grimeerwenke vir vroue bo veertig
grimeerwenke vir vroue bo veertig

17 beste grimeerwenke vir vroue bo veertig

Stylvol en twee van ons gunsteling-grimeerkunstenaars, Algria Ferreira en Reneé de Wit (wat self in die ouderdomsgroep val) gee grimeerwenke vir vroue bo veertig. Deur Suzanne Kotzé

09/03/2023

Baie jare gelede, (nog lank voor ek die veertigs betree het) het ek ’n onderhoud gedoen met die bekende grimeerkunstenaar Bobbi Brown tydens die New York Fashion Week. Een van haar grimeerreëls was dat vroue nie swart oogomlyner aan die binnekant van hulle onderste lid moet gebruik nie. Skaars dertig (en toe baie lief vir smokey eyes) was dit nie ’n reël wat ek verstaan het nie. Maar noudat ek ouer as veertig is, verstaan ek dit (en baie van haar ander wenke) maar te goed. Soos ons ouer word, begin alles hang, en oë (en lippe) lyk beslis kleiner. Hier is ’n paar grimeerwenke wat ek oor die jare geleer het. En Stylvol-vriendinne en grimeerkunstenaars Algria Ferreira en Reneé de Wit deel ook van hulle beste wenke.

Grimeerwenke vir vroue bo veertig

Onderlaag

1. Minder is meer

Algria Ferreira is self nie ’n liefhebber van onderlaag nie en dra sonskerm asof dit onderlaag is. “Indien ek wel onderlaag moet dra sal ek Westman  Atelier se Vital Skindrops kies. Ek sou dit geensins as onderlaag bestempel nie, maar eerder as ’n omgee velproduk wat veltoon eweredig maak.”

Westman-Atelier-skin-drops
Westman Atelier Vital Skincare Complexion Drops (R1 780, skins.co.za)

2. Voeg ’n druppel serum by jou onderlaag

Renee-de-Wit
“Hierdie gee ’n pragtig glans,” is Reneé de Witt se raad.

3. Kleurkorrigeer met CC room

“Baie vroue sukkel met vel wat rooier lyk soos ons ouer word. Dit is die gevolg van jare se se sonblootstelling en vel wat dunner word (en fyn aartjies wat dan deurskyn.) ’n CC room wat kleur korrigeer (dus ook vel minder rooi laat lyk), sonskerm bevat en dekking gee, is ’n goeie keuse vir elke dag se dra.” Suzanne

Chanel Complete Correction SPF 50 Cream (R1 290, Woolworths) is my gunsteling om te gebruik.

Onderoog-verbloemer

4. Liggies werk

Pasop om nie verbloemer te dik aan te wend nie, want dit kan in jou plooitjies gaan lê en dit beklemtoon. Reneé de Wit is juis hierom nie ’n aanhanger van verbloemer onder jou oë nie. Sy sê: “As jy wel verbloemer onder jou oë aanwend, maak seker jy sit so tien minute voordat jy met grimering begin, oogroom lekker dik aan.”

5. Moenie van jou binne- en buitehoeke vergeet nie

“Die binneholtes van ons oë lyk dikwels meer ingesonke. Baie vroue wend verbloemer onder hulle oë aan, maar vergeet van die binnehoeke. Dit laat dit nog donkerder/meer ingesonke lyk. Die buitehoeke van jou oë kan weer rooierig wees, en ook hierdie deel word soms vergeet.” Suzanne

6. Vermy poeier onder jou oë

“Gebruik eerder ’n sneesdoekie om oortollige produk mee op te klad,” is Renée se raad.

7. Kies die regte onderoog-verbloemer

Algria sê: Maybelline Instage Age Eraser Concealer (R219,95) is goedkoop en wonderlik om skadus onder die oë vinnig weg te toor.

Westman Atelier Vital Skin Foundation Stick (R1 490, skins.co.za) werk ook baie goed om skadu’s onder die oë te verdoesel. Dit komplementeer die Skindrops (sien nommer 1) baie goed.

