Baie van ons probeer om ‘groener’ besluite te maak – volhoubare kruideniers-inkopies, herwinbare produkte gebruik en selfs krag en water spaar, maar het jy geweet jy kan daarby ’n omgewings- vriendelike klerekas ontwikkel en volhoubare modekeuses maak. Lees 7 wenke vir ’n volhoubare klerekas. Deur Justine Kroes
15/04/2022
Hoeveel kos ons klerekaste die omgewing?
As jy al die koste van jou klere, skoene en bykomstighede in jou klerekas optel sal jy dalk geskok wees oor die eindtotaal in geldwaarde, daar is ook wel ’n koste van elke hemp, broek, rok en paar skoene waarvoor die aarde en omgewing ’n reuse prys betaal – maar hierdie koste word min of soms nooit raakgesien nie.
In ’n artikel deur worldbank.org word hierdie skokkende syfers bekendgemaak – dit neem ongeveer 3,781liter water om EEN paar denims te maak. Dit is nou vanaf produksie van die katoen tot die aflewering van die finale produk by die winkel. Nou praat ons nie eers van energie-verbruik nie.
Dit is belangrik dat elkeen van ons drasties na ons klerekoop gewoontes oplet en dit aanspreek. Hier is doenbare wenke om die bal aan die rol te kry!
1. Koop plaaslik
Meer as ooit het plaaslike besighede ons hulp nodig. Nie net is hulle klere nie in oormaat geproduseer nie (mass production) maar die kanse dat jy met dieselfde uitrusting as iemand anders by ’n geleentheid gaan opdaag is skraal.
Die meeste plaaslike ontwerpers gebruik volhoubare materiale en produkte wat natuurlik ook beter is vir die omgewing.
2. Koop goeie kwaliteit stapelitems
Om goeie gehalte kledingstukke van duursame materiale te koop, beteken dat jou klere heel moontlik langer sal hou as sintetiese materiaalontwerpe.
Moet ook nie die krag van ’n kapsuleklerekas onderskat nie. Maak goeie, sinvolle besluite wanneer jy ’n kapsuleklerekas bou. So koop jy minder, maar slimmer.
Lees hier oor als wat jy moet weet om jy eie kapsuleklerekas te bou:
3. Koop tweedehandse klere
Daar is deesdae so baie maniere om tweedehands klere te koop, jy kan ure lank in thrift in vintage winkels rondkyk om skatte te vind. Of deesdae kan jy selfs aanlyn tweedehandse klere koop – op apps soos Yaga of selfs Instagram. Hier is ’n paar gunstelinge
Rolanda Marais verkoop klere tweedehands
“My verhouding met klere is ’n bietjie soos my menslike verhoudings. Dit moet integriteit hê en volhoubaar wees. Goeie kwaliteit materiaal en indien moontlik, ’n leeftyd kan hou sodat ek saam my stories en lewe kan deel.”
Rolanda Marais
Baie van my klere kom al van jare gelede waar ek dit in ’n ander land ge-thrift het of op ’n spesiale tyd in my lewe gekoop het of van my ouma of ma geërf het.
Die ‘aanpass’ van klere is vir my baie betekenisvol. Dit kom met ’n geskiedenis en storie. Ek sal mense aanraai om kwaliteit kledingstukke aan te koop, verkieslik van plaaslike ontwerpers, of eerste prys, as mens ’n goeie klassieke kledingstuk tweedehands kan kry. Loer hier vir Rolanda se tweedehandse klere Instagram blad @takemebackbyrolanda
Ek het begin om my eie klere wat ek nie meer dra nie te verkoop, en dan weer by ander tweedehandse winkels te koop as ek lus is vir iets nuuts. Ek sal beslis elke nou en dan ’n item koop wat hoogmode is, maar ek hou maar verby by die meeste van die ‘fast fashion’ lokvalle.
Lees ook Rolanda Marais vintage inspirasie:
2 Brunettes on a Budget
Twee vriendinne Lente Swift en Margaux van den Berg, albei modeliefhebbers het besluit om op Instagram ’n besigheid te begin waar hul tweedehandse klere teen ’n sakpasprys verkoop. Lente en Margaux speel model vir hul kliente se items – en as jy van iets hou laat jy ’n eenvoudig ’n “sold!” comment om jou kopie vas te stel.
“#recycleisthenewsexy want álmal wen! Ons een, kosbare aarde wen, die persoon wat haar kas uitgooi wen spasie én geld vir items wat sy eintlik wil hê, en die een wat iets fabulous koop vir ’n fraksie van die oorspronklike prys, wen natuurlik óók. What is not to love?”
2 Brunettes on a Budget
Klik hier om te loer en jou eerste kopie te maak.
Yaga
Die aanlynwinkel of app (wat ookal jy verkies om te gebruik) Yaga is ’n platform waar gebruikers hul tweedehandse klere kan koop of verkoop. Jy kan jou eie profiel skep, fotos, pryse en groottes van jou klere oplaai en kopers kan dan deur die webtuiste aankope maak. Die geld van die transaksie word veilig in die Yaga “wallet” gehou totdat die kledingstuk by sy nuwe eienaar arriveer, en sal daarna uitbetaal word. As jy verkoop kan jy besluit of jy die geld vir gebruik op Yaga om items te koop of jy kan kies dat die geld aan jou uitbetaal word. Klik hier om jou eerste Yaga kopie te maak.
4. Klere-uitruil partytjies
Wat is nou meer pret as ’n klere-uitruil partytjie met jou vriendinne – ’n goeie verskoning om by mekaar uit te kom.
