Nadia Beukes; So het ek my persoonlike styl weer gevind

“Ons as Mammas staan baie keer laaste in die ry, ons sal gewoonlik winkels toe gaan om vir ons self iets te kry maar dan met iets vir die kinders terugkeer. Soms moet ’n mens jouself ook eerste stel, you cannot pour from an empty cup.” So vertel aktrise en aanbieder Nadia Beukes. Nadia het, met behulp van ’n stylkenner ’n klerekas-detoks ondergaan en daardeur opnuut besef wat haar persoonlike styl is en hoe om dit te omhels.

Lees meer oor Nadia Beukes se ervaring met stylkenner Madeline Rossouw van Curated Style en wat sy deur die klerekas-detoksproses geleer het. Madeline deel ook daarby haar beste klerekaswenke. Saamgestel deur Justine Kroes

24/03/2023

Nadia Beukes en Madeline Rossouw van Curated Style. Foto Littish Swarts

Hoekom Nadia Beukes ’n Wardrobe Detox nodig gehad het:

Nadia verduidelik “Die afgelope 5 jaar het ek tussendeur ’n vryskutloopbaan die voorreg gehad om die meeste van my tyd saam met my kinders deur te bring. Van swanger wees na borsvoed, na weer swanger wees en weer borsvoed, het ek ’n baie spesifieke klerestyl gehad, meestal fuksioneel, gemaklik met baie rek-ruimte”.

Ek word ook gereeld deur ander mense aangetrek en gestileer, daarom is dit nogal ’n uitdaging vir my om te weet wat ek self moet aantrek.

Met my twee mannetjies nou onderskeidelik twee en vier jaar oud, beweeg ek in ’n nuwe seisoen van Ma-wees in.

Daarmee saam het ek onlangs my 40ste verjaarsdag gevier en voel dit ook soos ’n nuwe seisoen van menswees wat ek met ope arms wil aangryp – daar mos word gesê: “life begins at 40”- so ek is opgewonde oor al die avonture wat op my wag.

Ek het onlangs ’n Wardrobe Masterclass bygewoon wat aangebied is deur Madeline van Curated Style.

Die werkswinkel was wonderlik, verfrissend, insiggewend en het my baie laat nadink oor my persoonlike styl. Madeline se “workbook” gee praktiese wenke oor die hoe, wat en waar as dit kom by jou styl, styl-items en klerekas-beplanning.

Foto: Littish Swarts

Madeline bied ook een-tot-een sessies aanlyn of in persoon aan en help jou dan om dit wat jy in die werkswinkel geleer het, in jou kas (en lewe) toe te pas. Ek het na baie oorweging die moed bymekaar geskraap om na aanleiding van die werkswinkel so ’n een-tot-een sessie met Madeline vas te maak. Ek was heel op my senuwees oor die proses maar het besluit dit was tyd vir ’n belegging in myself.

So werk dit:

My Wardrobe Detox was ’n twee-dag proses. Ek en Madeline het eers elke item in my kas bekyk en besluit wat ’n plek in my kas verdien.

Ons het stelselmatig bepaal waarvan ek regtig hou, wat mooi by my lyf en lewe pas en wat vir my sal werk in die seisoen waarin ek myself tans bevind.

Ons het daarna plek gemaak in my kas deur klere wat nie reg is vir my nie uit te haal, en ’n lys gemaak van dit wat ek eintlik nodig het, of regtig graag sal wil hê – ’n tipe wenslysie wat my beslis sal help om voortaan beter besluite te maak as dit kom by klere aanskaf en uitrustings beplan.

My klerekas-sessie was op die ou-einde soveel meer as net klere uitsorteer, dit het my gehelp om te bepaal waar ek myself in hierdie seisoen van my lewe bevind.

Dit het ek geleer deur die proses:

  1. Die meeste klere en modes hou nie vir ewig nie – dra jou klere!
  2. Meer klere maak dit nie makliker om te weet wat om aan te trek nie. As jy minder het waarvan jy regtig hou, gaan jy meer dra daaruit kry.
  3. Dink mooi voor jy geld spandeer aan klere, belê eerder in tydlose items wat vir jou en jou kas werk en voeg dan seisoenaal meer “trendy” items by.
  4. Jou styl, liggaamsbou en lewe is uniek, jou klere is ’n weerspieëling van die mooi wat jy reeds binne jou dra – dra dit met trots in jou uitrustings ook. Jy mag maar mooi lyk, en belangriker selfs as dit, mooi voel.
  5. Moenie vaskyk in spesifieke groottes nie, verskillende winkels en handelsmerke gebruik verskillende maatstawwe – dra wat jou pas en waarin jy gemaklik en mooi voel.
  6. Ek dink hierdie kasbeplanning het my baie gehelp om my eie styl te identifiseer en selfvertroue te kry in dit wat ek wil aantrek.
  7. Ouderdom, en jean sizes is net ’n nommer – embrace your number, live your life, and love yourself.

