Daar is min dinge wat jou selfvertroue so ’n hupstoot gee soos bonsende hare as jy uit die salon uitstap. Haarstilis Charles Junior Louw deel sy salondroogblaaswenke vir volume. Deur Suzanne Kotzé
Salondroogblaaswenke vir volume
Realisties gaan ons dit nooit so perfek soos by die salon kry nie, want ons moet immers agter ons koppe werk, maar dit is belis die probeer werd.
1. Druk jou hare droog met ‘n mikrovesel handdoek voor jy begin.
Druipnat hare neem te lank om droog te word. Moenie jou hare met ’n handdoek hardhanding droogvryf nie, want dit kan koeke veroorsaak. Gebruik eerder ’n mikrovesel handdoek om dit liggies droog te druk en om jou kop te draai.
2. Begin met nat, nie halfdroog hare nie.
Moenie jou hare halfdroog laat word as jy wil volume kry nie. Begin vanaf nat (maar nie druipnat nie). Die posisie waarin jou hare droogword, is hoe dit bly. So as jy dit halfdroog laat word terwyl dit net regaf/plat hang, is dit hoe dit gaan bly.
3. Moenie die voorpunt van jou haardroeër afhaal nie
Baie mense haal hulle nozzle af, maar dit is ongelooflik belangrik om dit aan te hou, wat dit laat die lug in die regte rigting blaas. Anders gaan jy sukkel met kroes, want jou hare word in alle rigtings geblaas.
4. Die rigting waarin jy blaas is belangrik

Die voorpunt van jou haardroër moet afwys, sodat jy saam met jou borsel blaas sodat dit in dieselfde rigting as jou haarvliesies is. Dit help dat hare nie kroes nie, en ook blinker lyk.
5. Die lug moet warm genoeg wees
Stel jou haardroër op warm.
6. Te veel produkte kan jou hare swaar maak
Afhangend van jou haartipe kan te veel stileerprodukte jou hare te swaar maak, veral as jy fyn hare het. ’n Hittebeskermende inbly-opknapper is ’n moet en dan of ’n stileer produk wat volume gee, glad of blink maak, ahangend van jou behoefte.
7. Seksies moet nie groter as 3 cm wees nie

Baie mense gebruik te groot seksies hare, dit moenie groter as 3cm wees nie.
8. Trek jou hare op en verander dan rigting

Die truuk vir volume is om eers jou hare op te trek vir volume en die hare teen jou kopvel so droog te blaas todat dit goed droog en ook gelug is.

Dan verander jy van rigting om jou haarpunte droog te blaas; reguit, borsel na voor of agter gedraai afhangend van die rigting waarin jy wil hê jou punte moet gaan.
So een seksie het twee stappe 1. Lug teen die kopvel en 2. Dan die punte.
9. Diagonale rigting vir die voorstukke langs jou gesig
Hou jou borsel diagonaal vir die stukke teen jou gesig sodat dit hare wegwip langs jou gesig en jou gesig raam. As jy meer van ’n Hollywood-effek verkies, draai jou borsel in.
10. Afkoel is belangrik

As jou hare afkoel, hou dit sy vorm beter. Jy het nou vorm geskep met hitte, en deur dit te laat afkoel in die posisie hou dit dit beter. As jy haastig is, los jou borsel net so teen jou kopvel vir ’n rukkie.

As jy meer tyd het, rol die seksies hare soos jy dit klaar drooggeblaas het, en steek dit vas met krokodilknippies.
My wenk: Ek doen eers my hare, en dan my grimering en los my hare so in die knippies todat ek klaar gegrimeer en aangetrek is. Soms ry ek selfs so en haal die knippies uit net voordat ek uit die kar klim.
11. Velcro rollers werk goed
Koop vir jou velcro rollers, en rol jou seksies hare in. Los dit minstens 15 minute in nadat jy jou hare klaar drooggeblaas het.

12. Haarsproei 30cm weg

Hou haarsproei minstens 30cm weg sodat net die die mis oor jou rollers of ‘krulknippies’ val. As jy die haarsproei te naby aanspuit, maak dit jou hare taai en hard.
13. Haal uit en borsel liggies
Haal die rollers of knippies uit en borsel jou hare liggies en moenie weer hitte op sit nie.
14. Speel rond met jou paadjie
Deur jou paadjies die heeltyd dieselfde rigting te dra, leer jy hou hare om op ’n seker manier te lê. Gooi bietjie jou paadjie na die ander rigting en kyk hoeveel meer volume jy het.
15. Tem wegvlieghaartjies
Gebruik ’n klein bietjie serum of ligte olie op jou vingerpunte, of ’n bietjie haarsproei op jou kam om van die klein wegvlieghaartjies ontslae te raak.