Laat elke persoon wat bywoon 5 tot 10 goeie gehalte kledingstukke saambring om uit te ruil. Trek lootjies en laat almal in volgorde toe om klere te kies om te hou. Maak dit pret met sjampanje, versnaperings en goeie geselskap!
5. Huur dit!
Voel jy ook skuldig om jou duur spesiale geleentheidsuitrusting agter in jou donker kas te hang? Te veel geleenthede, te min uitrustings en geld! Om nuwes aan te skaf (ons ken daai!). Style Rotate se huur-’n-uitrusting-per-geleentheid-konsep is jou antwoord. Volhoubaar, bekostigbaar en stylvol – dit tik al die regte boksies vir ons!
So werk dit:
- Style Rotate het uitrustings van groottes ses tot 24 om van te kus en keur.
- Kliënte kan uitrustings huur vir troues, formele geleenthede, verjaarsdae of selfs net belangrike vergaderings – daar is ’n paar “power” pakke wat perfek is hiervoor!
- Die diens werk aanlyn, kliënte kan Style Rotate se webtuiste besoek en ’n uitrusting kies op ’n 4-dag kalender periode.
- Huurpryse wissel van R350 tot R1 099 afhangend van die rok. Hou in gedagte, jy huur ontwerper items!
- Style Rotate sorg vir die aflewering, verpakking en droogskoonmaak van elke item.
- Pas tuis aan – as jy nie tevrede is met hoe die rok pas nie, sal Style Rotate jou huurkoste sonder vrae terug betaal (minus die afleweringsfooi).
- As jy in die Kaap-area woon, kan jy ’n afspraak maak om rokke aan te pas ingeval jy wil dubbel seker maak van die grootte, styl of snit.
- Jy kan jou uitrusting tot ses maande vooruit bespreek, ingeval jy bekommerd is iemand anders boek jou gunsteling item uit.
- Aflewering is landwyd beskikbaar.
6. Verstel jou klere
In plaas daarvan om stukkende, te groot of te klein klere uit te gooi, vind ’n goeie kleremaker wat verstellings kan maak. Jy sal verbaas wees hoe baie klere jy weer sal kan dra. Moet ook nie bang wees vir “upcycling” nie, verander jou maksiromp in ’n midi- of mini-weergawe of maak ’n kortbroek uit daardie ou paar denims agter in jou kas.
Me & B het sopas ’n nuwe inisiatief begin genoem “revive” waar jy enige van hul klere wat jy by hul gekoop het kan laat verstel. Hetsy dit nou knope aanwerk, gaatjies regmaak, korter of kleiner maak is.
ME&B verduidelik – “Ons probeer so volhoubaar as moontlik met ons ontwerpe wees, en “revive” is ons nuutste poging om selfs meer volhoubaarheid na te streef”.
Klik eenvoudig en verduidelik wat jy graag verstel wil he, en jou kledingstuk sal teen R50 tot R150 (afhangend van dit wat jy gedoen wil hê) by jou voordeur opgelaai word, verstel en weer afgelaai word. Klik hier om meer te leer.
7. Moet nie uitgooi nie, skenk eerder
Om klere wat net in jou klerekas hang wat nooit gedra word nie, te skenk, gee die geleenthied vir ander om meer volhoubare keuses te maak. Volg die een in een uit metode om die proses aan die gang te kry. Wanneer jy ’n nuwe kledingstuk koop – skenk een kledingstuk wat jy nie meer dra nie. Jy maak plek in jou klerekas en stadig maar seker word jou klerekoop metodes so ook meer volhoubaar.
As jy onseker is waar om jou klere te skenk, hier is ’n paar idees van klere skenk inisiatiewe deur winkels en boetieks wat die proses vir jou vergemaklik.
H&M
In 2013 het H&M met hul “garment collection” program begin, en het in 2020 alleen 18,800 ton ongewenste klere wêreldwyd versamel – dit is gelyk aan 94 miljoen T-hemde.
Maak so gebruik van die “garment collection” inisiatief by H&M: Neem enige ongewenste klere of tekstiele (klere en skoene) na ’n H&M naby jou, dit hoef nie H&M klere te wees nie. Die klere kan in enige toestand wees. Daar is herwinbare bokse in elke winkel beskikbaar, plaas die klere wat jy wil skenk in die boks en die kassier sal vir jou ’n 15% afslag koopbewys gee wat jy op jou volgende inkopie by H&M kan gebruik.
Al die klere wat aan H&M geskenk word, afhangend van die toestand, of gebruik as tweedehandse klere, herbruik as skoonmaaklappe of herwin in tekstiele vir insulasie of vir gebruik in die motorindustrie.
Lees meer oor die program hier.
Nicci Boutique
Jy kan enige van jou klere-items wat jy graag wil skenk neem na ’n Nicci Boutique naby jou. Nicci Boutique in samewerking met CATRICE Cosmetics gaan al die klere skenk aan die Women4Women Foundation (lees meer hier). Neem jou klere voor of op die 25ste April na ’n Nicci Boutique winkel naby jou – loer hier om een op te spoor.
Therapy
Aandag Kapenaars – skenk ook enige van jou klere by THERAPY Boutique (284 Main Road Kenilworth). Die klere word geskenk aan Vintage with Love wat tweedehandse klere verkoop om fondse in te samel vir opvoedkunde en geletterdheid in kinders van minder bevoorregte areas. Skenk ook direk aan Vintage With Love hier.
Bron: Worldbank.org