Stylkenner Madeline Rossouw gee raad:

“Ons almal was al oorweldig met frustrasie wanneer ons soggens voor ons klerekaste staan en nie weet wat om aan te trek nie, dis ’n hengse gesukkel tussen wat pas en wat bymekaar pas, en boonop is daar nie tyd om iets ordentlik te soek nie.

Ons gryp ’n paar items op pad in by Woolworths se kosafdeling en kort voor lank, is die frustrasie erger. Daar’s massas klere en niks praat met mekaar nie. So hou die siklus aan en die frustrasie raak groter en groter. Maar daar is hoop! Ek en my prosesse bring hoop,” verduidelik Madeline.

Madeline Rossouw van Curated Style

Madeline se proses en wenke:

1. Vermy vir eers die winkel – fokus eerstens op dit wat jy het:

Begin in jou bestaande kas (en nie in die winkels nie!) Dis vir baie van ons as ma’s die enigste plek in die hele huishouding wat nét ons s’n is. Die onus berus op jou om dit vir jou ’n goed deurdinkte, mooi en georganiseerde plek van kalmte te maak.

2. Sorteer volgens seisoen

Hou slegs een seisoen se klere in jou kas. Gebruik plastiek kratte, of mandjies en jou spaarkamer se kaste om daardie “buite-seisoen” klere te stoor. Dis baie makliker om slegs per seisoen se klere in jou kas te hou. Sekere items kan reg deur die jaar in jou kas bly, soos bv jou denimbaadjie.

3. Groepeer klere bymekaar

Skei jou slaapklere, oefenklere en swemklere van die dele van jou kas waar jy elke dag moet aantrek. Ek hou daarvan om ’n laaikas te gebruik vir hierdie items. Een laai vir onderklere, een vir slaap- en een vir swemklere werk gewoonlik goed.

Foto Littish Swarts

4. Organiseer volgens kleur

Organiseer jou klerekas volgens kleurgroepe en nie volgens item-tipe nie. Dit wil sê al jou blou tops, truie, jeans en langmou T-hemde kom almal bymekaar. Doen dit met ál die kleurgroepe in jou kas. Jy leer vinnig deur te sien te sien watter kleure oorheers in jou kas en aan watter kleure, dalk jou gunstelinge, kan jy uitbou. Dit maak dit ook baie makliker om aan te trek. Alles in ’n kleurgroep hang bymekaar, jy trek eenvoudig net aan!

5. Verhouding is belangrik

Dit is baie belangrik om ’n sterk klerekas-fondasie te hê. Vir elke 30 neutrale “wardrobe basics” (van wit, room, beige, ivoor, sand, tan en taupe regdeur tot grys, charcoal en swart) kan jy ongeveer 15 items van kleur, patroon en tekstuur toelaat. Om jou kas in verhouding van 2/3s tot 1/3e te bestuur, maak regtig die wêreld se verskil wanneer dit by makliker aantrek kom.

6. Kwaliteit bo kwantiteit

Spandeer jou geld om die goeie kwaliteit, fondasie-items per seisoen, eerste aan te skaf. Hulle vorm deel van elke uitrusting wat jy daagliks moet aantrek.

7. Maak ‘n lysie

Maak ’n deeglike lysie van wat jy nodig het wanneer jy jou seisoene ruil en doen moeite om spesifiek na een item op ’n slag in die winkels te soek. Pas aan en probeer nuwe style. Jy mag dalk net pragtig lyk in ’n high-rise broek, al het jy gedink dit werk nie by jou nie.

Foto Littish Swarts

Kontak vir Madeline van Curated Style om meer uit te vind oor haar handige werkboeke, “masterclass” aanbiedinge asook om meer uit te vind oor Madeline se een-tot-een stylsessies. Klik hier. Volg ook vir Madeline op sosiale media hier.

Volg oog vir Nadia Beukes op Instagram hier en op Facebook hier.

Stylvol

Handige ekstra wenke en raad, spesiale afslag en wenke, slegs vir die binnekring.

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Oor ons

Stylvol sosiale media

Nog Stories
6 Wenke vir pajamas kies plus winterslaapklere op ons wenslysie
error: Content is protected !!