Jy het nie altyd nuwe klere nodig om meer stylvol te lyk nie. Soms gaan dit eenvoudig oor hoe jy jou klere dra, stileer en afrond.
Ons jare in die modewêreld het ons al ’n hele klompie stileertruuks geleer wat ons gereeld gebruik om selfs die mees eenvoudige uitrusting meer interessant en modieus laat lyk. Hier is 10 moeitelose stileerwenke en truuks vir ’n afgeronde, stylvolle voorkoms. Deur Suzanne Kotze & Justine Kroes
10 Stileerwenke en styltruuks om nou te probeer
1. Dra die regte grootte
Oorgroot klere sal dalk al jou figuurfoute wegsteek, maar dit sal jou beslis groter laat lyk as wat jy werklik is. Vierkantige en losspassende klere is net vleiend as jy die balansreël toepas, byvoorbeeld as jou hemp lospassend is, dra ’n noupypbroek daarby. Om proporsies te balanseer.
Die teenoorgestelde is natuurlik ook waar, klere wat te styf pas, voel nie net ongemaklik nie maar is dalk nie die vleiendste styl vir jou nie en sal moontlik areas beklemtoon wat jy eerder wil wegsteek.
2. Definieer jou middel
Hierdie stileertruuk is een van die maklikste maniere om blitsvinnig slanker te lyk. Om ’n gordel om jou middel te bind, trek dadelik die oë na die kleinste gedeelte van jou ligggaam toe. Dit skep definisie, balans en vorm in enige uitrusting.

Jy hoef ook nie altyd die gordel deur die lussies te ryg as dit nie is waar jou “true waist” sit nie, ons almal se lengtes, proporsies en lyfvorms is so verskillend van mekaar. Die truuk is om die kleinste gedeelte rondom jou middel te vind en die gordel daar vas te bind.
Een van ons gunsteling manier om ’n middel te definieer is om ’n leergordel rondom jou middel bo-oor ’n winterjas of blazer baadjie te dra. Ons dink dit verhef dadelik ’n uitrusting. Dit is ook ’n maklike manier om ou jasse of ou baadjies nuwe, stylvolle lewens te gee.
3. Rol jou moue op
Om blitsig vinnig meer afgerond te lyk, rol daardie moue op. Nie net jou kraaghemde nie, maar ook jou T-hemde, baadjies en jasse. Dit gee enige uitrusting ’n moeitelose voorkoms.

Onthou, rol jou moue op tot die keinste gedeelte van jou middel, dit vestig aandag hier en beklemtoon jou middel en het ’n verslankende effek.
Rol jou moue op, dat die lyn van jou moue jou nie tref waar jy die breedste lyk nie. So kan jy ook ’n bietjie vel, of ’n mooi armband of horlosie wys.
4. Steek jou hemp in!
Iets eenvoudig soos om jou hemp in steek kan jou dadelik meer afgerond laat lyk. Doen byvoorbeeld die French Tuck as jy jou hemp steeds oor jou boude wil laat afhang, hier steek jy net die voorpunt van jou bloes in.

Of steek eenvoudig net in een kant in (die side tuck), as jy selfbewus voel oor jou maag.

’n Full tuck lyk natuurlik ook netjies en rond jou voorkoms mooi af.

5. Werk slim met bykomstighede
Onthou, daar waar jy die bykomstighede dra of plaas, is waar die oë sal vestig, gebruik dit tot jou voordeel! Met dit in gedagte, dink nuut oor die gebruik van jou bykomstighede:

As jy ’n groter borsmaat het wat jy graag wil versag, kies dan eerder halssnoere wat langer is, dit trek weer oë afwaarts en en verleng die décolleté-area.
As jy byvoorbeeld ’n groter onderlyf het, trek aandag en oë opwaarts deur ’n helder of bonkige halssnoer om jou nek te dra.
As jy petite gebou is en jy dra ’n reuse oorgroot handsak, laat jy jouself selfs nog kleiner lyk. Die teenoorgestelde is ook waar, vroue wat langer en groter gebou is wat ’n piepklein handsakkie dra, kan hul nog groter laat lyk. Kies eerder ’n handsak wat proporsioneel is teenoor jou liggaamsbou, lengte en gewig.

Selfs die gebruik van ’n serpie of cardigan om jou skouers gebind kan die proporsies van jou uitrusting balanseer, soos wanneer jy ’n wyepyp broek aan die onderkant dra.
6. Probeer ’n monokroom uitrusting
Om een kleur van kop tot tone te dra, skep ’n visuele vertikale lyn wat jou langer en slanker laat lyk, en meer as dit lyk dit altyd moeiteloos sjiek.

Dit is geheim vir wanneer ons nie weet wat om aan te trek nie, maar steeds ’n stylvolle stelling wil maak.
Moet nie net een plat skakering aantrek nie, speel met verskillende skakerings van die hoof skakering en dra ook verskillende teksture in hierdie skakering. Dalk deursigtige materiale, of ’n satynhemp en ’n leerromp in dieselfde kleurfamilie.
Die verskillende teksture skep diepte, dimensie en ’n bietjie interessantheid in jou uitrusting.
7. Belê in goeie onderklere
’n Goeie uitrusting begin met die regte basis.
Dit is beslis die moeite werd om deur professionele kenners jou bra mates te laat neem.
Koop eerder minder bra’s wat perfek pas as ’n klomp wat nie reg sit nie.

Baie van ons dra ’n bra wat te los om die lyf sit, met koppies wat te klein is. As jou bandjies in jou skouers insny, kan dit ’n teken wees dat jou bra nie die regte ondersteuning bied nie. Die band om jou lyf behoort die meeste van die ondersteuning te gee, nie die bandjies nie.
Besoek ’n spesialis-brawinkel en laat jou behoorlik meet. Jy sal verbaas wees oor die verskil wat die regte grootte maak.
Lees ook hier vir meer informasie: https://stylvol.co.za/15-foute-wat-vroue-met-n-groter-borsmaat-maak-en-oplossings/
8. Let op waar jou baadjie eindig
Vermy baadjies, hemde en bloese wat presies op die breedste deel van jou lyf eindig. ’n Soom wat effens hoër of laer eindig, kan ’n baie meer vleiende silhoeët op jou lyfvorm skep.
9. Gee aandag aan jou skoene
Dink aan jou hele uitrusting wanneer jy jou skoene kies.
Byvoorbeeld wanneer jy ’n wyepyp denim dra, is die geheim is om nie nóg volume by ’n reeds wyepyp-silhoeët te voeg nie. Kies eerder ’n slanker tekkie, ’n puntskoen of ’n smal (narrow) loafer.

’n Wenk wat ons graag deel; puntskoene verleng die visuele lyn van jou bene en kan jou bene langer laat vertoon wat ’n verslankende effek het.
Dan die belangrikste, een wat baie van ons vergeet, kyk af na jou skoene toe voor jy by die deur uitstap, as hulle merkies op het of vuil lyk, vee dit skoon.
10. Verfris jou stapelitems
Vervang jou basiese items wanneer nodig. Daar is min dinge wat ’n uitrusting so vinnig kan laat onnet lyk soos ’n wit T-hemp wat nie eintlik meer wit is nie. ’n Kraakvars wit T-hemp byvoorbeeld maak ’n wêreld se verskil aan jou voorkoms.
Dieselfde geld vir jou handsak en leesbril. Jou ou leerhandsak vol watervlekke of ’n verouderde brilraam kan jou hele voorkoms oudmodies of onnet laat lyk.

Dit is gewoonlik hierdie klein details wat ’n uitrusting duurder, gepoleerd en meer afgerond laat lyk.





