Brilraam-trends plus: so werk ’n stylkonsultasie vir brille kies

Het jy al ooit gewonder of jy die regte brilraam vir jou gesigvorm kies? Hier’s hulp! Die kundige span by Spectacle World in Kaapstad help jou om ’n brilraam te kies volgens jou gesigvorm, veltoon, styl- persoonlikheid en selfs volgens jou leefstyl. Soortgelyk aan ’n voorkomskonsultant, maar net vir brille kies. Suzanne en Justine deel graag die opwindende proses, hoe dit werk en wat jy kan verwag. Ons deel ook 6 brilraam-trends vir die winter wat tans groot nuus is. Deur Justine Kroes. Fotos deur Jess Lynn Delport.

31/03/2023

Kies jou volgende brilraam so:

Jou bril trek dadelik aandag en word die fokuspunt van jou gesig dus hoort die bril wat jy dra jou gelaat, gesig struktuur en persoonlike styl te komplementeer.

Adele Camarena, eienaar van Spectacle World en haar span, word beskryf as “eyewear stylists” met kwalifikasies deur “The Eyewear Styling Academy” vanuit Londen. Die Spectacle World span bied ’n 45 minute brilraamkonsultasie aan; ’n eerste in Suid-Afrika, en ’n aanbieding wat jy nie by enige oogkundige sal vind nie.

Jou stylpersoonlikheid, kleurtipe en gesigstruktuur speel grotendeels ’n rol om die perfekte paar vir jou te vind:

Stylpersoonlikheid

Jou stylpersoonlikheid word uitgebeeld in jou klerekeuses en bykomstighede wat jy dra. Byvoorbeeld, is jy meer klassiek, romanties of het jy ’n dramatiese stylpersoonlikheid. Deur middel van ’n vraelys en vrae van die stiliste word jou stylpersoonlikheid uit die verskillende ses stylpersoonlikheidstipes vasgetel. Jou stylpersoonlikheid beklemtoon jou uniekheid.

By Spectacle World is daar ‘n brilraam vir elke stylpersoonlikheid beskikbaar.
Glo ons, ons het byna elkeen aangepas!

Jou kleurtipe

Om jou kleurtipe te vind, maak die Spectacle World span gebruik van die internasionale ‘Colour Me Beautiful’-sisteem. Die stilis sal jou vel-ondertoon, die kleur van jou oë asook die kleur van jou hare in ag neem om te bepaal watter skakering brilraam die heel beste by jou gaan pas.

Justine se skakerings
Suzanne se skakerings

Ontleding van gesigskenmerke

Deur middel van “Facial feature analysis” kan die stiliste vasstel watter grootte en vorm raam die beste by jou gesig sal pas. Daar word gekyk na die struktuur van jou wangbene en kakebeen om die breedte van jou raam te bepaal, en jou wenkbroulyn bepaal die vorm van jou raam.

Die span het ons so baie geleer, soos byvoorbeeld dat jou oë gemaklik in die middel van jou bril se lens moet sit, almal wil jou oë kan sien. Ook die “glimlagtoets”; jou raam hoort nie te beweeg as jy glimlag nie, of teen jou wange opstoot nie. Tikkies informasie waaraan ons nooit sou dink wanneer ons in die verlede rame gekies het nie.

Stylvol se ervaring:

Justine se brilraam

 Ek dra al van graad 7 af ’n bril (ek is bysiende). Vanaf Universiteit dra ek kontaklense, bloot omdat ek nooit gemaklik gevoel het met bril dra nie (eintlik omdat ek nooit gevoel het ek vind ’n raam wat by my pas nie). Ek het wel altyd ’n baie neutrale raam gekies vir saans/tuis dra, ’n “veilige” opsie omdat ek huiwerig was dat ’n uitspattige raam met my uitrusting sou bots.

Justine se “ou” bril
Justine se nuwe bril

Die proses by Spectacle World het my opnuut laat besef dat ek wel kleur naby my gesig kan dra – die lappe wat die span na aan my gesig drapeer het, het my beter laat verstaan hoekom sekere skakerings beter werk by my veltoon en ander my heeltemal uitgewas laat lyk. Toe ek hierdie groenraam bril opgesit het, kon ek nie glo hoe baie ek daarvan hou nie. Ek kan my groen by groen dra of selfs my groen bril kleurblok met ander uitrustings.

