeklikse ritueel.
Daar is wetenskaplike bewyse dat vars blomme in jou huis kan help om angs en spanning te verlig.
Lees gerus hier vir wenke om blomme te rangskik.

Skaf ook gerus kleiner enkelblom blompotjies aan wat jy deur jou huis kan gebruik om byvoorbeeld ’n enkele tuinblom of bloeisels in te sit. Dit is ideaal vir plekke soos jou bedkassies of in ’n klein gastebadkamer of jy kan selfs ’n paar saam groepeer op jou tafel.



7. Vrolike tafeldoek en servette
As jy dalk gewoonlik meer neutrale kleure verkies of ’n minimalistiese styl het, is ’n gekleurde of tafeldoek met ’n patroon ’n wonderlike manier om ’n vrolike gevoel in te bring. (Jy kan dit altyd ook by jou buitetafel gebruik as jy dit net nie oor jou hart kan kry om buite jou neutrale kleurpalet te beweeg nie.) En jy kan dit weer wegbêre en terugkeer na jou minimalistiese, neutrale palet.

8. Stileer jou dranktrollie
Of jy nou jou dranktrollie gebruik om drank op te bêre en of dit net vir mooi goedjies is, gee dit ’n lentegevoel deur ’n plantjie wat blom by te sit of mooi gekleurde coasters en glase.


9. Versorg jou potplante

Ja die winter was vir hulle ook lank. Knip dooie blare af, stof af en druk ’n stokkie in om daai plant wat so skeefgegroei het uit desperaatheid vir sonlig weer regop te hou. Verplant ook potplante wat te groot geword het vir hul potte. (Haal gerus jou potplant uit en kyk na hoe verstrengel die wortels is!)
10 Geur jou huis
Kies kerse en geurverspeiders met vars sitrus of mentgeure, dit gee glo ekstra energie. En sagte blommegeure vir jou slaapkamer of leefarea.
Op ons lente-wenslysies





