Wat is jou stylpersoonlikheid?

Het jy geweet daar is iets soos ’n stylpersoonlikheid? Ja ons weet dit is belangrik om ons lyfvorm in gedagte te hou wanneer ons klere koop, maar net so is dit ook belangrik om jou stylpersoonlikheid te verstaan en in ag te neem wanneer jy klere-inkopies doen. Ons het twee voorkomskonsultante se raad gevra: Wat is ’n stylpersoonlikheid en hoe weet ek wat is MY stylpersoonlikheid? Hieroor gaan jy beslis meer wil weet! Deur Justine Kroes

Wat is stylpersoonlikheid?

Ken jy daardie gevoel wanneer jy iets aanpas en jy weet sommer dadelik “hierdie rok is so ék!”. As jy dit al vantevore ervaar het, het jy heel moontlik ’n goeie begrip van jou stylpersoonlikheid.

Jou persoonlike styl klink dalk soos ’n term wat net fokus op jou uiterlike styl, maar dit het so baie te doen met die innerlike, jou persoonlikheid en wie jy is.

“Jou stylpersoonlikheid is ’n voorkoms wat by jou lewenstyl pas en waarin jy selfversekerd en gemaklik voel. Jou persoonlike styl word beïnvloed deur persoonlike smaak, lewensstyl en natuurlik jou persoonlikheid.”

Voorkomskonsultant Susra Matthee

Interpreteer jy dalk jou stylpersoonlikheid verkeerd?

Voorkomskonsultant Simoné Lombard sê “Ons word te maklik deur mense, modes en sosiale media beïnvloed eerder as om te dink “wag, hou EK eintlik hiervan” en “hoe voel EK as ek dit aan het?”

“Jy kan die styl van ’n ander persoon bewonder, maar in werklikheid is die styl miskien nie heeltemal geskik vir jou nie. Daarom is dit belangrik dat jy jou eie stylpersoonlikheid vind. Onthou, jou klerekas moet vir jóu werk; dit moet weerspieël wie jý is en waarin jy gemaklik voel.”

Susra Matthee
Foto: Shutterstock

Hoe vind ek my stylpersoonlikheid?

Probeer ’n aanlyn quiz

Beide Susra en Simoné beveel aan dat jy ’n aanlyn-vraelys invul wat deur ’n reeks vrae teen die einde daarvan’n stylpersoonlikheid sal identifiseer. Susra waarsku wel “Jy kan ’n aanlyn quiz doen, maar nie almal bevat die mees gepaste style nie, en jy is nie altyd seker of jy die uitkoms kan vertrou nie.”

Versamel styl fotos

Simoné stel voor: “Iets wat ek mense aanmoedig om te doen is om prentjies en foto’s van uitrustings waarvan jy hou te stoor. Na ’n ruk sal jy ’n patroon optel van dit waarvan jy hou.”

Besoek ’n stylkonsultant

Dit kan ook gedoen word met die hulp van ’n stylkonsultant, wat ook idees vir uitrustings kan voorstel wat by jou persoonlike styl en liggaamstipe pas. Kontak vir Susra (Kaapstad) of Simoné (Durban) om jou afspraak te maak!

Tipes stylpersoonlikhede

Daar is verskeie beskrywings van styl persoonlikhede daar buite maar Simoné Lombard onderskei tien verskillende styl persoonlikhede wat sy raaksien.

Klassiek

Hulle hou van tydlose items in neutrale kleure. Dink aan Kate Middleton.

Foto: Shutterstock

Elegant

Jy hou daarvan om netjies en afgerond te lyk. Jy verkies kwaliteit bo kwantiteit. Dink aan Audrey Hepburn.

Neutraal

 Jy hou nie van fieterjasies nie. Plat skoene en gemak is jou prioriteit. Dink aan Ellen DeGeneres.

Dramaties

Jy maak gebruik van bold kleure en uitspattige patrone en dramatiese bykomstighede. Almal weet wanneer jy by ’n vertrek instap. Dink aan Gwen Stefani.

Foto: Shutterstock

Vroulik

Jy is op jou gemaklikste in ’n rok. Jy hou van vroulike afrondings soos strikke, kant en frille en valle. Dink aan Taylor Swift.

Retro

Jy hou daarvan om modes van die 70’s, 80’s en 90’s na te boots. Dink aan Dita von Teese.

Boho

Jy is ’n ‘free spirit’ en hou van ’n kombinasie van organiese, kleurvolle, onkonvensionele items. Dink aan Vanessa Hudgens.

Aanloklik

Jy hou daarvan om uit te staan en om met jou kurwes te spog. Jy kies noupassende items en ’n lae hals. Dink aan Kim Kardashian.

Kreatief

Jou styl is uitspattig. Jy het ’n natuurlike eksentrieke flair. Jy kan lukrake items bymekaarsit en dit sal altyd ‘reg’ lyk. Dink aan Iris Apfel.

Rocker

Jy hou van swart, swart en nog swart. Stewels en skinny jeans maak jou wie jy is. Dink aan Courtney Love.

Fotos: Shutterstock

Jy kan meer as een stylpersoonlikheid hê!

Ja, jy kan meer as een styl hê, een styl is dalk meer toepaslik in sekere situasies as ander. “Ek vind tydens stylkonsultasies dat jy wel een of twee stylpersoonlikhede sal vind waarby jy aanklank vind”. Susra

Jy kan byvoorbeeld Klassiek-elegant wees en jy hoef nie net in een boksie te pas nie.

Die doel daarvan om jou styl persoonlikheid te verstaan is nie net om nie die verkeerde klere-aankope te doen nie maar ook om jouself beter te verstaan en te weet hoekom jy jou waarvan jy hou.

Jou stylpersoonlikheid kan met tyd verander

Jou stylpersoonlikheid is altyd besig om te ontwikkel en te groei, net soos jou persoonlikheid. Oor tyd en deur verskillende lewenservaringe sal jou stylpersoonlikheid heel moontlik verander.

“Moenie bang wees om jou styl te verander en te groei nie” Simoné

Lees ook: 10 nuutste mode-trends vir winter

Stylvol

Handige ekstra wenke en raad, spesiale afslag en wenke, slegs vir die binnekring.

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Oor ons

Stylvol sosiale media

Nog Stories
Stiliste se slim winter stileertruuks
error: Content is protected !!