Ek dra nou al ’n rukkie die Die Unique Me rame (ek het ’n identiese raam in swart ook) en ek is werklik beïndruk met die goeie kwaliteit van die rame wat boonop wonderlik geprys is.

Suzanne se brilraam:

Soos dit maar gaan met oë van 40 plus, het ek eers net saans ’n leesbril langs my bedkassie begin hou. En toe al hoe meer ook my leesbril gedurende die dag begin dra vir wanneer ek skryf of op my rekenaar werk. Hardloop ek dan gou met die trappe af om die voordeur oop te maak vir ’n aflewering of gaan maak ek ’n koppie tee, voel ek dan heel vreemd met die bril wat nie lekker ‘sien’ nie.  Met my nuwe ‘multi-focal’ bril is dit wonderlik, want ek kan op my skerm sien (as ek effens af kyk) en normaal sien as ek opkyk of voor my uitkyk.

So ek kan my bril heeldag aanhou as ek wou. Ek hou so baie van my swart en room raam dat dit beslis ook deesdae sommer ’n mode-bykomstigheid is.

6 Brilraam winter trends

1. Kat-oog rame

Hierdie winter is die kat-oog brilraam steeds gewild. “Die opwip van die brilraam se buitehoeke gee vir enige iemand sommer dadelik ’n “facelift” verduidelik Adele Camarena. “Kat-oog brilrame beklemtoon jou wangbeenstruktuur en kan deur die meeste gesigvorms gedra word, mits die grootte van die raam en kleur jou goed pas”, is Adele se raad.

Swarovski Cat Eye:

2. 60’s geïnspireerde rame

Dink aan die gewilde Jackie-O styl brilrame van die sestigs. Hierdie oorgroot raam-styl sal jou dadelik meer glansend laat tyk – selfs al wil jy net agter hulle wegkruip! Adele sê “Die raam word gewoonlik deur die meer dramatiese stylpersoonlikhede gekies en pas veral goed by dié met ’n prominente beenstruktuur. Pasop – klein, smaller gesigvorms kan maklik verlore raak in so ’n groot bril-styl”.

3. Ovaal rame

Die ovaal brilraam is die perfekte grootte tussen oorgroot en kleiner brilrame – en is ’n gewilde keuse op die oomblik. Die brilraam se vorm pas by die meeste gesigvorms en komplementeer vierkantige, ronde, driehoekige en hartjie gesigvorms. Adele sê “Die truuk is om die ovaal brilraam te vind wat effens wyer is as die breedste gedeelte van jou gesig”.

David Green Oval

4. Minimalisties

Dun metaal brilrame is terug, en is veral gewild onder die jonger klomp. Oorgroot metaal brilrame en verskeidenheid metaal skakerings skep ’n sjiek minimalistiese voorkoms. ’n Goeie opsie vir die minimalistiese en klassieke stylpersoonlikheid.

5. Kleurvolle brilrame

Moet nie van kleur vergeet nie – van helder tot sagte kleur brilrame is steeds gewild. Die “eyewear stylists” by Spectacle World kan jou help om die perfekte skakering vir jou gelaat te vind.

6. Slim en eko-vriendelike brilraamkeuses

Tegnologie en “slim”-brille raak al hoe meer gewild, en daar is selfs nou brilrame met Bluetooth beskikbaar. Met die Bluetooth kan jy musiek luister of na Google Maps wat vir jou die regte pad aandui.

Die eko-vriendelike beweging van brilrame word al hoe meer gewild. Mense kies deesdae eko-vriendelike brilrame wat uit materiale soos bamboes of herwinbare plastiek geskep word. Plaaslike brilraam vervaardiger David Green maak selfs gebruik van bio-afbreekbare asetaat.

Indien jy jou eie brilraam konsultasie wil bespreek, kontak gerus die hulpvaardige span by Spectacle World, klik hier.

Pssst: 20% afslag vir alle Stylvol lesers, neem eenvoudig hierdie artikel as bewys van afslag.


Stylvol

Handige ekstra wenke en raad, spesiale afslag en wenke, slegs vir die binnekring.

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Oor ons

Stylvol sosiale media

Nog Stories
5 Vreemdste modetrends van die oomblik
error: Content is protected !!