Die capsule wardrobe is ’n sinvolle, sakpas en tydspaar-metode van klere-inkopies doen vir ’n meer volhoubare en veelsydige klerekas. Die idee is om te belê in ’n paar staatmakeritems waarmee jy maklik kan meng en pas vir eindelose stylopsies en uitrustings. Voorkomskonsultant en stylkenner Simone Lombard deel haar raad en wenke oor hoe om jou eie kapsuleklerekas te skep. Deur Justine Kroes en Simone Lombard
Eerstens, wat presies is ’n capsule wardrobe?
- Die capsule wardrobe is ‘n klerekas wat bestaan uit ’n versameling kledingstukke wat noukeurig uitgesoek is.
- Die kledingstukke is gewoonlik in neutrale kleure en kan as basis vir enige uitrusting dien, byvoorbeeld ’n swart broek en ’n wit T-hemp en sandale in ’n neutrale kleur.
- Die items kan oor en weer en op verskillende maniere saam gestileer word. Die moontlikhede is eindeloos en jy sal selde voel dat jy dieselfde uitrusting herhaal.
- Capsule wardrobe-kledingstukke het ’n magiese manier om vir jou ’n stylvolle en afgeronde voorkoms te gee.
- Die gedagte agter die capsule wardrobe-konsep is om meer doelbewus te wees wanneer jy klere koop en om dit wat jy in jou kas hét, te dra.
- Die items is gewoonlik tydloos en as jy in die regte kwaliteit belê, kan dit seisoene (selfs jare) hou.
“Omdat capsule wardrobe-items die basis van jou daaglikse uitrustings vorm, sal ek mense aanraai om ’n liggaamsbou-analise te doen sodat jy die regte kledingstukke koop wat jou liggaamstipe komplementeer. Jy sal die regte klere met meer selfvertroue kan koop.”
Simone Lombard
Die voordele van ’n capsule wardrobe
- Die grootste voordeel van ’n capsule wardrobe is geld- en tydsbesparing.
- Jy het meer beheer oor die klere in jou kas en sal beter besluite neem wanneer jy klere koop.
- Dit is ’n goeie manier om jouself van fast fashion te genees en sodoende neem jy omgewings-vriendeliker besluite.
Jy weet jy moet ’n capsule wardrobe bou as jy:
- Voor jou klerekas staan en dink “Ek het niks om te dra nie”, maar tog nog 50% van jou man se klerekas ook beset of,
- As jy elke oggend angstig voor jou kas staan en heeltemal oorweldig voel.
Albei is ’n teken dat jy die capsule wardrobe-konsep moet oorweeg.
Wat van modetrends?
Die grootste weerstand teen die capsule wardrobe-leefstyl is dat mense voel hulle gaan nooit weer ’n nuwe modetrend kan volg nie. Die vrees is dat hulle in ’n gat van beige, swart en wit linnemateriaal sal versink, maar dit hoef nie so te wees nie! My raad:- koop enkele sakpas trendy items, plekke soos MR Price en The Fix het gewoonlik die nuutste items teen bekostigbare pryse.
Hoeveel items het ’n mens nodig?
Insluitend klere, skoene en bykomstighede kan dit tussen 30-50 items wees, maar dis moeilik om ’n presiese getal te bepaal. Dit hang van persoon tot persoon af. Jou begroting, leefstyl en stylpersoonlikheid sal die presiese hoeveelheid bepaal.
As jy ’n neutrale stylpersoonlikheid het sal jy dalk 30 items hê, maar ’n kreatiewe/dramatiese stylpersoonlkheid sal dalk 50 (dalk meer) items hê.
Watter soort items het ’n mens die nodigste?
Die items is gewoonlik kledingstukke in wit/room, swart en donkerblou (navy) omdat dié kleure by die meeste velkleure werk.
Hier is ’n paar idees vir ’n winter capsule wardrobe:
Bostukke
T-hemde (swart, wit, navy, gestreep)
Klassieke wit kraaghemp
Blou-en-wit gestreepte kraaghemp
’n Neutrale bloes
’n Bloes met ’n patroon
Polonek(swart, wit, navy, gestreep)
’n Trui in ’n neutrale kleur
Baadjies
’n Jas van jou keuse;
Leerbaadjie;
Denimbaadjie;
Trench-jas;
Swart baadjie
Onderstukke
Jeans in ’n ligte kleur – informeel
Jeans in ’n donker kleur – formeel
Swart en ligte bruin broeke
Wyepyp broek
Potloodromp
Romp met ’n patroon
Rokke
LBD ‘swart rok(kie)’ (dalk ‘n swart eenstuk as rokke nie jou ding is nie)
Winterrok
Skoene
Wit tekkies
Kniehoogte-stewels
Enkelstewels
Neutrale plat skoene soos loafers of Oxford-styl skoene
Swart en neutrale kleur hakskoene
Begin so:
- Bepaal jou stylpersoonlikheid en hoe jou klere by jou leefstyl moet inpas.
- Hou ’n dagboek (foto’s!) van wat jy 30 dae lank dra – jy sal duidelik sien waarvan jy hou.
- ‘Detoks’ jou kas, skenk klere aan liefdadigheid of verkoop dit op Yaga!
- Bepaal dan watter capsule wardrobe-items jy nog benodig, maak ’n lys, begroot en koop die items stelselmatig oor ’n tydperk aan.
- Onthou om in goeie kwaliteit-items te belê.
- ’n Goeie idee vir wanneer jou capsule wardrobe ‘gebou’ is, is om die verskillende uitrustingsopsies voor die tyd af te neem en vir inspirasie byderhand te hou.
Simone Lombard is ‘n stylkenner en voorkomskonsultant – bespreek jou styl analise met Simone by haggard.simone@gmail.com en volg haar op Instagram hier.
Lees ook: Katinka se 5 moet-hê winter mode-items