Wenkbroue

8. Kleur vir grys wenkbroue

“Gebruik ’n gekleurde wenkbrou-maskara om grys hare in jou wenkbroue weg te steek. (Moet hulle nie uittrek nie, wat jou wenkbroue word klaar yler soos jy ouer word!). Jy kan dit ook  oorweeg om jou wenkbroue te laat kleur (die meeste skoonheidsalonne doen dit). Wees net versigtig om dit te donker te kleur, anders lyk dit hard en onnatuurlik. Baie vroue kies ligter haarkleure soos hul ouer word, maar pas dan nie hulle wenkbrou-kleur nie hierby aan nie.” Suzanne

9. Vul jou wenkbroue in

“Soos bo genoem, wees versigtig om jou wenkbroue te donker te maak. Gebruik veerligte haaltjies, asof jy klein haartjies teken. Lig die punt van jou wenkbrou effens op, moet dit nie afwaarts laat gaan nie, anders laat dit jou oogarea hangerig lyk.” Suzanne

10.Roomblossers lyk jeugdig

Algria Ferreira

“Om roomblosser langer te laat aanbly, kan jy ’n poeierblosser liggies oor die room aanwend,” sê Algria.

Fenty Beauty Cream Blush (R510, arcstore.co.za) is van Algria se gunsteling roomblossers om te gebruik.

11. Langaanbly lipstiffie op jou wange

“Gebruik langaanbly lipstiffie op jou wange as blosser. Tik ’n bietjie lipbalsem bo-oor vir ekstra glans,” is ’n oulike wenk van Renée.

12. Roomoogskadu smeer maklik aan

En is minder geneig om in jou plooie te val. Algria glo ook dat vroue van alle ouderdom blink subtiel kan gebruik. Jy hoef nie noodwending net mat oogskadu te dra as jy bo veertig is nie. Maar let wel sy verwys na ‘n blink tekstuur en nie na ‘glitter’ nie. Sy wend graag ‘n bietjie blink in die binneste hoeke van die oë aan. Die roomoogskadu waarsonder Algria nooit is nie, is:

Bobbi Brown Long-Wear Cream Shadow Stick (R650, Woolworths).
Laura Mercier Caviar Stick for eyes (vanaf R910, skins.co.za)

Laura Mercier Caviar Stick for eyes (vanaf R910, skins.co.za)

Charlotte Tilbury Eyes to Mesmerise cream cream colourpots (die champagne kleur is fantasties).

Sisley ombre éclat liquide (R850, sisley-paris.com) is ’n nuwe Stylvolgunsteling. Die skakering 3 Pink Gold gee so ’n mooi glans, en een lagie lyk baie natuurlik glansend, terwyl twee of drie lagies meer sigbaar is.

13. Oogpotlood is ’n moet

Pasop vir swart oogpotlood, want dit kan jou oë hard en kleiner laat lyk. “Die oogpotlood wat ’n moet vir elke vrou is, is Mac Eye Khol in Teddy (R370, maccosmetics.co.za) ,” sê Algria.

14. ‘Ongedoende lippe’

Algria hou van lippe wat lyk alsof dit te veel  en te lank gesoen is  (undone mouth). “Dit is die heel mooiste lip vir enige ouderdom. Tik bessiekleurige roomblossser in die middel van jou lippe aan.”

Vir ekstra glans gebruik Algria Dior Lip Glow Oil of

Maybelline Lifter Gloss Lip Gloss with Hyaluronic Acid (R138, superbalist)

15. Maskara wat volume gee en nie smeer nie

Mens sukkel klaar genoeg met donker kringe soos jy ouer word, ons wil dit nie nog meer beklemtoon met maskara wat smeer nie.

Clarins WonderPerfect Macara 4 D (R465 is ’n Stylvol-gunsteling)

Lees meer hier: 6 Beste makarawenke

16. Bevogtig jou lippe voordat jy met grimering begin.

Gebruik ’n produk wat jou lippe bevogtig/en of tydelik opplomp voordat jy met jou grimering begin, om dit kans te gee om te begin werk. Suzanne

Een van my gunstelinge op die oomblik is Filorga Nutri-Filler Lips (R469, skinmiles.co.za).

17. Keer dat jou grimering in jou plooie sit

“Verhoed dat grimering in jou plooie sit deur ’n grimeersponsie nat te spuit met fixing spray (WBeauty Makeup Setting Spray R160) en dit dan liggies oor jou vel te ‘stipple’,” sê Renée. 

Stylvol

Handige ekstra wenke en raad, spesiale afslag en wenke, slegs vir die binnekring.

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Oor ons

Stylvol sosiale media

Nog Stories
wenkbroue
Wat is wenkbroulaminering en hoe werk dit?
error: Content is protected !!